Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Noodlanding!

’n Noodlanding!

’n Noodlanding!

SOOS VERTEL DEUR CÉSAR MUÑOZ

Nadat ek ’n aangename vakansie by my familie in die stad Monterrey, Mexiko, geniet het, was ek gereed om na die takkantoor van Jehovah se Getuies in Mexikostad terug te keer, waar ek die voorreg het om te dien. Dit was Sondag, 1 Desember 2002. Ek het aan boord van Vlug 190 gegaan, en ons het om 7:00 nm. opgestyg.

NÁ ’N rustige vlug van ’n bietjie minder as een en ’n half uur, het die vliegtuig begin daal om te land. Skielik het dit skerp gestyg, en ons almal het geskrik toe ons ’n verskriklike geraas van onder die vliegtuig hoor. Toe het die kaptein aangekondig dat die deure van die landingstoestel nie wil oopgaan nie. Hulle het vasgesit! Van die vreesbevange passasiers het begin huil. Ander het hardop gebid. Ek het gewonder wat sou gebeur.

Die kaptein het ons ingelig dat hy die deure van die landingstoestel gaan probeer losskud. Terwyl ons oor Mexikostad gevlieg het, het hy dus ongeveer ’n uur lank die vliegtuig heen en weer en op en af laat skud. Die geskud was erger as enige tuimeltreinrit waarop ek al was. Dit was alles behalwe pret! Toe het die kaptein aangekondig: “Ons moet julle ongelukkig inlig dat die deure nie oopgegaan het nie. Al wat ons kan doen, is om ’n noodlanding sonder die landingstoestel te doen.” Ons het almal angstig na mekaar gekyk en die ergste verwag.

Instruksies vir ’n noodlanding is gegee. Ons het ons skoene uitgetrek, alles verwyder wat ’n mens kon beseer en die posisie ingeneem wat hulle voorgestel het. Ek het gedink dat ons beslis op die landingstrook sou neerstort! Op daardie oomblik het ek tot Jehovah God gebid en ’n groot kalmte het oor my gekom.—Filippense 4:6, 7.

Ek het altyd gehoor dat iemand wat op die punt staan om te sterf, terugflitse van sy lewe kry asook gedagtes van ‘as ek maar net dit of dat gedoen het’. Ek was jammer dat ek nie met die meisie langs my oor die Koninkryk gepraat het nie, en ek het my voorgeneem dat ek elke geleentheid sou gebruik om te getuig as ek nog ’n kans kry. Ek het ook oor die gehalte van my diens aan Jehovah gedink.

Toe die vliegtuig begin daal, kon ek brandweerwaens, ambulanse en baie mense sien wat gereed staan. Toe die vliegtuig die landingstrook op sy romp tref, het ons ’n geweldige stamp gevoel. Terwyl die vliegtuig gegly het, het vonke gespat weens die wrywing van die metaal teen die padoppervlak. Brandweerwaens aan albei kante van die landingstrook het die vliegtuig onmiddellik met strome water gespuit om dit af te koel.

Uiteindelik, ná ’n paar benoude oomblikke, het die vliegtuig tot stilstand gekom. Ons het begin hande klap, baie bly en verlig dat die vlieënier hierdie noodgeval so goed hanteer het. Daarna is ons aangesê om die vliegtuig onmiddellik te ontruim. Ons het vinnig na die uitgange beweeg en met die styl glybane afgegly na veiligheid op die gras langs die landingstrook.

Terwyl ek op ’n veilige afstand gestaan en bewe het van skok, het ek gesien dat die vliegtuig dwars oor die landingstrook lê. Gelukkig is net ’n paar passasiers lig beseer. In die ambulanse daar naby het ander mediese hulp vir skok ontvang.

Ek het oorspronklik verwag om teen 9 nm. by die huis te wees, maar ek het vier uur later daar aangekom. Alles in ag geneem, was ek dankbaar om lewendig te wees! Hierdie ondervinding het my laat dink. Ek moes die onsekerheid van die lewe onder die oë sien. Dit maak ’n mens nederig wanneer jy besef dat jy binne ’n paar minute alles kan verloor. Wanneer jou lewe in gevaar is, kan dit te laat wees om jou lewenswyse reg te stel of goeie dade by jou rekord met God te voeg. Nou waardeer ek baie meer die geleentheid wat ek het om my lewe op ’n verstandige manier te gebruik en om elke dag goed te benut in my diens aan my God, Jehovah.—Psalm 90:12.