Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Waarom moet ons die huwelik as heilig beskou?

Waarom moet ons die huwelik as heilig beskou?

Die Bybel se beskouing

Waarom moet ons die huwelik as heilig beskou?

DIE meeste mense sal vandag waarskynlik sê dat hulle in die heiligheid van die huwelik glo. Waarom loop so baie huwelike dan op ’n egskeiding uit? Vir sommige is die huwelik nie veel meer as ’n romantiese belofte en ’n wetlike ooreenkoms nie. Maar beloftes kan verbreek word. Vir mense wat hierdie beskouing van die huwelik het, is dit redelik maklik om hulle huwelik te beëindig wanneer dinge skeef loop.

Hoe beskou God die huweliksreëling? Die antwoord kan gevind word in sy Woord, die Bybel, in Hebreërs 13:4: “Laat die huwelik onder almal eerbaar wees.” Die Griekse woord wat met “eerbaar” vertaal word, dra die gedagte van iets wat kosbaar is en hooggeag word. Wanneer ons waarde aan iets heg, maak ons seker dat ons dit oppas en nie verloor nie, selfs nie eers per ongeluk nie. Dieselfde behoort waar te wees van die huweliksreëling. Christene moet dit as eerbaar beskou—as iets kosbaars wat hulle wil beskerm.

Dit is duidelik dat Jehovah God die huwelik as ’n heilige reëling tussen ’n man en vrou ingestel het. Maar hoe kan ons toon dat ons dieselfde beskouing van die huweliksreëling as hy het?

Liefde en respek

Om eerbied vir die huweliksreëling te hê, vereis dat huweliksmaats aan mekaar eer moet betoon (Romeine 12:10). Die apostel Paulus het aan die eerste-eeuse Christene geskryf: “Elkeen van julle moet ook afsonderlik sy vrou so liefhê soos homself; die vrou daarenteen moet diep respek vir haar man hê.”—Efesiërs 5:33.

Dit is so dat ’n huweliksmaat dalk nie altyd optree op ’n manier wat liefde wek of respek afdwing nie. Nogtans moet Christene sulke liefde en respek toon. Paulus het geskryf: “Hou aan om mekaar te verdra en mekaar vryelik te vergewe as iemand rede tot klagte teen ’n ander het. Net soos Jehovah julle vryelik vergewe het, so moet julle ook doen.”—Kolossense 3:13.

Tyd en aandag

Egpare wat hulle huwelik as heilig beskou, sit tyd opsy om in mekaar se fisiese en emosionele behoeftes te voorsien. Dit sluit seksuele intimiteit in. Die Bybel sê: “Laat die man sy vrou gee wat haar toekom; maar laat die vrou ook dieselfde teenoor haar man doen.”—1 Korintiërs 7:3.

Maar sommige egpare het besluit dat dit vir die man nodig is om tydelik weg te gaan om meer te verdien. Soms moet hy egter onverwags langer wegbly. Hierdie situasie plaas dikwels druk op die huwelik en gee soms aanleiding tot egbreuk en egskeiding (1 Korintiërs 7:2, 5). Daarom het talle Christen-egpare besluit om materiële voordele prys te gee eerder as om die huwelik wat hulle as heilig beskou, in gevaar te stel.

Wanneer probleme ontstaan

Christene wat hulle huwelik eer, gaan nie gou uitmekaar of skei nie sommer wanneer probleme ontstaan nie (Maleagi 2:16; 1 Korintiërs 7:10, 11). Jesus het gesê: ‘Elkeen wat van sy vrou skei, behalwe weens hoerery, stel haar aan egbreuk bloot, en enigiemand wat met ’n geskeide vrou trou, pleeg egbreuk’ (Matteus 5:32). Wanneer ’n egpaar besluit om sonder skriftuurlike gronde te skei of uitmekaar te gaan, doen dit die huwelik oneer aan.

Ons beskouing van die huwelik word ook getoon deur die raad wat ons aan diegene gee wat ernstige huweliksprobleme het. Is ons gou om mense aan te raai om uitmekaar te gaan of te skei? Daar sal dalk wel tye wees wanneer daar grondige redes is om uitmekaar te gaan, soos uitermatige fisiese mishandeling of opsetlike versuim om die gesin te onderhou. a En soos hierbo genoem word, laat die Bybel egskeiding net toe as ’n huweliksmaat hom skuldig maak aan hoerery. Nogtans moet Christene nie ander se besluit in sulke situasies probeer beïnvloed nie. Dit is per slot van rekening die persoon met die huweliksprobleem—nie die een wat die raad gee nie—wat met die gevolge van die besluit moet saamleef.—Galasiërs 6:5, 7.

Vermy ’n onverskillige beskouing

Op party plekke het dit algemeen geword vir mense om die huwelik te gebruik om verblyfreg in ’n ander land te kry. Gewoonlik sluit sulke persone ’n ooreenkoms met ’n burger van daardie land om met hom of haar te trou. Hoewel hierdie egpare getroud is, bly hulle dikwels nie saam nie en het hulle miskien nie eers ’n vriendskaplike verhouding nie. Kort nadat hulle die gewenste verblyfreg gekry het, skei hulle. Hulle beskou hulle huwelik bloot as ’n sakeooreenkoms.

Die Bybel keur nie so ’n onverskillige beskouing goed nie. Ongeag waarom mense in die huwelik tree, dit is ’n heilige reëling wat God as bindend beskou. Die partye in sulke ooreenkomste bly gebonde as man en vrou, en die Bybel se vereistes vir ’n geldige egskeiding met die moontlikheid om met iemand anders te trou, bly van toepassing.—Matteus 19:5, 6, 9.

Soos met enigiets wat die moeite werd is, vereis ’n goeie huwelik inspanning en volharding. Diegene wat nie die heiligheid daarvan waardeer nie, gooi makliker tou op. Of dalk berus hulle hulle maar daarin dat hulle in ’n ongelukkige huwelik is. Daarteenoor weet diegene wat die heiligheid van die huwelik erken dat God van hulle verwag om bymekaar te bly (Genesis 2:24). Hulle besef ook dat hulle hom as die Insteller van die huweliksreëling eer as hulle as huweliksmaats harmonies saamlewe (1 Korintiërs 10:31). Hierdie beskouing beweeg hulle om te volhard en hulle in te span om ’n sukses van hulle huwelik te maak.

[Voetnoot]

a Sien Die Wagtoring, 1 November 1988, bladsye 22-3.