Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Streef vrede na by die werk

Streef vrede na by die werk

Streef vrede na by die werk

WAAROM pik party mense op ander? Die Bybel werp lig op die saak. Dit verduidelik dat ons in “die laaste dae” van hierdie stelsel van dinge lewe en dat dit die rede is waarom ons ‘kritieke tye ondervind wat moeilik is om deur te kom’. Baie mense is “liefhebbers van hulleself . . . , liefhebbers van geld, aanmatigend, hoogmoedig, lasteraars, ongehoorsaam aan ouers, ondankbaar, dislojaal, sonder natuurlike geneentheid, nie bereid tot enige ooreenkoms nie, kwaadsprekers, sonder selfbeheersing, wreedaardig, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, eiesinnig, opgeblase van trots” (2 Timoteus 3:1-5). In hierdie onstuimige tye kom sulke gedrag algemeen voor, en teistering is een van die onaangename gevolge. Hoe kan jy dan vrede by die werk nastreef?

Hoe konflik opgelos kan word

Teistering ontstaan dikwels as gevolg van ’n onopgeloste konflik tussen werksmaats. Tree dus vinnig op om ’n misverstand reg te stel waarby jy persoonlik betrokke is, sonder om jou neus in ander se sake te steek. Ruim gekrenkte gevoelens met takt en respek uit die weg. Handel met jou kollegas as individue, nie as ’n groep nie. Probeer dinge uitpraat as dit lyk asof iemand iets teen jou het. Hou Jesus se vermaning in gedagte: “Wees gou om sake te skik met die een wat jou . . . aankla.”—Matteus 5:25.

Daarbenewens vind almal daarby baat as die kommunikasiekanale oopgehou word. Probeer dus om goed met jou toesighouer te kommunikeer sonder om die indruk te skep dat jy net sy guns probeer wen. Onthou ook dat goeie kommunikasie met jou portuurs en ondergeskiktes spanning sal teëwerk. Koning Salomo het geskryf: “Planne misluk waar daar geen vertroulike gesprekke is nie, maar in die veelheid van raadgewers kom iets tot stand.”—Spreuke 15:22.

Wend dus ’n bewuste poging aan om met jou medewerkers oor die weg te kom. Dit beteken nie dat jy ’n “mensebehaer” moet wees wat sommer instem met alles wat van jou vereis word en jou beginsels prysgee net om die vrede te bewaar nie. Maar hartlikheid en vriendelikheid kan ’n ysige atmosfeer ontdooi. Moenie net versigtig wees wat jy vir ander sê nie, maar ook hoe jy dit sê. Die Bybel gee weer eens verstandige raad: “’n Sagte antwoord keer woede af” (Spreuke 15:1). “Die kalmte van die tong is ’n lewensboom” (Spreuke 15:4). “Deur geduld word ’n aanvoerder oorgehaal” (Spreuke 25:15). “Laat julle woorde altyd aangenaam wees, smaaklik gemaak met sout, sodat julle kan weet hoe julle elkeen behoort te antwoord.”—Kolossense 4:6.

“Laat julle redelikheid . . . bekend word”

Die apostel Paulus het Christene in Filippi aangespoor: “Laat julle redelikheid aan alle mense bekend word” (Filippense 4:5). Jy kan hierdie beginsel toepas deur vir jou redelike gedragstandaarde te stel. Moenie te veel selfvertroue hê of te bedees wees nie. As jou kollegas jou terg, moet jy nie dieselfde aan hulle probeer doen nie. Jy bereik niks deur die skeidslyn tussen goeie en slegte gedrag te vertroebel nie. Behandel ander met respek en waardigheid, en hulle sal jou waarskynlik ook so behandel.

Moenie net op jou gedrag let nie, maar ook op jou kleredrag. Vra jou af: ‘Watter indruk skep my kleredrag? Is my voorkoms verleidelik? Lyk ek slordig? Sal dit goed wees as ek ’n verstandige standaard van kleredrag vir die werk stel?’

In die meeste kulture word vlytige en pligsgetroue werkers gerespekteer en hoog op prys gestel. Daarom moet jy probeer om respek te wen deur goeie werk te lewer. Wees betroubaar. Dit beteken nie dat jy jou oor elke taak moet kwel nie. ’n Vrou wat die slagoffer van teistering geword het, het later erken dat sy tot haar eie ondergang bygedra het. “Ek wou volmaak wees”, sê sy. Hierdie vrou het besef dat volmaaktheid ’n onmoontlike doelwit is: “Ek is ’n goeie werker, maar ek hoef nie alles volmaak te doen nie.”

