Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Gee ag op God se wonderlike werke

Gee ag op God se wonderlike werke

Gee ag op God se wonderlike werke

“Baie dinge het u gedoen, O Jehovah my God, ja, u wonderlike werke en u gedagtes teenoor ons; niemand kan met u vergelyk word nie.”—PSALM 40:5, NW.

1, 2. Watter bewyse het ons van God se wonderlike werke, en wat moet dit ons beweeg om te doen?

 WANNEER jy die Bybel lees, kan jy maklik sien dat God wonderlike dinge vir sy eertydse volk, Israel, gedoen het (Josua 3:5; Psalm 106:7, 21, 22). Selfs al gryp Jehovah nie vandag op dié manier in menslike aangeleenthede in nie, vind ons rondom ons oorvloedige bewyse van sy wonderlike werke. Ons het dus rede om saam met die psalmis te sê: “Hoe talryk is u werke, o HERE! U het hulle almal met wysheid gemaak; die aarde is vol van u skepsele!”—Psalm 104:24; 148:1-5.

2 Vandag ignoreer of verwerp baie mense sulke duidelike bewyse van die Skepper se werke (Romeine 1:20). Maar dit sal goed wees as ons daaroor nadink en besef wat ons posisie voor ons Maker asook ons plig teenoor hom is. Job hoofstukke 38 tot 41 is uitstekend in dié verband om ons te help, want daar het Jehovah Job se aandag gevestig op sekere aspekte van Sy wonderlike werke. Kyk byvoorbeeld na ’n paar geldige argumente wat God genoem het.

Kragtige en wonderlike werke

3. Oor watter werke het God vrae gestel, soos in Job 38:22, 23, 25-29 opgeteken staan?

3 God het op een stadium vir Job gevra: “Het jy gekom by die skatkamers van die sneeu? En het jy die skatkamers van die hael gesien, wat Ek opgespaar het vir die tyd van benoudheid, vir die dag van stryd en oorlog?” In baie dele van ons aarde is sneeu en hael ’n deel van die lewe. God het verder gevra: “Wie het ’n kanaal gesplyt vir die stortvloed en ’n pad vir die onweerstraal; om te laat reën op ’n land waar geen mens is nie, op ’n woestyn waar niemand woon nie; om woestheid en verwoesting te versadig en op die groeiplek jong gras te laat uitspruit? Het die reën ’n vader? Of wie verwek die doudruppels? Uit wie se moederskoot kom die ys te voorskyn? En die ryp van die hemel—wie baar dit?”—Job 38:22, 23, 25-29.

4-6. In watter sin is die mens se kennis van sneeu gebrekkig?

4 Party wat ’n gejaagde lewe lei en wat moet reis, beskou sneeu dalk bloot as ’n hindernis. Maar vir baie ander is sneeu ’n genot, wat in die winter ’n wonderwêreld skep met geleenthede vir spesiale bedrywighede. Het jy, as jy aan God se vraag dink, diepgaande kennis van sneeu, selfs van hoe dit lyk? Ja, ons weet hoe ’n massa sneeu lyk, miskien omdat ons foto’s van sneeubanke gesien het of self baie sneeu gesien het. Maar wat van individuele sneeuvlokkies? Weet jy hoe dit lyk, moontlik omdat jy dit by die oorsprong ondersoek het?

5 Party mense het al dekades lank sneeuvlokkies bestudeer en gefotografeer. ’n Sneeuvlokkie kan uit honderd delikate yskristalle met ’n verskeidenheid pragtige ontwerpe bestaan. Die boek Atmosphere sê: “Die eindelose verskeidenheid sneeuvlokkies is ongelooflik, en hoewel wetenskaplikes volhou dat geen natuurwet verhinder dat hulle gedupliseer word nie, is twee identiese vlokkies nog nooit gevind nie. Een grootskaalse ondersoek is deur . . . Wilson A. Bentley gedoen, wat sneeuvlokkies meer as 40 jaar lank met behulp van ’n mikroskoop ondersoek en gefotografeer het sonder om twee te vind wat presies dieselfde is.” En selfs al sou twee vlokkies, in ’n seldsame geval, dieselfde lyk, sou dit werklik verander aan die wonder van die verstommende verskeidenheid sneeuvlokkies?

