Spring na inhoud

JONGMENSE VRA

Sê nou ek het ’n gesondheidsprobleem? (Deel 3)

Sê nou ek het ’n gesondheidsprobleem? (Deel 3)

Die tienerjare word dikwels verbind met goeie gesondheid en skynbaar onuitputlike energie. Maar party jongmense word deur ernstige siektes beperk. Is dit met jou die geval? Indien wel, sal die ondervindinge van V’loria, Justin en Nisa, wat Jehovah se Getuies is, vir jou aanmoedigend wees. Kyk hoe hulle ten spyte van hulle verswakkende siektes kan volhard.

 V’loria

Ek het fibromialgie vandat ek 14 is. Teen die tyd dat ek 20 was, het ek ook artritis, lupus en Lyme-siekte gehad. Dit is moeilik om al die dinge te doen wat jy wil doen, as jy altyd swak voel. Soms was ek van my heupe af ondertoe verlam en moes ek ’n rolstoel gebruik.

Iets wat vir my nog erger was as die fisiese beperkings van my siektes, was die verstandelike pyniging wat ek vir myself veroorsaak het omdat ek nie eenvoudige dinge kon doen soos om te skryf of ’n bottel oop te maak nie. Ek het kinders sien loop en gewonder waarom dit vir my so moeilik is. Ek het gevoel soos ’n mislukking.

Maar ek is dankbaar vir die hulp wat ek gekry het—nie net van familielede nie, maar ook van die gemeente van Jehovah se Getuies waarmee ek assosieer. Gemeentelede het my dikwels besoek, en dit het my minder eensaam laat voel. Party het my genooi om saam met hulle te kuier, hoewel dit nie maklik is om my uit my rolstoel en in en uit ’n kar te lig nie.

Die bejaardes in die gemeente het my baie gehelp omdat hulle weet hoe dit is om gesondheidsprobleme te hê. Hulle het my gehelp om my beperkings te aanvaar en nie skuldig te voel omdat ek nie soveel kan doen soos ander nie. Wanneer ek by gemeentelike vergaderinge en in die bediening is, is ek op my gelukkigste (Hebreërs 10:25). Dan besef ek dat ek, ten spyte van my siektes, nie werklik baie van ander verskil nie.

Ek hou in gedagte dat Jehovah ons gee wat ons nodig het om te volhard. Die Bybel sê byvoorbeeld dat selfs al teer iemand uiterlik weg, kan die persoon wat hy innerlik is, “van dag tot dag vernuwe” word (2 Korintiërs 4:16). Dit is beslis hoe ek voel!

Iets om oor te dink: As jy ’n ernstige gesondheidsprobleem het, waarom is dit belangrik om vriendskappe met ander aan te knoop? As jy gesond is, hoe kan jy iemand ondersteun wat siek is?—Spreuke 17:17.

 Justin

Ek het inmekaargesak en kon nie van die vloer af opstaan nie. My bors het toegetrek en ek kon nie beweeg nie. Ek is vinnig na die ongevalleafdeling van die hospitaal geneem. Die dokters kon aanvanklik nie uitvind wat fout is met my nie. Maar nadat dit nog ’n paar keer gebeur het, het hulle my met Lyme-siekte gediagnoseer.

Lyme-siekte het my senustelsel erg aangetas. Al is ek ’n hele paar jaar gelede gediagnoseer, bewe ek nog steeds, soms onbeheerbaar. Party dae is my lyf so seer of pyn my vingers so erg dat ek dit nie kan beweeg nie. Dis asof al my gewrigte geroes het.

Ek het dikwels gedink: ‘Ek’s te jonk om siek te wees.’ En dit het my kwaad gemaak. Ek het God elke dag in trane gevra: “Waarom gebeur dit met my?” Ek het selfs begin dink dat God my verlaat het. Maar toe het ek nagedink oor die Bybelverslag van Job. Job het nie ten volle verstaan waarom hy soveel uitdagings die hoof moes bied nie, maar hy het getrou gebly aan God. As Job dit kon doen, ten spyte van die groot probleme wat hy gehad het, kan ek dit ook doen.

Die ouer manne in my gemeente is ’n groot ondersteuning vir my. Hulle toon altyd belangstelling in my en vra my hoe ek voel. ’n Ouer man het vir my gesê dat ek hom enige tyd kan bel wanneer ek ’n luisterende oor nodig het, ongeag hoe laat dit is. Ek dank Jehovah elke dag vir sulke vriende!—Jesaja 32:1, 2.

Wanneer ons aan ’n ernstige siekte ly, vergeet ons soms ’n belangrike feit—dat Jehovah weet wat ons deurmaak. Die Bybel sê: “Werp jou las op Jehovah, en hy sal jou onderskraag” (Psalm 55:22). Dit is wat ek elke dag probeer doen.

Iets om oor te dink: Hoe kan ’n ondersteuningstelsel jou help om ’n gesondheidsprobleem te verduur?—Spreuke 24:10; 1 Tessalonisense 5:11.

 Nisa

Toe ek in my middeltienerjare was, is ek met Marfan-sindroom gediagnoseer—’n versteuring wat die gewrigte aantas en dit verswak. Marfan-sindroom kan ook jou hart, oë en ander organe aantas. Ek het nie elke dag pyn nie, maar wanneer ek dit het, kan dit baie erg wees.

Toe ek gediagnoseer is, het ek baie gehuil. Ek was bang dat ek nie al die dinge sou kon doen waarvan ek hou nie. Ek geniet dit byvoorbeeld om te dans, en die gedagte dat dit dalk eendag vir my te pynlik sal wees om te dans—en dalk selfs om te loop—het my bang gemaak vir die toekoms.

My suster was baie ondersteunend. Sy het my gehelp om op te hou om myself jammer te kry. Sy het vir my gesê dat ek nie in vrees moet lewe nie, want dit sou my lewe oorneem. Sy het my ook aangespoor om te volhard in gebed omdat Jehovah die beste verstaan wat ek deurgaan.—1 Petrus 5:7.

’n Vers wat vir my werklik aanmoedigend is, is Psalm 18:6, wat sê: “In my benoudheid het ek Jehovah bly aanroep, en tot my God het ek om hulp bly roep. Uit sy tempel het hy my stem gehoor, en my hulpgeroep voor hom het toe in sy ore gekom.” Hierdie vers het my help besef dat wanneer ek tot Jehovah bid en hom vra om my die nodige krag te gee, hy my sal hoor en my sal help. Hy is altyd daar vir my.

Ek het geleer dat dit oukei is om hartseer en selfs ontsteld te voel wanneer ’n tragedie ons tref, want hierdie gevoelens is normaal—maar ons moenie toelaat dat hierdie gevoelens ons lewe oorheers en ons vriendskap met God benadeel nie. Hy is nie die oorsaak van ons probleme nie, en hy sal ons nooit verlaat as ons hom eerste in ons lewe stel nie.—Jakobus 4:8.

Iets om oor te dink: Kan ons God blameer vir ons lyding?—Jakobus 1:13.