Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HULP VIR DIE GESIN | JONGMENSE

Hoe om jou humeur in toom te hou

Hoe om jou humeur in toom te hou

DIE UITDAGING

“Ek het op my suster geskreeu en die deur so hard oopgestamp dat die haak agterop die deur ’n gat in die muur gemaak het. Elke keer wanneer ek die gat gesien het, het dit my laat dink aan hoe kinderagtig ek was.”—Diane. *

“Ek het geskreeu: ‘Jy’s ’n aaklige pa!’ en die deur toegeslaan. Maar voordat die deur toegeklap het, het ek gesien hoe seer dit my pa gemaak het. Ek wou onmiddellik die tyd terugdraai en my woorde terugtrek.”—Lauren.

Het jy al ooit soos Lauren en Diane gevoel? Indien wel, kan hierdie artikel jou help.

WAT JY MOET WEET

Woedeuitbarstings gee jou ’n slegte reputasie. “Ek het altyd gedink dat ander maar net my slegte humeur moet aanvaar”, sê die 21-jarige Briana. “Maar ek het opgelet dat mense belaglik lyk wanneer hulle hulle selfbeheersing verloor, en toe tref dit my—dit is hoe ek vir ander lyk!”

Die Bybel sê: “Hy wat gou toornig word, sal dwaas optree.”—Spreuke 14:17.

Mense sal weghardloop van ’n vulkaan wat uitbars; net so sal hulle iemand vermy wat geneig is tot woedeuitbarstings

Jou woede kan veroorsaak dat mense jou vermy. “Wanneer jy jou humeur verloor”, sê die 18-jarige Daniel, “verloor jy ook jou waardigheid en die respek van ander.” Elaine, wat ook 18 is, stem saam. “’n Slegte humeur is nie aantreklik nie”, sê sy. “Dit maak mense net bang vir jou.”

Die Bybel sê: “Moenie omgaan met iemand wat gou toornig word nie; en by ’n man wat woedebuie het, moet jy nie ingaan nie.”—Spreuke 22:24.

Jy kan verbeter. “Jy het nie altyd beheer oor hoe ’n situasie jou laat voel nie”, sê die 15-jarige Sara, “maar jy het beheer oor hoe jy gaan optree. Jy hoef nie te ontplof nie.”

Die Bybel sê: “Hy wat nie gou toornig word nie, is beter as ’n sterk man, en hy wat sy gees beheers, as die een wat ’n stad inneem.”—Spreuke 16:32.

WAT JY KAN DOEN

Stel ’n doelwit. Moenie sê: “Dis maar net hoe ek is”, nie. Probeer eerder om binne ’n spesifieke tydperk—dalk ses maande—te verbeter. Hou ’n rekord van jou vordering gedurende hierdie tydperk. Elke keer wanneer jy jou humeur verloor, skryf neer (1) wat gebeur het, (2) hoe jy gereageer het en (3) hoe jy beter kon gereageer het—en waarom. Maak dit dan jou doelwit om so te reageer wanneer jy weer kwaad word. Wenk: Hou ook ’n rekord van wanneer jy dit regkry! Skryf neer hoe goed jy voel wanneer jy dit reggekry het om selfbeheersing aan die dag te lê.—Bybelbeginsel: Kolossense 3:8.

Wag voordat jy reageer. Wanneer iemand of iets jou kwaad maak, moet jy nie die eerste ding sê wat by jou opkom nie. Wag eerder. Haal diep asem as dit nodig is. “Wanneer ek asemhaal”, sê die 15-jarige Erik, “gee dit my kans om te dink sodat ek nie iets doen of sê waaroor ek later spyt sal wees nie.”—Bybelbeginsel: Spreuke 21:23.

Probeer die ander persoon se optrede verstaan. Soms word jy dalk kwaad omdat jy net een kant van die saak sien—jou kant. Probeer om die ander kant van die saak te sien. “Selfs al is mense baie onbeskof”, sê ’n jong vrou met die naam Jessica, “is daar gewoonlik iets wat my help om te verstaan waarom hulle so opgetree het.”—Bybelbeginsel: Spreuke 19:11.

Loop weg as dit nodig is. Die Bybel sê: “Gaan . . . weg voordat die rusie uitgebreek het” (Spreuke 17:14). Soos hierdie teks toon, is dit soms die beste om eenvoudig van ’n gespanne situasie af weg te loop. Eerder as om dan oor die saak te sit en tob en jou verder te ontstel, is dit beter om iets aktiefs te doen. “Soms vind ek dat oefening my stres verlig en my help om nie my humeur te verloor nie”, sê ’n jong vrou met die naam Danielle.

Leer om dinge oor die hoof te sien. Die Bybel sê: “Wees ontsteld, maar moenie sondig nie. Sê wat julle te sê het in julle hart, . . . en bly stil” (Psalm 4:4). Let op dat dit nie verkeerd is om ontsteld te voel nie. Die vraag is: Wat gaan jy volgende doen? “As jy toelaat dat ander mense jou kwaad maak”, sê ’n jong man met die naam Richard, “gee dit hulle mag oor jou. Probeer eerder om volwasse op te tree, en laat dit verbygaan.” As jy dit doen, hou jy jou woede onder beheer eerder as om toe te laat dat jou woede jou beheer.

^ par. 4 Van die name in hierdie artikel is verander.