Moenie oorgevoelig wees vir negatiewe aanmerkings nie. Nie alle onregverdige kritiek is noodwendig teistering nie. In die Bybel het koning Salomo geskryf: “Moenie haastig wees in jou gees om aanstoot te neem nie . . . Moet ook nie jou hart rig op al die woorde wat mense spreek nie, . . . want jou eie hart weet goed van baie kere dat jy, ja jy, ’n vloek oor ander uitgespreek het.”—Prediker 7:9, 21, 22.

Die feit dat jy hierdie goeie beginsels volg, verseker natuurlik nie dat jy nooit die slagoffer van teistering sal word nie. Ten spyte van jou beste pogings sal party van jou kollegas dalk nog steeds op jou pik. Wat dan?

Kry hulp

“Nadat ek ’n hele paar maande lank doelbewus geïgnoreer is, was ek emosioneel afgetakel”, erken Gregory. Sy ondervinding is kenmerkend van slagoffers wat ’n groot verskeidenheid pynlike emosies ondervind—woede, skuldgevoelens, skaamte, verwarring en ’n gevoel van waardeloosheid. Die druk van teistering kan selfs iemand wat gewoonlik stabiel is, tot wanhoop dryf. Ja, die Bybel sê: “Verdrukking kan ’n wyse waansinnig laat optree” (Prediker 7:7). Wat kan dan gedoen word?

Studies toon dat dit beter is om teistering nie op jou eie te probeer hanteer nie. Waar kan ’n slagoffer hulp kry? Party groter maatskappye het reëlings getref om hulle werknemers te help wat voel dat hulle geïntimideer word. Hierdie maatskappye weet dat dit in hulle eie belang is om teistering te beëindig. Volgens een skatting bestee werkers wat ’n slagoffer teister, tot 10 persent van hulle werktyd daaraan. Waar so ’n reëling bestaan, kan ’n slagoffer hulp kry. ’n Onpartydige raadgewer—hetsy in die werkgewer se organisasie of van elders—kan moontlik die weg open vir al die partye om die situasie te bespreek en gedragsreëls by die werk neer te lê.

Nie altyd ’n oplossing nie

Daar moet natuurlik erken word dat daar nie altyd ’n oplossing vir teistering is nie. Selfs diegene wat die Bybelbeginsels toepas wat in hierdie artikel uiteengesit word, sal dalk vind dat teistering by die werk voortduur. Hulle kan daarvan seker wees dat hulle volharding en hulle pogings om godvrugtige eienskappe te midde van beproewing aan die dag te lê, deur Jehovah God raakgesien word.—2 Kronieke 16:9; Jeremia 17:10.

Afhangende van hoe erg die teistering is en hoe dikwels dit voorkom, besluit party wat hulle in hierdie situasie bevind, om ander werk te soek. Ander het nie juis ’n keuse nie, aangesien werk dalk skaars is en daar miskien min bronne van hulp is. Monika, wat in die vorige artikel genoem is, het gevind dat die probleem na verloop van tyd opgelos is toe een van die vernaamste teisteraars die maatskappy verlaat het. Gevolglik het die atmosfeer by die werk betreklik kalm geword, en sy kon haar opleiding voltooi voordat sy besluit het om ander werk te soek.

Peter, wat in die eerste artikel genoem is, het algehele verligting gekry deur vroeg af te tree. Maar selfs terwyl Peter die teistering verduur het, het sy vrou se ondersteuning hom gehelp. “Sy het geweet wat ek deurmaak en sy was ’n steunpilaar”, sê hy. Monika en Peter se geloof as Jehovah se Getuies het hulle grootliks vertroos gedurende hulle beproewinge. Deelname aan die openbare bediening het hulle groter selfrespek gegee, terwyl assosiasie met medegelowiges hulle van bestaande vriendskappe verseker het.

Wat jou situasie ook al is, doen jou bes om goeie verhoudings by die werk na te streef. As jy geteister word, moet jy probeer om die apostel Paulus se raad te volg: “Moet niemand kwaad vir kwaad vergeld nie. . . . Wees, indien moontlik, sover dit van julle afhang, vreedsaam teenoor alle mense. . . . Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar hou aan om die kwaad met die goeie te oorwin.”—Romeine 12:17-21.

[Lokteks op bladsy 8]

Vriendelikheid kan ’n ysige atmosfeer ontdooi

[Lokteks op bladsy 9]

“Wees, indien moontlik, sover dit van julle afhang, vreedsaam teenoor alle mense.”—ROMEINE 12:18

[Prent op bladsy 8, 9]

Tree vinnig op om persoonlike misverstande uit die weg te ruim