Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Demografie, die Bybel en die toekoms

Demografie, die Bybel en die toekoms

Demografie, die Bybel en die toekoms

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN SWEDE

DIE mensdom het van 1,65 miljard aan die begin van die 20ste eeu tot ’n ongelooflike 6 miljard teen die einde van daardie eeu toegeneem. Sal die aarde se bevolking aanhou om teen hierdie verstommende tempo toe te neem? Sal daar in hierdie millennium ’n bevolkingsontploffing wees? Die kenners wat met hierdie ingewikkelde vrae worstel, word demograwe genoem; hulle studieveld is demografie.

Webster’s Dictionary definieer demografie as “die statistiese studie van mensebevolkings, [veral] met betrekking tot grootte en digtheid, verspreiding en bevolkingstatistiek”. Kenners bestudeer drie faktore wat ’n besliste uitwerking op die bevolking het—geboortesyfer, sterftesyfer en migrasie (hoeveel mense van een land na ’n ander beweeg).

Geskiedkundige demografie is die studie van hoe bevolkings van die verlede gegroei en gewissel het. Geskiedkundige demograwe probeer soveel moontlik omtrent antieke beskawings uitvind deur geskrewe materiaal, ruïnes, geraamtes en ander artefakte te bestudeer. Geskiedkundige demografie is deels raaiwerk en deels wetenskap. Die Atlas of World Population History erken: “Die hipoteses van die geskiedkundige demograaf kan nie, in die huidige stand van die vak, getoets word nie, en gevolglik is die idee dat dit in die oë van statistici betroubaar kan wees, buite die kwessie.” Demografiese veronderstellings is nogtans vir Bybelstudente interessant. Trouens, hierdie veronderstellings stem dikwels ooreen met Bybelverslae.

Bevolkingsaanwas ná die Vloed

Die Bybel sê dat slegs agt mense die Vloed van Noag se dag oorleef het. Party demograwe spekuleer dat die aarde se bevolking ongeveer 1 400 jaar later moontlik 50 miljoen bereik het. Is ’n toename van 8 mense tot sowat 50 miljoen in 1 400 jaar buite die kwessie?

Eerstens is die skatting van 50 miljoen niks meer as ’n skatting nie. Dit is egter interessant om te sien wat die Bybel in Genesis 9:1 sê: “God het Noag en sy seuns geseën en vir hulle gesê: ‘Wees vrugbaar en word baie en vul die aarde.’” Daarna lees ons, in hoofstukke 10 en 11, van 70 families wat afstammelinge was van Noag se seuns—Sem, Gam en Jafet. As ons verder lees, kom ons by die geslagsregister van manne van Sem tot by Abraham, wat ‘vaders van seuns en dogters geword het’. Dit was moontlik ’n tyd toe die geboortesyfer hoog was, wat sou ooreenstem met God se bevel om ‘die aarde te vul’.

Wat van die sterftesyfer? Dieselfde hoofstukke in Genesis beskryf die mens se buitengewone lang lewensduur gedurende die eerste paar honderd jaar ná die Vloed. a Wanneer ’n hoë geboortesyfer met ’n lae sterftesyfer gepaardgaan, het dit ’n vinnige bevolkingsaanwas tot gevolg.

Die Israeliete se verblyf in Egipte

Sommige navorsers is skepties oor die Bybelverslag oor die vinnige bevolkingsaanwas wat onder die Israeliete plaasgevind het toe hulle in Egipteland gewoon het. Die Bybel sê: “Al die siele van die huis van Jakob wat na Egipte gekom het, was sewentig” as ’n mens nie die vroue van Jakob se seuns insluit nie (Genesis 46:26, 27). Maar toe die Israeliete Egipte 215 jaar later verlaat het, was daar ’n verstommende “seshonderdduisend manne te voet, buiten die kindertjies” (Eksodus 12:37). As ons die vroue en kindertjies bytel, kon daar tot driemiljoen Israeliete gewees het! Is so ’n toename moontlik?

Om daardie vraag te beantwoord, let op wat die Bybel oor die bevolkingsaanwas van die Israeliete in Egipte sê: “Die kinders van Israel het vrugbaar geword en die land het van hulle begin wemel; en hulle het bly vermeerder en buitengewoon vinnig magtiger geword, sodat die land vol van hulle geword het.” Die Israeliete het destyds buitengewoon vinnig toegeneem.—Eksodus 1:7.

Dit is interessant dat ’n soortgelyke bevolkingsaanwas al in hedendaagse nasies gesien is, soos in Kenia gedurende die 1980’s. Wat die Israeliete se aanwas egter buitengewoon gemaak het, was die feit dat die toename oor ’n lang tydperk voortgeduur het.

