Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

DIE BYBEL SE BESKOUING

Lyding

Lyding

Party mense voel dat God menselyding veroorsaak of dat hy nie omgee dat ons ly nie. Maar is dit wat die Bybel leer? Die antwoord sal jou dalk verbaas.

Veroorsaak God dat ons ly?

“Ja waarlik, God handel nie goddeloos nie.”Job 34:12.

WAT MENSE SÊ

Party mense sê dat alles wat gebeur, God se wil is. Daarom glo hulle dat God lyding veroorsaak. Wanneer natuurrampe byvoorbeeld plaasvind, dink hulle dat hierdie gebeure God se manier is om mense wat gesondig het, te straf.

WAT DIE BYBEL SÊ

Die Bybel toon duidelik dat God nie lyding veroorsaak nie. Wanneer ons byvoorbeeld beproewinge deurmaak, is dit volgens die Bybel verkeerd om te sê: “Ek word deur God beproef.” Waarom? Want “met bose dinge kan God nie beproef word nie, en ook beproef hy self niemand nie” (Jakobus 1:13). Met ander woorde, God veroorsaak nooit die beproewinge wat ons deurmaak of die lyding wat daarop volg nie. Dit sou goddeloos wees om dit te doen, maar die Bybel sê: “God handel nie goddeloos nie.”—Job 34:12.

As God nie lyding veroorsaak nie, wie of wat veroorsaak dit dan? Ongelukkig ly mense dikwels weens die onvolmaaktheid van ander mense (Prediker 8:9). Of ons word dalk deur rampspoed getref as gevolg van “onvoorsiene gebeurtenisse”—dit wil sê omdat ons op die verkeerde tyd op die verkeerde plek is (Prediker 9:11). Die Bybel leer dat “die heerser van hierdie wêreld”, Satan die Duiwel, in werklikheid vir menselyding verantwoordelik is, want “die hele wêreld lê in die mag van die bose” (Johannes 12:31; 1 Johannes 5:19). Dit is Satan—nie God nie—wat veroorsaak dat mense ly.

Is God besorg oor die feit dat ons ly?

“In al hulle benoudheid het dit vir hom benoudheid veroorsaak.” Jesaja 63:9.

WAT MENSE SÊ

Party mense dink dat God nie besorg is oor die beproewinge wat ons deurmaak nie. Byvoorbeeld, volgens een skrywer lyk dit asof God nie meegevoel met ons het wanneer ons ly nie. Hierdie skrywer redeneer dat God, as hy bestaan, sekerlik koud en afsydig teenoor die mens staan.

WAT DIE BYBEL SÊ

Die Bybel beeld God glad nie as ’n koue of afsydige persoon uit nie. Dit leer eerder dat dit God baie hartseer maak wanneer ons ly—en dat hy binnekort ’n einde aan lyding gaan maak. Kyk na drie vertroostende waarhede wat in die Bybel gevind kan word.

God is bewus van ons lyding. Reg van die begin van menselyding af het Jehovah *, wie se “stralende oë” alles sien, elke liewe traan raakgesien (Psalm 11:4; 56:8). Byvoorbeeld, toe God se eertydse aanbidders onderdruk was, het hy gesê: “Ek het ongetwyfeld die ellende gesien van my volk.” Maar was hy net vaagweg bewus van hulle pyn? Nee, want hy het bygevoeg: “Ek weet goed watter pyn hulle ly” (Eksodus 3:7). Baie mense vind dit vertroostend net om van hierdie waarheid te weet—die gedagte dat God bewus is van al ons lyding, selfs die beproewinge waarvan ander nie bewus is of ten volle verstaan nie.—Psalm 31:7; Spreuke 14:10.

God het medelye met ons wanneer ons ly. Jehovah God is nie net van menselyding bewus nie, maar word ook diep daardeur geraak. Dit het God byvoorbeeld werklik ontstel toe sy eertydse aanbidders beproewinge deurgemaak het. “In al hulle benoudheid het dit vir hom benoudheid veroorsaak”, sê die Bybel (Jesaja 63:9). Hoewel God ver verhewe bo die mens is, het hy empatie vir diegene wat ly—asof hulle pyn in sy hart is! Ja, “Jehovah [is] baie medelydend en barmhartig” (Jakobus 5:11, voetnoot in NW). Wat meer is, Jehovah help ons om lyding te verduur.—Filippense 4:12, 13.

God sal ’n einde maak aan alle menselyding. Volgens die Bybel sal God die lyding van elke persoon op aarde tot ’n einde bring. Deur middel van sy hemelse Koninkryk sal Jehovah die toestand van die mens grootliks verbeter. Aangaande daardie tyd belowe die Bybel: “[God] sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en angsgeroep en pyn sal daar nie meer wees nie. Die vorige dinge het verbygegaan” (Openbaring 21:4). Wat van diegene wat reeds gesterf het? God sal hulle hier op die aarde opwek sodat hulle ook ’n lewe sonder lyding kan geniet (Johannes 5:28, 29). Sal enigiemand geteister word deur pynlike herinneringe van dinge wat in die verlede gebeur het? Nee, want Jehovah belowe: “Die vorige dinge sal nie onthou word nie, en ook sal dit nie in die hart opkom nie.”—Jesaja 65:17. *

^ par. 13 Jehovah is die naam van God soos dit in die Bybel geopenbaar word.

^ par. 15 As jy wil weet waarom God lyding ’n tyd lank toegelaat het en hoe hy ’n einde daaraan sal maak, sien hoofstukke 8 en 11 van die boek Wat leer die Bybel werklik?, uitgegee deur Jehovah se Getuies.