Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ons beskou die wêreld

Ons beskou die wêreld

Ons beskou die wêreld

Plastiese eende bevaar die oop see

In Januarie 1992 het ’n skip wat van Hongkong af na die Verenigde State gevaar het, in ’n hewige storm beland en ’n besending van 29 000 plastiese eende verloor, verduidelik Duitsland se Frankfurter Allgemeine Zeitung. Die eerste eende wat die land bereik het, het in November 1992 op Baranoff-eiland, Alaska, uitgespoel. Nog eende is twee jaar ná die storm in “see-ys noord van die Beringstraat” gevind. Daar word verwag dat hierdie besonder sterk speelgoed ook op die Nieu-Engelandse kus van Noord-Amerika sal uitspoel. Interessant genoeg, die voorval was vir wetenskaplikes ’n geluk by die ongeluk, want dit het hulle teorie bewys dat seewater “van die Stille Oseaan af direk na die Arktiese Oseaan en tot in die Atlantiese Oseaan” vloei, sê die koerant.

Kewers verleen hulp!

“Twee kewerspesies het die ekonomie van Benin in Wes-Afrika oor ’n tydperk van 20 jaar $260 miljoen [R1,6 miljard] gespaar”, sê die tydskrif New Scientist. “Dié twee spesies het saam die stryd teen ’n super-wateronkruid [waterhiasint] gewen wat visse doodmaak, probleme vir bote veroorsaak en die ekologie van mere verander.” Die verslag voeg by dat “drywende komberse van onkruid in minder as twee weke kan verdubbel, en omdat dit so dig groei, is dit feitlik onmoontlik om vis te vang of boot te ry”. Die plant verwyder suurstof uit die water, verhoog die suurgehalte en vertraag die watervloei, wat meer slik na die bodem laat afsak. Krokodille skuil ook onder die onkruid, en dít hou ’n gevaar in vir mense wat water skep. Die kewers—twee kalanderspesies wat net waterhiasint eet—het geslaag waar masjiene misluk het en waar chemikalieë die water sou besoedel en ander plante sou laat doodgaan het, verduidelik New Scientist.

Huisvrouens wat dobbel

In Brittanje “raak al hoe meer huisvrouens verslaaf aan dobbelary op die Internet en bestee hulle elke dag ure daaraan terwyl hulle duisende ponde se skuld maak”, berig Londen se Sunday Telegraph. Vroue wat sou huiwer om by ’n dobbelplek in te gaan, vind die Internet glad nie so intimiderend nie. Wat meer is, hulle kan dobbelary by hulle daaglikse roetine by die huis inpas. Baie raak verslaaf, maar vanweë die stigma wat gewoonlik aan dobbelary onder vroue kleef, erken hulle dikwels nie dat hulle ’n probleem het nie. Volgens die koerant sê professor Mark Griffiths van die Universiteit van Nottingham dat die tendens ’n “groot kulturele verandering [weerspieël] wat dobbelary uit die casino’s na die huis of werksplek neem”. Hy het ook gesê: “As jy ’n probleemdobbelaar is, . . . sal jy waarskynlik casino’s en dobbelhuise belet word. Op die Internet is daar geen deurwagter nie.”

Meer jongmense lewe op die strate

“Die aantal tieners wat op die strate van Madrid lewe, is aan die toeneem”, berig die Engelse uitgawe van El País, ’n Spaanse dagblad. Volgens ’n universiteitstudie “was ongeveer 1 250 van Madrid se 5 000 straatmense onder die ouderdom van 20 toe hulle haweloos geword het”. Navorsing toon dat “die oorgrote meerderheid hawelose jongmense uit gebroke gesinne kom en dat hulle lewe duidelike bewyse van trauma toon”. Trouens, “twee uit drie jongmense is kinders van alkoholiste of dwelmgebruikers en net soveel is by die huis mishandel”. Manuel Muñoz, een van die samestellers van die verslag, het gesê dat “die tradisionele familiebande, wat tipies is van Mediterreense kulture, besig is om te verbrokkel”.

Gonorree neem toe in Kanada

“Ná ’n bestendige afname oor 20 jaar het gonorreegevalle oor die afgelope vyf jaar met meer as 40 persent gestyg”, sê Kanada se Vancouver Sun. Gonorree is ’n seksueel oordraagbare siekte wat onvrugbaarheid kan veroorsaak en “deur die bloedstroom na die gewrigte kan versprei, wat tot ontsteking en swelling, of ‘gonokokkale artritis’, lei”. Wat meer is, die bakterie wat gonorree veroorsaak, is besig om bestand te raak “teen alle middels wat daarvoor gebruik word”, sê die Sun. Nog ’n vrees is dat “die toename in gonorree tot meer MIV-gevalle kan lei omdat enige seksueel oordraagbare infeksie die risiko verhoog dat die vigs-virus opgedoen of versprei kan word”. Trouens, dokters skryf die toename in gonorree toe aan die feit dat mense nie meer so bang vir MIV is nie. “Mense is nie meer so versigtig wanneer dit kom by hulle bedmaats en die aantal mense saam met wie hulle slaap nie”, sê dr. David Fisman, ’n kenner op die gebied van seksueel oordraagbare siektes.

Grootouers te huur

“Meer as 1 000 enkelmoeders en -vaders met kinders wat tot tien jaar oud is, kon grootouers vir hulle kinders kies”, berig die Duitse koerant Nassauische Neue Presse. “My regte grootouers bly baie ver van Berlyn af”, sê die sewejarige Melanie. “Ouma Klara bly net om die draai. Sy kom haal my by die skool en gaan saam met my na die dieretuin, die speelgrond en die swembad. Sy kook ook en eet saam met my en my ma by die huis.” Ouma Klara is deur ’n “grootouer”-diens gestuur wat senior burgers aan ongetroude ouers beskikbaar stel teen ’n tarief van R18 tot R30 per uur. “Die projek is net die regte oplossing vir enkelouers met ’n beperkte begroting”, sê die verslag.

’n Strand vir “mollige” mense

In Mexiko het ’n hotel ’n gebied opsygesit vir diegene wat skaam is om op ’n strand vol skraal mense gesien te word, berig die koerant El Economista. Die strandhotel in Cancún het die slagspreuk “Wees vet en wees gelukkig” aangeneem. Die hotel beoog “om mense te lok wat bang is om in hulle baaikostuum strand toe te gaan omdat hulle baie oorgewig is”. Die hotelpersoneel, wat mense van alle groottes insluit, is opgelei om oorgewig vakansiegangers sonder diskriminasie te behandel, sê die verslag, “aangesien hulle alreeds in hulle daaglikse lewe baie diskriminasie verduur”.

Die Middellandse See word warmer

“Oor die afgelope tien jaar het ons ’n rekord gehou van . . . die verwarming van die Middellandse See”, sê Maurizio Wurtz, ’n mariene bioloog by Genua-universiteit in Italië. Die verslag, wat in die Italiaanse koerant La Repubblica verskyn het, sê dat die warmer water nuwe seeplante en -diere lok. “Baie spesies”, sê Wurtz, “trek van die kus van Afrika af na die noordelike deel van die Middellandse See.” Onder die nuwe inkomelinge is daar papegaaivisse, wat oorspronklik van tropiese waters kom; nooientjievisse van die tropiese gebiede van die Atlantiese Oseaan; snellervisse, wat normaalweg in die Indiese en Stille Oseaan woon; en ’n alg wat via die Suezkanaal sy pad na die Middellandse See gevind het.