Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Verduur siekte met ’n sin vir humor

Verduur siekte met ’n sin vir humor

Verduur siekte met ’n sin vir humor

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN SPANJE

CONCHI is ’n opgewekte middeljarige vrou wat al sewe jaar lank ’n stryd voer teen kanker. Sedert sy met borskanker gediagnoseer is, het sy al sewe operasies ondergaan om kwaadaardige gewasse te verwyder. Hoe verwerk sy dit?

“Wanneer die dokters my slegte nuus gee, en die hartseer my oorweldig, huil ek soveel as wat ek kan om my te help om daaroor te kom”, sê sy. “Dan probeer ek voortgaan met my lewe en dinge doen wat ek geniet—soos om Chinees te leer, Christelike byeenkomste by te woon en saam met my familie en vriende op vakansie te gaan. Ek dink altyd aan Jesus se woorde: ‘Wie van julle kan deur hom te kwel een el by sy lewensduur voeg?’—Matteus 6:27.

“Ek probeer ook altyd ’n goeie sin vir humor behou”, voeg sy by. “Ek maak grappies met die dokters, kyk rolprente wat my laat lag, en bowenal probeer ek om gereeld met vriende en familie te assosieer. Om vriende te hê wat saam met jou kan lag, is wonderlike medisyne. Eenkeer, net voordat ek geopereer is, het vriende en familie my van ’n snaakse voorval vertel wat die vorige aand gebeur het. Ek het so gelag dat ek heeltemal ontspanne was toe hulle my in die operasiesaal ingestoot het.”

Conchi is nie die enigste persoon wat besef het dat ’n goeie sin vir humor en ’n positiewe gesindheid ons kan help om met gesondheidsprobleme saam te leef nie. Die moderne geneeskunde het ook begin besef watter waardevolle rol humor in ons stryd teen pyn en siekte speel.

Voordelig vir liggaam en gees

Hierdie konsep is niks nuuts nie. Drieduisend jaar gelede het koning Salomo geskryf: “’n Vrolike hart is uitstekende medisyne” (Spreuke 17:22, The Jerusalem Bible). Lope de Vega, ’n 17de-eeuse Spaanse skrywer, het eweneens gesê: “Ek dink ons sou ’n gesonder lewe lei as ons aan ons humorsin uiting gee.” Maar in vandag se spanningsvolle wêreld lyk dit eerder of mense hulle humorsin onderdruk as om daaraan uiting te gee. Ons lewe blykbaar in die goue eeu van tegnologie, maar in ’n tyd wanneer humor aan die verdwyn is. In die moderne samelewing lyk dit of “Homo sapiens [die mens] vervang is deur Homo digitalis”, sê die werk El arte de la risa (Die kuns van lag). Soms lyk dit of digitale tegnologie en rekenaarmonitors die taal van lag, gebare en glimlagte verdring.

’n Goeie sin vir humor help pasiënte om positiewer te dink, te voel en op te tree. Humor “vergemaklik kommunikasie, versterk die immuunstelsel, verlig pyn, verminder angstigheid, verlig emosionele en spierspanning en bevorder kreatiwiteit en hoop”, het ’n onlangse artikel deur dr. Jaime Sanz-Ortiz, ’n spesialis in kanker en palliatiewe geneeskunde, gesê.

Die waarde van ’n sin vir humor

Waarom is ’n goeie sin vir humor ’n doeltreffende geneesmiddel? Omdat dit ’n eienskap is wat ons in staat stel om situasies op ’n positiewe manier te hanteer, selfs te midde van ongunstige omstandighede. “As ons in ons daaglikse lewe plek maak vir humor en gereeld lag, hou ons ons energievlak hoog, verlig ons vermoeidheid en verdryf ons selfbejammering”, sê Sanz-Ortiz.

Dit spreek vanself dat die dinge wat ons laat glimlag of lag, van persoon tot persoon en van kultuur tot kultuur verskil. “Net soos dit wat vir een mooi is, nie vir almal mooi is nie, so is humor eie aan die individu”, verduidelik Sanz-Ortiz. Maar ongeag wat ons agtergrond of vlak van geleerdheid is, ’n goeie sin vir humor is dikwels ’n doeltreffende manier om te kommunikeer en is ’n nuttige uitlaatklep vir opgehoopte angs, spanning of onsekerheid. As ’n goeie sin vir humor dan soveel voordele inhou, hoe kan ons dit ontwikkel?

Die eerste stap is om op te hou om uitsluitlik op ons probleme of siekte te konsentreer en eerder die positiewe kant van elke situasie te probeer geniet. Verder moet ons daarna streef om rasioneel te dink en verwronge of irrasionele denke te verwerp wat ons probleem net vererger. Ons kan ook ’n sin vir humor ontwikkel deur te leer om dinge in ’n ander lig te beskou. Ons hoef nie altyd te lag of te glimlag nie, maar as ons die snaakse kant van ’n situasie sien, sal dit ons in staat stel om dinge te verwerk. “Humor lei ons aandag vir ’n oomblik van ons bekommernisse af en laat ons die probleem uit ’n ander hoek beskou . . . , wat ons nuwe opsies gee om dit die hoof te bied”, sê Sanz-Ortiz.

’n Goeie sin vir humor is natuurlik nie ’n teenmiddel vir elke krisis waarvoor ons in die lewe te staan kom nie, maar dit kan ons dikwels help om probleme op ’n positiewer, meer gebalanseerde manier aan te pak. Conchi erken tereg: “Dit is nie ’n grap om siek te wees nie, maar jy moet probeer om jou sin vir humor te behou. Ek stel my my lewe voor as ’n groentetuin met baie verskillende groentesoorte, waarvan een—ongelukkig—my siekte is. Ek probeer dit egter in ’n hoekie hou sodat dit nie die ander verdring nie. Ek kan natuurlik nie sê dat ek die kanker oorwin het nie, maar ek geniet nog steeds my lewe, en dít is baie belangrik.”

[Prent op bladsy 27]

Conchi word bemoedig deur haar man, Felix, en haar jonger suster Pili