Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Ek weier om oor my siekte te tob”

“Ek weier om oor my siekte te tob”

“Ek moes gehelp word om in die bed te klim en uit die bed op te staan. Dit was pynlik om te loop. My keel het so toegetrek dat ek nie my pynpille kon sluk nie. Ek het sere gekry wat nie gesond wou word nie, en party is later deur gangreen aangetas. Ek het maagsere en hewige sooibrand gehad. Ek het nie verstaan wat met my gebeur nie. Ek was maar net tien jaar oud.”—Elisa.

Ondanks Elisa se beperkings geniet sy dit om ander van die Bybel te leer

SKLERODERMA—wat “harde vel” beteken—is ’n woord wat gebruik word om siektes te beskryf wat ongeveer 2,5 miljoen mense regoor die wêreld raak. Die soort wat die meeste by kinders voorkom, word beperkte skleroderma genoem, wat hoofsaaklik behels dat die velweefsel verhard.

Maar Elisa is op tienjarige ouderdom gediagnoseer met ’n vorm van verspreide skleroderma—’n toestand wat nie net ’n ernstige uitwerking op die vel het nie, maar ook op die funksionering van interne organe, insluitende die niere, hart, longe en spysverteringskanaal. Die dokters het gedink dat behandeling Elisa se lewe met net vyf jaar sou verleng. Nou, sowat 14 jaar later, lewe sy nog steeds. Hoewel sy nie genees is nie, behou sy ’n positiewe gesindheid oor die lewe. Ontwaak! het met Elisa gesels oor haar siekte en wat haar die krag gee om te volhard.

 Wanneer het jy die eerste keer besef dat jy siek is?

Toe ek nege jaar oud was, het ek ’n sny op my elmboog gekry wat verskriklik seer was. Die wond het groter geword, en dit wou nie gesond word nie. ’n Bloedtoets het getoon dat ek verspreide skleroderma het. Omdat my gesondheid vinnig agteruitgegaan het, moes ons ’n dokter vind wat ervaring gehad het in die behandeling van skleroderma.

Het julle toe ’n dokter gevind?

Ja, ons het ’n rumatoloog gevind. Sy het vir my ouers gesê dat chemoterapie die skleroderma kan vertraag en my lewe met vyf jaar kan verleng en dat my siekte moontlik in remissie sal gaan. Die nadeel was dat chemoterapie my immuunstelsel sou verswak. Selfs ’n verkoue kon dodelik wees.

Maar dit is duidelik dat die ergste nie gebeur het nie.

Ja—ek is dankbaar dat ek nog lewe! Maar toe ek omtrent 12 jaar oud was, het ek, soms twee keer per dag, hewige borspyn ondervind wat ongeveer 30 minute lank aangehou het. Dit was so erg dat ek geskreeu het van die pyn.

Wat was die oorsaak?

Die dokters het gevind dat my hemoglobienvlak baie laag was en dat my hart harder moes werk om bloed na my brein te pomp. Ek het behandeling ontvang wat die probleem binne ’n paar weke verlig het. Maar ek onthou dat ek op daardie stadium gedink het dat ek nooit sal weet wat die volgende dag inhou nie. Ek het uiters hulpeloos gevoel, asof ek geen beheer het oor wat met my gebeur nie.

Dit is al 14 jaar sedert jy met hierdie toestand gediagnoseer is. Hoe is jou gesondheid nou?

Ek het nog steeds pyn, en ek het ’n hele paar kwale wat met skleroderma verband hou. Dit sluit swere, fibrose van die longe en hewige sooibrand in. Maar ek weier om oor my siekte te tob of tyd te mors deur hartseer te voel. Ek het ander dinge om te doen.

Watter dinge?

Ek hou daarvan om te teken, klere te maak en juweliersware te maak. Maar as een van Jehovah se Getuies neem ek deel aan die werk om ander van die Bybel te leer, en dit is vir my die belangrikste. Selfs wanneer ek nie na mense se huise kan loop nie, help ek ander Getuies wat Bybelstudies met mense in ons gebied hou. Ek het ook al my eie studente gehad. Die bediening maak my lewe sinvol.

Waarom neem jy aan hierdie werk deel terwyl jy self soveel probleme het?

Ek weet dat die boodskap waarvan ek mense vertel, lewensbelangrik is en hulle kan bevoordeel. Wat meer is, wanneer ek besig bly deur ander op hierdie manier te help, is ek gelukkiger. Ek voel selfs gesonder! Gedurende daardie kort tydjie vergeet ek dat ek siek is.

Hoe help die Bybel jou om ’n positiewe beskouing te behou?

Dit herinner my dat my lyding —en die lyding van ander—net tydelik is. Openbaring 21:4 sê dat God op sy vasgestelde tyd “elke traan van hulle oë [sal] afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en angsgeroep en pyn sal daar nie meer wees nie”. Wanneer ek aan sulke tekste dink, help dit my om my geloof te versterk in God se belofte van ’n blink toekoms—nie net vir diegene wat aan chroniese siektes ly nie, maar vir almal.