Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoe om wanhoop die hoof te bied

Hoe om wanhoop die hoof te bied

Die Bybelse beskouing

Hoe om wanhoop die hoof te bied

ALLE mense ondervind by tye gevoelens van wanhoop, ten minste in ’n mate. Maar party word so moedeloos dat hulle eerder wil sterf as om te leef.

Die Bybel toon dat selfs getroue knegte van God nie immuun is teen probleme en druk wat tot wanhoop lei nie. Neem byvoorbeeld Elia en Job—hulle albei het ’n goeie verhouding met God geniet. Nadat hy van goddelose koningin Isebel vir sy lewe gevlug het, het Elia vir Jehovah “begin vra dat sy siel moet sterf” (1 Konings 19:1-4, NW). Die regverdige man Job is deur ’n reeks tragedies getref, waaronder ’n verskriklike siekte en die dood van tien kinders (Job 1:13-19; 2:7, 8). Uit wanhoop het hy gesê: “Ek sal die dood bo al my lyding verkies” (Job 7:15, The New English Bible). Dit is duidelik dat hierdie getroue manne van God groot angs ervaar het.

Wanhoop kan vir party wat vandag leef, voortspruit uit die pynlike gevolge van veroudering, die dood van ’n huweliksmaat of ernstige finansiële probleme. Ander vind dat volgehoue stres, die langdurige gevolge van ’n traumatiese ondervinding of gesinsprobleme hulle laat voel asof hulle in die middel van die oseaan spartel, en elke golf maak dit moeiliker om die land te bereik. Een man het gesê: “’n Mens voel nutteloos—asof niemand jou sal mis wanneer jy nie meer daar is nie. Soms is die eensaamheid ondraaglik.”

In party gevalle verbeter mense se omstandighede sodat hierdie intense druk verlig word. Maar gestel ons omstandighede verander nie. Hoe kan die Bybel ons help om wanhoop die hoof te bied?

Die Bybel kan help

Jehovah het die vermoë en die mag gehad om Elia en Job deur hulle moeilike tye te help (1 Konings 19:10-12; Job 42:1-6). Hoe vertroostend is hierdie wete tog vandag vir ons! Die Bybel sê: “God is vir ons ’n toevlug en sterkte; as hulp in benoudhede is hy in hoë mate beproef” (Psalm 46:2; 55:23). Al voel dit of gevoelens van wanhoop ons onderkry, belowe Jehovah dat hy ons met sy reddende regterhand sal ondersteun (Jesaja 41:10). Hoe kan ons van hierdie hulp gebruik maak?

Die Bybel verduidelik: Deur gebed sal “die vrede van God wat alle denke te bowe gaan . . . [ons] harte en [ons] verstandelike vermoëns deur middel van Christus Jesus bewaak” (Filippense 4:6, 7). As gevolg van ons benoudheid sien ons dalk geen oplossing vir ons probleem nie. Maar as ons ‘volhou met gebed’ kan Jehovah ons harte en verstande bewaak, wat ons die nodige krag sal gee om te volhard.—Romeine 12:12; Jesaja 40:28-31; 2 Korintiërs 1:3, 4; Filippense 4:13.

Ons sal daarby baat vind as ons spesifiek in ons gebede is. Hoewel dit dalk moeilik is om ons gedagtes in woorde uit te druk, moet ons die vrymoedigheid hê om met Jehovah te praat oor ons gevoelens en wat ons dink die oorsaak van die probleem is. Ons moet hom vra vir die krag om ons deur elke dag te help. Ons het die versekering: “[Jehovah] vervul die wens van die wat Hom vrees, en Hy hoor hul hulpgeroep en verlos hulle.”—Psalm 145:19.

Bo en behalwe gebed moet ons ook die neiging weerstaan om ons af te sonder (Spreuke 18:1). Party het krag daaruit geput om van hulleself aan ander te gee (Spreuke 19:17; Lukas 6:38). Neem die geval van ’n vrou met die naam Maria, * wat nie net ’n stryd teen kanker gevoer het nie, maar ook agt familielede in net een jaar aan die dood afgestaan het. Maria moes haarself dwing om uit die bed uit op te staan en weer in ’n roetine te kom. Sy het byna elke dag uitgegaan om ander van die Bybel te leer, en sy het Christelike vergaderinge gereeld bygewoon. Wanneer Maria terugkom by die huis, oorweldig haar gevoelens van benoudheid haar opnuut. Maar deur haar toe te spits op hoe sy ander kan help, is Maria in staat om te volhard.

Maar gestel ons vind dit moeilik om te bid of om nie onsself af te sonder nie. Dan moet ons hulp soek. Die Bybel moedig ons aan om na “die ouer manne van die gemeente” te gaan (Jakobus 5:13-16). ’n Man wat al lank aan ernstige depressie ly, het gesê: “Om soms met iemand te praat wat jy vertrou, help om jou gerus te stel en te kalmeer sodat jy rasioneel kan bly dink” (Spreuke 17:17). Wanneer langdurige en kwaai neerslagtigheid natuuurlik op ’n mediese probleem dui, is gepaste professionele hulp moontlik ook nodig. *Matteus 9:12.

Hoewel daar nie maklike oplossings is nie, moet ons nie God se vermoë om ons te help om ons probleme die hoof te bied, onderskat nie (2 Korintiërs 4:8). Ons sal gehelp word om ons ewewig te herwin as ons volhard in gebed, afsondering vermy en bekwame hulp kry. Die Bybel belowe dat God die grondoorsake van ons intense wanhoop geheel en al uit die weg sal ruim. Christene is vasbeslote om op hom te vertrou terwyl hulle op die dag wag wanneer daar ‘aan hierdie vorige dinge nie gedink sal word nie’.—Jesaja 65:17; Openbaring 21:4.

[Voetnote]

^ par. 11 Nie haar regte naam nie.

^ par. 12 Ontwaak! staan nie enige spesifieke behandeling voor nie. Christene moet seker maak dat enige behandeling wat hulle kry nie in stryd met Bybelbeginsels is nie. Sien Die Wagtoring van 15 Oktober 1988, bladsye 25-9, vir meer inligting.