6 Onthou God se vraag: “Het jy gekom by die skatkamers van die sneeu?” Baie dink aan wolke as die skatkamers van sneeu. Kan jy jou voorstel dat jy na so ’n skatkamer gaan om ’n lys te maak van die oneindige verskeidenheid sneeuvlokkies en om die oorsprong daarvan te bestudeer? ’n Wetenskapensiklopedie sê: “Die aard en oorsprong van die yskerne, wat nodig is om wolkdruppeltjies teen temperature van ongeveer -40°C te laat vries, is nog steeds nie duidelik nie.”—Psalm 147:16, 17; Jesaja 55:9, 10.

7. Hoe omvattend is die mens se kennis van reën?

7 Of wat van reën? God het Job gevra: “Het die reën ’n vader? Of wie verwek die doudruppels?” Dieselfde wetenskapensiklopedie sê: “Omdat atmosferiese bewegings so kompleks is en die waterdampinhoud en die aantal deeltjies in die lug so geweldig veranderlik is, lyk dit onmoontlik om ’n uitvoerige, algemene teorie op te stel oor die manier waarop wolke en neerslag vorm.” Eenvoudiger gestel, wetenskaplikes het uitvoerige teorieë opgestel, maar hulle kan nie werklik ten volle verduidelik wat reën is nie. En tog weet jy dat die lewensbelangrike reën neerval en dat dit ons aarde natmaak, plante aan die lewe hou en lewe moontlik en aangenaam maak.

8. Waarom is Paulus se woorde in Handelinge 14:17 gepas?

8 Sal jy nie saamstem met die gevolgtrekking wat die apostel Paulus gemaak het nie? Hy het ander aangespoor om in hierdie wonderlike werke getuienis te sien van die Een wat hierdie dinge doen. Paulus het van Jehovah God gesê: ‘Hy het homself nie sonder getuienis gelaat nie deurdat hy goed gedoen het deur vir julle reëns uit die hemel en vrugbare tye te gee en julle harte geheel en al met voedsel en vrolikheid te vul.’—Handelinge 14:17; Psalm 147:8.

9. Hoe weerspieël God se wonderlike werke sy groot krag?

9 Dit ly geen twyfel dat die Een wat sulke wonderlike en nuttige werke doen, oneindige wysheid en ontsaglike krag het nie. Wat sy krag betref, dink hieraan: Daar is na bewering ongeveer 45 000 donderstorms elke dag, meer as 16 miljoen per jaar. Dit beteken dat daar op hierdie oomblik sowat 2 000 plaasvind. Die komplekse wolke van een donderstorm bevat soveel energie as tien of meer van die kernbomme wat in die Tweede Wêreldoorlog gebruik is. Jy sien ’n deel van daardie energie in die vorm van weerlig. Behalwe dat dit ontsagwekkend is, help weerligstrale in werklikheid om vorme van stikstof te vervaardig wat die grond bereik en as natuurlike bemesting deur plante geabsorbeer word. Weerlig is dus sigbare energie, maar dit bring ook ware voordele mee.—Psalm 104:14, 15.

Watter uitwerking het dit op jou?

10. Hoe sal jy die vrae in Job 38:33-38 beantwoord?

10 Stel jou voor hoe Job gevoel het toe hy deur die almagtige God ondervra is. Jy sal waarskynlik saamstem dat die meeste mense maar min aandag aan God se wonderlike werke skenk. Jehovah vra ons die vrae wat in Job 38:33-38 opgeteken staan. “Ken jy die wette van die hemel? Of kan jy sy heerskappy oor die aarde bestel? Kan jy jou stem na die wolke verhef, sodat ’n oorvloed van water jou oordek? Kan jy die bliksems uitstuur, sodat hulle heengaan en vir jou sê: Hier is ons! Wie het wysheid neergelê in die wolke? Of wie het verstand gegee aan die wolkgevaarte? Wie kan die wolke met wysheid tel? En die watersakke van die hemel—wie giet hulle leeg wanneer die stof saamvloei tot ’n stuk gietwerk en die kluite aanmekaar klewe?”