Die Bybel gee nog ’n rede waarom Israel so vinnig toegeneem het. Daar was geen voedseltekort terwyl die Israeliete in Egipte was nie. Wanneer daar ’n hongersnood is, sterf baie mense natuurlik in die fleur van hulle lewe. Gevolglik word minder kinders gedurende daardie tydperk gebore. Maar die Bybel toon dat die Israeliete baie kos gehad het om te eet. Toe Josef se gesin na Egipte gekom het, het Farao vir Josef gesê: “Laat jou vader en jou broers in die allerbeste deel van die land woon. Laat hulle in die land Gosen woon” (Genesis 47:6). Selfs nadat die Israeliete die Egiptenaars se slawe geword het, het hulle blykbaar genoeg kos gehad. Trouens, ná hulle verlossing uit slawerny het die Israeliete teruggedink aan die brood, vis, komkommers, waatlemoene, preie, uie, knoffel en vleis wat hulle as slawe geëet het.—Eksodus 16:3; Numeri 11:5.

Gedurende die eerste eeu G.J.

Demografie kan ook lig werp op ons begrip van die Christelike Griekse Geskrifte. Wanneer ons byvoorbeeld lees van Jesus se bevel aan sy volgelinge om ‘dissipels te maak van mense van al die nasies’, wonder ons dalk: ‘Hoe omvangryk was daardie predikingstoewysing?’ (Matteus 28:19). Hoeveel mense het in die eerste eeu in die Romeinse Ryk gewoon? Party skat dat die bevolking tussen 50 en 60 miljoen was. As dit waar is, het daardie Christenevangeliedienaars ’n groot taak gehad!

As ons verder in die Christelike Griekse Geskrifte lees, leer ons dat die apostel Petrus verafgeleë Babilon besoek het om die goeie nuus daar te verkondig (1 Petrus 5:13). Waarom Babilon? ’n Kommentaar in The New Encyclopædia Britannica is insiggewend: “Die vernaamste Joodse bevolkingsentrums buite Palestina was in Sirië, Klein-Asië, Babilonië en Egipte, wat elk na raming ten minste 1 000 000 Jode gehad het.” Aangesien Petrus die opdrag gegee is om in die besonder vir die Jode te getuig, was dit redelik dat hy na ’n vesting van Judaïsme—Babilon—sou reis (Galasiërs 2:9). En met die groot Joodse bevolking wat daar was, het hy sekerlik oorgenoeg gebied gehad!

Wat hou die toekoms in?

Soos ons gesien het, stel demograwe in sekere besonderhede van die mens se verlede belang. Wat sê hulle van die toekoms? Belangrike vrae ontstaan. Sal daar in hierdie millennium ’n bevolkingsontploffing wees? Niemand weet met sekerheid nie. Omdat hulle sien dat die geboortesyfer in ’n aantal lande afneem, voorspel sommige navorsers dat die wêreldbevolking sal stabiliseer.

Maar nie alle kenners stem saam nie. Die publikasie Population Today sê: “Vandag is daar twee afsonderlike ‘wêrelde’ met betrekking tot bevolkingsaanwas: dié lande waar twee of minder kinders per egpaar gebore word en dié met ’n hoër geboortesyfer. Die ‘wêreld met twee of minder kinders’ sluit in Europa, die Verenigde State, Kanada, Japan en ’n paar lande wat vinnig besig is om nywerheidslande te word . . . In teenstelling daarmee bestaan die ‘wêreld met ’n vinnige bevolkingsaanwas’ uit die meeste van die lande in Afrika, Asië en Latyns-Amerika, waar die geboortesyfer hoër as twee kinders per egpaar is. In hierdie lande, wat die tuiste van meer as die helfte van die wêreldbevolking is, het elke vrou gemiddeld vier kinders.”

Hoewel die bevolkingsaanwas dus in party lande afgeneem het, het dit in ander lande toegeneem of amper dieselfde gebly. Population Today som toekomsvooruitsigte só op: “Vir die meeste ontwikkelende lande is ’n vinnige bevolkingsaanwas nog nie verby nie. Die werklike, nie die veronderstelde, einde van die ‘bevolkingsontploffing’ regoor die wêreld sal bepaal word deur hoe gou en tot watter mate lande in programme belê om kindersterftes te verminder, vroue op te voed en gesinsbeplanning te voorsien.”

Sal die aarde se bevolking van sesmiljard bewoners baie groter word? Die tyd sal ons dit leer. Maar ons weet wel dat dit God se voorneme is dat die aarde gevul moet word—nie oorbevolk moet word nie (Genesis 1:28). En ons het alle rede om verseker te wees dat dit onder God se Koninkryk sal gebeur.—Jesaja 55:10, 11.

[Voetnoot]

a Later het die mens se lewensduur tot 70 of 80 jaar afgeneem, soos aangedui deur Moses omstreeks die jaar 1500 v.G.J.—Psalm 90:10.

[Prent op bladsy 12]

Die oorlewendes van die Vloed was die voorouers van vandag se wêreldbevolking van meer as sesmiljard

[Prent op bladsy 13]

In 215 jaar het ’n klein aantal Israeliete in Egipte tot driemiljoen vermeerder