Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Gesin se geloof ondanks beproewing

’n Gesin se geloof ondanks beproewing

’n Gesin se geloof ondanks beproewing

INDIA, ’n gawe negejarige meisie van Wisconsin, VSA, weet wat dit is om siek te wees. Trouens, sy het reeds drie groot operasies en talle kleiner operasies gehad. “Ses jaar lank”, sê haar ma, Lori, “was ongevalle-afdelings, hospitaalverblyf en besoeke aan die dokter ’n belangrike deel van India se lewe.”

Dit het alles begin toe India 18 maande oud was. Sy het ongewone simptome begin vertoon, wat chroniese diarree, hoë koors, ’n opgeswelde maag en buitengewone gewigsverlies ingesluit het. Sy het ook pyn in haar buik gehad. Klein India het twee jaar lank elke nag herhaaldelik wakker geword en gehuil, gekerm en soms selfs geskreeu van die pyn.

India het vreeslik gely terwyl die dokters probeer vasstel het wat verkeerd is. “Ons baba was eintlik besig om dood te gaan van die honger”, sê Lori. “Meer as ’n jaar lank”, voeg Mark, India se pa, by, “het ons gesien hoe ons dogtertjie wegkwyn en het ons nie geweet hoe om haar te help nie. Ek onthou dat ek een aand heeltemal hulpeloos gevoel het terwyl ek en Lori gepraat het oor India se begrafnis, wat ons toe gedink het onvermydelik is.”

Uiteindelik is daar vasgestel dat India verswerende dikdermontsteking het—’n siekte wat die wand van die dikderm aantas. Sy het ook primêre galbuisontsteking gehad, wat verharding van die galbuise in die lewer veroorsaak. Hierdie siektes kon behandel word. Maar operasies was nodig, en die verswerende dikdermontsteking moes met medisyne behandel word. Albei toestande vereis dat die pasiënt tydens die hersteltyd voortdurend gemonitor en versorg word.

Dit is nou meer as sewe jaar sedert India die eerste keer siek geword het. Danksy die sorg van pligsgetroue geneeshere is sy vinnig besig om te herstel. As Jehovah se Getuies meen Mark en Lori dat hulle geloof in God se Woord—veral wat dit oor siekte, die dood en die hoop op ’n toekomstige opstanding sê—hulle gehelp het om te volhard. Dit het dieselfde vir India gedoen. “India het nog altyd openlik gepraat oor die opstandingshoop soos die Bybel dit beskryf”, sê Lori. “Dit is vir haar ’n werklikheid.”

By een geleentheid toe India in die speelkamer van ’n hospitaal was, het sy ’n jong meisie ontmoet wie se suster leukemie gehad het. Lori vertel wat gebeur het: “Die meisie het vir India gesê dat sy bang is dat haar suster dalk sal sterf. India het toe vir haar gesê wat die dood volgens die Bybel is en dat sy nie bang is om dood te gaan nie. Die volgende dag het die meisie se ma met vrae na my toe gekom. Sy was verbaas dat India so openlik en vreesloos oor hierdie dinge kon praat.”

Die gebede van medeaanbidders was vir Mark en Lori ’n ontsaglike onderskraging. “Wanneer ek in die verlede vir mense gesê het dat ek vir hulle sal bid of wanneer ek saam met hulle gebid het”, sê Mark, “het ek altyd gewens dat ek meer vir hulle kan doen. Nou besef ek hoe belangrik dit is om so saam met ander en vir hulle te bid. Gebed was die heel belangrikste ding wat in ons moeilike tye vir ons gedoen kon word. Wat ’n liefdevolle broederskap het ons tog!”

Mark meen ook dat India se siekte hulle gehelp het om te besef wat die belangrikste is. “Ons beskouing van materiële dinge het beslis verander”, sê hy. “Hoe waardeloos lyk sulke dinge tog wanneer jou kind siek is! Die waardevolle dinge in die lewe was—en is—ons verhouding met Jehovah God en ons liefdevolle broederskap.”

Mark en Lori sien saam met India en haar broers en susters uit na die tyd wat die profeet Jesaja voorspel het wanneer “geen inwoner sal sê: ‘Ek is siek’ nie”.—Jesaja 33:24; Openbaring 21:4.

[Prent op bladsy 22]

India Erickson

[Prent op bladsy 23]

San Diego-kinderhospitaal

[Prent op bladsy 23]

India saam met haar gesin