11, 12. Wat is ’n paar dinge wat bewys dat God die Een is wat wonderlike werke doen?

11 Ons het maar net ’n paar punte aangeroer wat Elihu vir Job genoem het, en ons het na sommige van die vrae gekyk wat Jehovah Job gevra het om “soos ’n man” te antwoord (Job 38:3). Ons sê “sommige”, want in hoofstukke 38 en 39 het God die aandag op ander opmerkenswaardige aspekte van die skepping gevestig. Byvoorbeeld, die sterrebeelde van die hemel. Wie ken al hulle wette? (Job 38:31-33). Jehovah het Job se aandag gevestig op sommige van die diere—die leeu en die kraai, die steenbok en die wilde-esel, die buffel en die volstruis, die perd en die adelaar. God het Job in werklikheid gevra of hy aan hierdie diere hulle eienskappe gegee het en of hulle lewe en voorspoed aan hom te danke is. Jy sal dit moontlik geniet om hierdie hoofstukke te bestudeer, veral as jy lief is vir perde of ander diere.—Psalm 50:10, 11.

12 Jy kan ook Job hoofstukke 40 en 41 ondersoek, waar Jehovah Job weer eens gevra het om vrae oor twee spesifieke diere te beantwoord. Dit is die enorme seekoei met sy ontsaglike krag en die gevaarlike Nylkrokodil. Elkeen is op sy eie manier ’n skeppingswonder wat ons aandag verdien. Kom ons kyk nou na die gevolgtrekkings wat ons moet maak.

13. Watter uitwerking het God se vrae op Job gehad, en hoe behoort dit ons te raak?

13 Job hoofstuk 42 wys vir ons watter uitwerking God se vrae op Job gehad het. Vroeër het Job te veel aandag aan homself en ander gegee. Maar Job het die teregwysing wat in God se vrae vervat was, aanvaar en sy denke verander. Hy het erken: “Ek het te wete gekom dat u [Jehovah] alles kan doen, en daar is geen idee wat vir u onbereikbaar is nie. ‘Wie is dit wat raad verduister sonder kennis?’ Daarom het ek gepraat, maar sonder om begrip te hê van dinge wat vir my te wonderbaar is, wat ek nie weet nie” (Job 42:2, 3, NW). Ja, nadat Job ag gegee het op God se werke, het hy gesê dat dit te wonderbaar vir hom was. Nadat ons hierdie skeppingswonders ondersoek het, behoort God se wysheid en krag ons ook met ontsag te vervul. Met watter doel? Is dit bloot sodat ons beïndruk kan wees met Jehovah se ontsaglike krag en vermoë? Of behoort dit ons verder te beweeg?

14. Hoe het Dawid op God se wonderlike werke gereageer?

14 Wel, in Psalm 86 vind ons verwante uitdrukkings wat deur Dawid gebruik is, wat in ’n vroeër psalm gesê het: “Die hemele vertel die eer van God, en die uitspansel verkondig die werk van sy hande. Die een dag stort vir die ander ’n boodskap uit, en die een nag kondig vir die ander kennis aan” (Psalm 19:2, 3). Maar Dawid het verder gegaan. In Psalm 86:10, 11 (NW) lees ons: “Want u is groot en doen wonderbare dinge; u is God, u alleen. Onderrig my, o Jehovah, aangaande u weg. Ek sal in u waarheid wandel. Verenig my hart om u naam te vrees.” Dawid se ontsag vir die Skepper weens al Sy wonderbare werke het ’n gepaste mate van eerbiedige vrees ingesluit. ’n Mens kan die rede hiervoor verstaan. Dawid wou nie die Een mishaag wat hierdie wonderlike werke kon verrig nie. En ons moet ook nie.

