Spring na inhoud

Hoekom word Jesus die Seun van God genoem?

Hoekom word Jesus die Seun van God genoem?

Die Bybel se antwoord

 Die Bybel noem Jesus dikwels “die Seun van God” (Johannes 1:49). Die woorde “Seun van God” erken dat God die Skepper, of Bron, van alle lewe is, insluitende Jesus se lewe (Psalm 36:9; Openbaring 4:11). Die Bybel leer nie dat God letterlik die pa van ’n kind geword het op dieselfde manier as wat mense kinders voortbring nie.

 Die Bybel noem ook die engele “seuns van die ware God” (Job 1:6). En die Bybel sê dat die eerste mens, Adam, ’n “seun van God” was (Lukas 3:38). Maar omdat Jesus God se eerste skepping is en die enigste een is wat direk deur hom geskep is, beskryf die Bybel Jesus as die belangrikste Seun van God.

 Het Jesus in die hemel gelewe voordat hy op die aarde gebore is?

 Ja. Jesus was ’n geesskepsel in die hemel voordat hy as ’n mens op die aarde gebore is. Jesus het self gesê: “Ek het uit die hemel neergedaal.” – Johannes 6:38; 8:23.

 God het Jesus geskep voordat hy enigiets anders geskep het. Die Bybel sê die volgende oor Jesus:

  •   “Hy is . . . die eersgeborene van die hele skepping.” – Kolossense 1:15.

  •   Hy is “die begin van die skepping deur God”. – Openbaring 3:14.

 Jesus het die profesie vervul oor die een “wie se oorsprong uit die vroeë tye is, uit die dae van onbepaalde tyd”. – Miga 5:2; Matteus 2:4-6.

 Wat het Jesus gedoen voordat hy aarde toe gekom het?

 Hy het ’n hoë posisie in die hemel gehad. Jesus het na hierdie posisie verwys toe hy gebid het: “Vader, verheerlik my . . . met die heerlikheid wat ek naas u gehad het voordat die wêreld was.” – Johannes 17:5.

 Hy het sy Vader gehelp om alle ander dinge te skep. Jesus het saam met God as “’n meesterwerker” gewerk (Spreuke 8:30). Die Bybel sê die volgende oor Jesus: “Deur middel van hom is alle ander dinge in die hemele en op die aarde geskep.” – Kolossense 1:16.

 God het deur middel van Jesus alle ander dinge geskep. Hierdie skepping sluit al die ander geesskepsele in, sowel as die fisiese heelal (Openbaring 5:11). In sekere opsigte kan hierdie samewerking tussen God en Jesus vergelyk word met ’n argitek wat saam met ’n bouer werk. Die argitek teken die ontwerp; die bouer volg dan die ontwerp om die gebou te bou.

 Hy was die Woord. Wanneer die Bybel Jesus se voormenslike lewe beskryf, noem dit hom “die Woord” (Johannes 1:1). Dit beteken heel moontlik dat God sy Seun gebruik het om inligting en instruksies aan ander geesskepsele oor te dra.

 Dit lyk ook asof Jesus namens God met mense op die aarde gepraat het. God het moontlik deur Jesus as die Woord met Adam en Eva in die tuin van Eden gepraat toe hy vir hulle instruksies gegee het (Genesis 2:16, 17). Jesus was dalk die engel wat die Israeliete in die ou tyd deur die wildernis gelei het, en dit was dalk sy stem wat die Israeliete moes gehoorsaam het. – Eksodus 23:20-23. a

a Die Woord is nie die enigste engel deur wie God gepraat het nie. Byvoorbeeld, hy het nie net sy Eersgeborene gebruik nie, maar ook ander engeleseuns om sy Wet aan die Israeliete in die ou tyd te gee. – Handelinge 7:53; Galasiërs 3:19; Hebreërs 2:2, 3.