Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wie is Jesus Christus?

Wie is Jesus Christus?

Wie is Jesus Christus?

VOLGENS betroubare geskiedenis is ’n man met die naam Jesus meer as 2 000 jaar gelede in Betlehem, ’n klein dorpie in die land van Judea, gebore. Herodes die Grote was destyds koning in Jerusalem, en Augustus was keiser in Rome (Matteus 2:1; Lukas 2:1-7). Romeinse geskiedskrywers van die eerste twee eeue het oor die algemeen nie van Jesus melding gemaak nie, aangesien destydse Romeinse heersers die Christelike godsdiens probeer onderdruk het.

Aan die ander kant sê The Historians’ History of the World: “Die historiese gevolge van [Jesus se] bedrywighede was betekenisvoller, selfs uit ’n suiwer sekulêre oogpunt beskou, as die dade van enigiemand anders in die geskiedenis. ’n Nuwe era, wat deur die belangrikste beskawings van die wêreld erken word, word van [Jesus se] geboorte af gereken.”

Die tydskrif Time berig dat meer boeke oor Jesus geskryf is as oor enigiemand anders in die geskiedenis. Baie van hierdie boeke vestig die aandag op die kwessie van Jesus se identiteit, dit wil sê wie hy werklik is. Hierdie saak het moontlik meer meningsverskille uitgelok as enige ander onderwerp in die mensegeskiedenis.

Vroeë vrae oor identiteit

Toe daar vir Maria gesê is dat sy ’n kind sou hê en dat sy hom Jesus moes noem, het sy gevra: “Hoe sal dit gebeur, aangesien ek geen gemeenskap met ’n man het nie?” God se engel Gabriël het geantwoord: “Krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu. Daarom sal ook wat gebore word, heilig, God se Seun, genoem word.”—Lukas 1:30-35.

Later het Jesus wonderwerke verrig waaroor sy apostels hulle verwonder het. Toe dit gelyk het of ’n hewige windstorm op die See van Galilea hulle boot sou laat sink, het Jesus die waters bestraf met die woorde “Bedaar! Wees stil!” Sy apostels het verbaas uitgeroep: “Wie is hy tog?”—Markus 4:35-41; Matteus 8:23-27.

Vrae oor Jesus se ware identiteit het iets algemeens geword onder die mense van sy dag, en daarom het Jesus sy apostels gevra wie die mense sê hy is. “Party sê Johannes die Doper”, het hulle geantwoord, “ander Elia, nog ander Jeremia of een van die profete”—wat nie een meer gelewe het nie. Daarna het Jesus gevra: “‘Maar julle, wie sê julle is ek?’ Simon Petrus het geantwoord en gesê: ‘U is die Christus, die Seun van die lewende God.’” Selfs die demone—bose engele—het van Jesus gesê: “Jy is die Seun van God.”Matteus 16:13-16; Lukas 4:41.

Wie Jesus gesê het hy is

Hoewel Jesus selde gesê het dat hy God se Seun is, het hy dit wel erken (Markus 14:61, 62; Johannes 3:18; 5:25, 26; 11:4). Maar hy het amper altyd gesê dat hy “die Seun van die mens” is. Deur homself so te identifiseer, het hy die gedagte beklemtoon dat hy as ’n mens gebore is—die feit dat hy waarlik ’n mens was. Sodoende het hy ook geopenbaar dat hy die “seun van die mens” is wat Daniël voor die almagtige God—“die Oue van Dae”—sien verskyn het.—Matteus 20:28; Daniël 7:13.

Jesus het nie verkondig dat hy God se Seun is nie; hy het ander eerder die geleentheid gegee om self daardie gevolgtrekking te maak. En behalwe sy apostels het selfs ander dit gedoen, insluitende Johannes die Doper en Jesus se vriendin Marta (Johannes 1:29-34; 11:27). Hulle het geglo dat Jesus die beloofde Messias was. Hulle het geleer dat hy as ’n magtige geespersoon in die hemel gelewe het en dat God sy lewe op wonderdadige wyse na die baarmoeder van die maagd Maria oorgeplaas het.—Jesaja 7:14; Matteus 1:20-23.

Ooreenkomste met die eerste mens, Adam

Jesus het in baie opsigte ooreengekom met die eerste mens, Adam. Albei was byvoorbeeld volmaakte mense wat nie ’n menslike vader gehad het nie (Genesis 2:7, 15). Die Bybel noem Jesus dus “die laaste Adam”—’n volmaakte mens wat as “’n ooreenstemmende losprys” kon dien. Jesus se lewe het ooreengestem met dié van “die eerste mens, Adam”, wat God as ’n volmaakte mens geskep het.—1 Korintiërs 15:45; 1 Timoteus 2:5, 6.

Die eerste Adam word in die Bybel die “seun van God” genoem (Lukas 3:38). Maar daardie Adam het sy kosbare verhouding as God se seun verloor toe hy opsetlik ongehoorsaam was aan God. Aan die ander kant was Jesus altyd getrou aan sy hemelse Vader, en hy het God se goedgekeurde Seun gebly (Matteus 3:17; 17:5). Die Bybel sê dat almal wat geloof in Jesus beoefen deur hom as hulle Redder te aanvaar, die ewige lewe kan ontvang.—Johannes 3:16, 36; Handelinge 5:31; Romeine 5:12, 17-19.

Party voer egter aan dat Jesus nie net die Seun van God is nie, maar dat hy in werklikheid God self is. Hulle sê dat hy en sy Vader albei God die Almagtige is. Is hulle reg? Is Jesus op die een of ander manier deel van God? Het Jesus, of enige van die Bybelskrywers, so gesê? Wie is die enigste ware God werklik? Wie het Jesus gesê is Hy? Kom ons kyk.

[Venster/Prent op bladsy 4]

Niemand so bekend soos hy nie

Die verslag van Jesus se lewe is deur vier van sy tydgenote opgeteken—Matteus, Markus, Lukas en Johannes—waarvan twee intieme vriende was. Hierdie boeke, wat na hulle vernoem is, staan oor die algemeen bekend as die Evangelies, en dele daarvan kan in meer as tweeduisend tale gelees word. Hierdie klein boeke word gewoonlik met ander boeke van die Bybel gekombineer. Die verspreiding van die Evangelies—as individuele boeke of as deel van die Bybel—is baie groter as enige ander geskrif in die geskiedenis. Geen wonder nie dat Jesus bekender is as enigiemand anders wat nog gelewe het!

[Prent op bladsy 3]

“Wie is hy tog?” het die apostels gevra