15. Waarom was Dawid se eerbiedige vrees vir God gepas?

15 Dawid het ongetwyfeld besef dat God, wat geweldige krag besit en onder sy beheer het, dit ook kan gebruik teen enigiemand wat sy guns nie waardig is nie. Vir hulle is dit ’n gevaarlike situasie. God het Job gevra: “Het jy gekom by die skatkamers van die sneeu? En het jy die skatkamers van die hael gesien, wat Ek opgespaar het vir die tyd van benoudheid, vir die dag van stryd en oorlog?” Sneeu, hael, reënstorms, wind en weerlig is alles as ’t ware in God se arsenaal. En watter ontsaglike natuurkragte is dit tog!—Job 38:22, 23.

16, 17. Wat lig die ontsagwekkende krag van God toe, en hoe het hy hierdie krag in die verlede gebruik?

16 Jy onthou waarskynlik die een of ander plaaslike ramp wat deur een van hierdie kragte veroorsaak is—’n orkaan, tifoon, sikloon, haelstorm of skielike vloed. Ter toeligting: Teen die einde van 1999 het ’n geweldige storm die suidwestelike deel van Europa getref. Dit het selfs weerkundiges onkant gevang. Stormwinde het 200 kilometer per uur bereik en duisende dakke afgeruk, elektriese kragmaste platgevee en vragmotors omgekeer. Probeer jou die volgende toneel voorstel: Daardie storm het ongeveer 270 miljoen bome ontwortel of gebreek—10 000 in die park van Versailles, buite Parys, alleen. Miljoene huise was sonder elektrisiteit. Amper 100 mense het omgekom. Dit alles in ’n betreklike kort tydjie. Watter krag tog!

17 ’n Mens noem storms dalk onverwagse, onbeplande, onbeheerde gebeurtenisse. Maar wat kan gebeur as die Almagtige, wat wonderbare werke doen, hierdie kragte wel op ’n beheerde, doelgerigte manier gebruik? Hy het so iets in Abraham se tyd gedoen, wat toe uitgevind het dat die Regter van die ganse aarde ag gegee het op die goddeloosheid van twee stede, Sodom en Gomorra. Hulle was so verdorwe dat die klaaggeroep oor hulle opgegaan het na God, wat al die regverdiges gehelp het om uit die veroordeelde stede weg te kom. Die verslag sê: “En die HERE het swawel en vuur . . . laat reën van die HERE uit die hemel” oor daardie stede. Dit was ’n wonderbare werk, naamlik om die regverdiges te bewaar en die verstokte goddeloses te vernietig.—Genesis 19:24.

18. Na watter wonderlike dinge verwys Jesaja hoofstuk 25?

18 Op ’n latere stadium het God ’n regterlike beslissing voltrek teen die eertydse stad Babilon, wat moontlik die stad is waarna Jesaja hoofstuk 25 verwys. God het voorspel dat ’n stad ’n puinhoop sou word: “U het van ’n stad ’n hoop klippe gemaak, van ’n versterkte vesting ’n puinhoop; ’n paleis van vreemdes, dat dit geen stad meer is nie; vir ewig sal dit nie herbou word nie” (Jesaja 25:2). Hedendaagse besoekers aan die ruïnes van Babilon kan hierdie feit bevestig. Was Babilon se vernietiging blote toeval? Nee. Ons kan eerder Jesaja se woorde aanvaar: “O Jehovah, u is my God. Ek verhef u, ek prys u naam, want u het wonderlike dinge gedoen, besluite uit die vroeë tye, in getrouheid, in betroubaarheid.”—Jesaja 25:1NW.

Wonderlike werke in die toekoms

19, 20. Watter vervulling van Jesaja 25:6-8 kan ons verwag?

19 God het die voorgenoemde profesie in die verlede vervul, en hy sal in die toekoms op wonderbare wyse optree. In hierdie konteks, waar Jesaja van “wonderlike dinge” van God praat, vind ons ’n betroubare profesie wat nog vervul moet word, net soos die oordeel oor Babilon voltrek is. Watter ‘wonderlike ding’ word belowe? Jesaja 25:6 sê: “Die HERE van die leërskare sal op hierdie berg vir al die volke berei ’n maaltyd van vetspyse, ’n maaltyd van ou wyn, van vetspyse vol murg, van gesuiwerde ou wyn.”

