Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Jy gaan sterf!”

“Jy gaan sterf!”

 “Jy gaan sterf!”

SOOS VERTEL DEUR LEANNE KARLINSKY

My soeke na die beste beskikbare behandeling sonder bloed in Spanje

WAARHEEN sou jy gaan as jy na enige plek in die wêreld kon reis? Vir my was die antwoord eenvoudig. Ek gee klas in Spaans by ’n skool, en ek is saam met my man, Jay, en my seun, Joel, in ’n Spaanssprekende gemeente van Jehovah se Getuies in Galax, Virginië, VSA. Ek wou dus baie graag na Spanje reis. Jy kan jou dus voorstel hoe opgewonde ek was toe my ouers aangebied het om my daarheen te neem! Hoewel my man en seun nie kon saamgaan nie, is my droom bewaarheid toe ek en my ouers op ’n vliegtuig geklim het vir ’n direkte vlug na Madrid. Toe ons op 21 April daar aankom, het ons besluit om na Estella, ’n klein dorpie in Navarra, in noordelike Spanje, te ry. Ek het my op die agterste sitplek gerieflik gemaak en spoedig aan die slaap geraak.

Toe ek my kom kry, het ek in ’n veld gelê, met die son wat in my oë skyn. ‘Waar is ek? Hoe het ek hier gekom? Is ek besig om te droom?’ Terwyl hierdie vrae deur my gedagtes gemaal het, het ek bewus geword van ’n nare werklikheid. Iets was verkeerd, en dit was nie ’n droom nie. My linkermou was stukkend geskeur, en ek kon nie my arms of bene beweeg nie. Later het ek uitgevind dat ons motor deur ’n sper-reling gery het en dat ek uit die voertuig geslinger is toe dit teen ’n 20 meter hoë wal afgerol het. Gelukkig kan nie ek of my ouers enigiets van die ongeluk onthou nie.

Ek het om hulp geskree, en ’n vragmotorbestuurder het my kom help. Toe het hy verder teen die wal afgegaan na die motor, waar my ouers vasgekeer was. “Sê vir die ambulans om gou te maak!” het hy vir sy vriend geskree. “Die mense in die motor lyk sleg!” Toe het hy teruggekom na waar ek gelê het en met die beste bedoelings my been reguit probeer maak. Ek het geskree van pyn en vir die eerste keer besef hoe ernstig ek beseer was.

Kort voor lank was ek in die ongevalle-afdeling in die plaaslike hospitaal in Logrono. Die polisie was vriendelik genoeg om Jehovah se Getuies in daardie omgewing te laat weet waar ek was en wat gebeur het. Dit was nie te lank nie of daar was baie uit die gemeentes in Estella en Logrono by my bed, saam met die plaaslike Hospitaalskakelkomitee. Trouens, gedurende die hele tyd wat ek in hierdie hospitaal was, was dierbare mede-Getuies wat ek nog nooit tevore ontmoet het nie gereed en gewillig om dag en nag na my behoeftes om te sien. Hulle het ook op ’n liefdevolle wyse na my ouers omgesien, wat omtrent ’n  week ná die ongeluk genoegsaam herstel het om uit die hospitaal ontslaan te word.

Woensdag, omtrent 1:00 vm., het die dokters gekom om aan my gebreekte heup te opereer. Ek het vir die dokter gesê dat ek nie bloed wil hê nie. * Hy het teësinnig ingestem om aan my versoek te voldoen, maar het gesê dat ek waarskynlik sal sterf. Hoewel ek die operasie oorleef het, het ek dit vreemd gevind dat my wonde nie skoongemaak en dat my verband later nie omgeruil is nie.

Teen Vrydag het my bloedtelling tot 4,7 gedaal, en ek het swakker geword. Die dokter het ingestem om vir my ’n alternatiewe behandeling te gee—eritropoiëtieninspuitings (EPO), wat, saam met yster en bloedbouende aanvullings, die vervaardiging van rooi bloedselle stimuleer. * Teen dié tyd het Jay en Joel daar aangekom. Hoe goed was dit tog om my man en my seun te sien!

Omtrent 1:30 vm. het ’n dokter vir Jay gesê dat die hospitaal alreeds ’n hofbevel gekry het om bloed te gee indien my toestand verswak. Jay het vir hom gesê dat ek onder geen omstandighede bloed wou hê nie. “Dan sal sy sterf!” het die dokter geantwoord.

Jay het met die Hospitaalskakelkomitee gepraat oor die moontlikheid om my na ’n ander hospitaal te laat oorplaas—een wat my wense sou eerbiedig. Dit beteken nie dat almal by die hospitaal ons teëgestaan het nie. Een dokter het my byvoorbeeld verseker dat sy alles moontlik sou doen om seker te maak dat ek met die respek behandel word wat ek verdien. Maar spoedig het ander dokters druk op my geplaas. “Wil jy sterf en jou gesin agterlaat?” het hulle gevra. Ek het hulle verseker dat ek die beste beskikbare behandeling sonder bloed wou hê. Die dokters wou my nog steeds nie help nie. “Jy gaan sterf!” het een reguit gesê.

Die Hospitaalskakelkomitee het ’n hospitaal in Barcelona gevind wat ingestem het om my sonder bloed te behandel. Wat ’n kontras was daar tog tussen die twee hospitale! In Barcelona het twee verpleegsters my sagkens gewas en gemaklik laat voel. Een van die verpleegsters het my verbande omgeruil en gesien dat dit groen en vol droë bloed was. Sy het gesê dat sy skaam is omdat haar landgenote my so behandel het.

Ek het kort daarna die mediese behandeling gekry waarmee hulle by die hospitaal in Logrono moes begin het. Die resultate was merkwaardig. Binne dae was my lewensorgane buite gevaar, en my hemoglobientelling het tot 7,3 gestyg. Toe ek die hospitaal verlaat het, was dit 10,7. Toe ek nog ’n operasie by ’n hospitaal in die Verenigde State moes kry, was dit al 11,9.

Ek waardeer die pogings van dokters en verpleegsters wat bereid is om die wense van hulle pasiënte in ag te neem, ongeag of hulle met hulle saamstem of nie. Wanneer die hospitaalpersoneel ’n pasiënt se opvattings respekteer, behandel hulle die hele persoon—en so voorsien hulle die beste beskikbare behandeling.

[Voetnote]

^ par. 9 Dit is ’n persoonlike besluit of ’n Christen EPO sal aanvaar of nie.—Sien Die Wagtoring van 1 Oktober 1994, bladsy 31.

[Prent op bladsy 12]

Saam met my man en seun

[Prent op bladsy 13]

Twee lede van die Hospitaal-skakelkomitee