20 Daardie profesie sal beslis vervul word in God se beloofde nuwe wêreld wat op hande is. Dan sal die mensdom vry wees van die probleme waaronder soveel nou gebuk gaan. Trouens, die profesie in Jesaja 25:7, 8 waarborg dat God sy skeppingskrag sal gebruik om een van die wonderlikste werke van alle tye te doen: “Hy sal die dood vir ewig vernietig, en die Here HERE sal die trane van alle aangesigte afvee; en Hy sal die smaad van sy volk van die hele aarde af wegneem; want die HERE het dit gespreek.” Die apostel Paulus het later daardie gedeelte aangehaal en toegepas op die tyd wanneer God die dooies lewend sal maak, wanneer hy die dooies ’n opstanding sal gee. Wat ’n wonderlike werk sal dit tog wees!—1 Korintiërs 15:51-54.

21. Watter wonderlike werke sal God vir die dooies doen?

21 Nog ’n rede waarom trane van droefheid sal verdwyn, is omdat mense se fisiese kwale verwyder sal word. Toe Jesus op aarde was, het hy baie mense genees—hy het die blindes laat sien, die dowes laat hoor, die gebreklikes genees. Johannes 5:5-9 vertel hoe hy ’n man genees het wat 38 jaar lank verlam was. Dié wat dit gesien het, het gedink dat dit iets wonderliks, ’n wonderwerk, was. En dit was ook! Maar Jesus het vir hulle gesê dat dit wonderliker sal wees wanneer hy die dooies opwek: “Moet julle nie hieroor verwonder nie, want die uur kom waarin almal wat in die gedenkgrafte is sy stem sal hoor en sal uitkom, dié wat goeie dinge gedoen het tot ’n opstanding van die lewe.”—Johannes 5:28, 29.

22. Waarom kan dié wat behoeftig en ellendig is, vol vertroue na die toekoms uitsien?

22 Dit sal beslis plaasvind, want Jehovah is die een wat dit belowe. Ons kan daarvan seker wees dat die resultate wonderlik sal wees wanneer hy sy groot herstellingskrag op doelgerigte wyse inspan. Psalm 72 verduidelik wat hy deur middel van sy Koning-Seun sal doen. Dan sal die regverdige bloei. Vrede sal oorvloedig wees. God sal diegene verlos wat behoeftig en ellendig is. Hy belowe: “Mag daar volheid van koring wees in die land, op die top van die berge; mag die vrug daarvan ruis soos die [eertydse] Libanon; en mag hulle bloei uit die stad soos die plante van die aarde!”—Psalm 72:16.

23. Wat moet God se wonderlike werke ons beweeg om te doen?

23 Ons het beslis rede om op Jehovah se wonderlike werke ag te gee—die dinge wat hy in die verlede gedoen het, wat hy vandag doen en wat hy in die nabye toekoms gaan doen. “Mag Jehovah God, Israel se God, geloof word, wat alleen wonderlike werke doen. En mag sy heerlike naam tot onbepaalde tyd geloof word, en laat sy heerlikheid die hele aarde vul. Amen en Amen” (Psalm 72:18, 19, NW). Ons behoort gereeld entoesiasties hieroor te praat met familielede en ander. Ja, laat ons “onder die nasies sy heerlikheid bekend [maak], onder al die volke sy wonderlike werke”.—Psalm 78:3, 4; 96:3, 4NW.

Hoe sal jy antwoord?

• Hoe beklemtoon die vrae wat aan Job gestel is, die beperkte kennis van mense?

• Watter voorbeelde van God se wonderlike werke, waarop Job hoofstukke 37-41 die aandag vestig, het jou beïndruk?

• Hoe moet ons reageer noudat ons na ’n paar van God se wonderlike werke gekyk het?

[Studievrae]

[Prente op bladsy 10]

Tot watter gevolgtrekking kom jy wanneer jy dink aan die verstommende verskeidenheid sneeuvlokkies en die ontsagwekkende krag van weerlig?

[Erkenning]

snowcrystals.net

[Prente op bladsy 13]

Laat ons gereeld oor God se wonderlike werke praat