Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die dramatiese geskiedenis van ’n “land van kontraste”

Die dramatiese geskiedenis van ’n “land van kontraste”

 Die dramatiese geskiedenis van ’n “land van kontraste”

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN BRASILIË

DIT is al tereg die “land van kontraste” genoem. Hoewel Brasilië hoofsaaklik ’n tropiese land is, wissel die klimaat van subtropies in die suide tot ekwatoriaal in die Amasonestreek. Brasilië se geskiedenis is ook vol kontraste. Deur die jare heen het hierdie uitgestrekte land—met ’n oppervlak van 8 511 999 vierkante kilometer en ’n kuslyn van 7 400 kilometer—die tuiste geword van mense van ’n aantal verskillende kulture.

Gasvryheid was een van die eerste eienskappe wat die Portugese opgemerk het toe hulle 500 jaar gelede in Brasilië voet aan wal gesit het. Trouens, toe Pero Vaz de Caminha in 1500 aan die Portugese koning Manuel I geskryf het, het hy vertel hoe die Brasiliaanse inboorlinge vryelik met hulle Portugese besoekers gemeng het en hulle omhels het. Maar waarom was die Portugese in Brasilië?

Op 9 Maart 1500 het Pedro Álvares Cabral met ’n aantal skepe van Portugal af geseil. Sy plan was om ’n handelspos in Kalikoet, Indië, te stig. Maar voordat Cabral sy bestemming bereik het, het hy aan wal gegaan waar die Brasiliaanse staat Bahia nou is. Dit was op 23 April 1500.

Sommige navorsers sê dat die Portugese toe reeds van Brasilië geweet het en dat Cabral se besoek daar nie toevallig was nie. * Hoe dit ook al sy, die enigste handelsproduk wat Brasilië blykbaar gehad het, was brasielhout, ’n boom wat bekend is vir sy karmosynrooi kleurstof. Hoewel dit beslis potensiaal gehad het, was Indiese speserye meer werd.

Portugal het Brasilië dus vir tien jaar verhuur aan Fernando de Noronha van Portugal, wat brasielhout ingesamel het en belasting aan die Portugese Kroon betaal het. Maar ander Europese lande wou ook hulle handelsbetrekkinge met die Nuwe Wêreld  uitbrei, en Noronha was magteloos om die groeiende onwettige handelsbedrywighede van Franse, Engelse en Spaanse seevaarders te keer. Die Portugese was bang dat hulle Brasilië sou verloor, en daarom het hulle in 1532 die land begin koloniseer. Suikerproduksie het Brasilië se eerste winsgewende bedryf geword.

Die goudmynwese en diamantdelwery het gedurende die 18de eeu florerende bedrywe geword. Teen die begin van die 19de eeu het die verkryging van lateks uit die rubberboom ’n belangrike ekonomiese bedrywigheid in die Amasonestreek geword. * Later het koffieboerdery ’n rol in die verstedeliking van Brasilië gespeel, aangesien dit geld beskikbaar gestel het om spoorlyne te bou en Santos en Rio de Janeiro se hawens te moderniseer. Teen die einde van die 19de eeu is die helfte van die wêreld se koffie in Brasilië geoes, en Sao Paulo was Brasilië se belangrikste ekonomiese sentrum.

Ongelukkig het slawerny ook ’n rol in Brasilië se geskiedenis gespeel. Aan die begin het die Portugese setlaars die Indiane gebruik om die brasielhout af te kap en te vervoer. Later is die Indiane op die suikerrietplantasies gebruik. Ongelukkig het baie inboorlinge Europese siektes opgedoen en daaraan gesterf. Om hierdie werkers te vervang, het Portugal slawe van Afrika af ingevoer.

Deur die jare heen is miljoene Afrikane as slawe na Brasilië gebring, en hulle het hulle kulturele en genetiese erfenis saam met hulle gebring. Hierdie invloed kan gesien word in gewilde musiek soos die samba en in capoeira (’n stelsel waarvolgens geveg word) sowel as in kos soos feijoada, wat van swartbone gemaak word wat saam met varkvleis, wors en biltong gekook word. In 1888 is slawerny uiteindelik in Brasilië afgeskaf. Ongeveer 750 000 mense—waarvan die meeste op plantasies gewerk het—is vrygelaat.

Van die 19de eeu af het miljoene buitelanders na Brasilië gestroom, onder meer Duitsers, Italianers, Japannese, Pole en Spanjaarde sowel as mense van Switserse en Siro-Libanese afkoms. Dit is lekker om in Brasilië te woon. Dit is ryk aan plante- en dierelewe. Oor die algemeen is Brasilië vry van natuurrampe. Daar is geen oorloë, aardbewings, vulkane, siklone of vloedgolwe nie. Kom dus gerus na Brasilië en besoek ’n paar van ons beroemde besienswaardighede. Jy sal dieselfde gasvryheid en natuurskoon geniet wat die Portugese 500 jaar gelede beïndruk het.

[Voetnote]

^ par. 6 Toe die Portugese en die Spanjaarde in 1494 die Verdrag van Tordesillas onderteken het, het hulle die land na die weste van die Suid-Atlantiese Oseaan verdeel. Gevolglik sê party dat Cabral sy reis onderneem het om land in besit te neem wat reeds aan Portugal behoort het.

^ par. 8 Sien die Ontwaak! van 22 Mei 1997, bladsye 14-17.

[Kaart/Prente op bladsy 16, 17]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

 AMASONESTREEK

BAHIA-STAAT

Brasília

Rio de Janeiro

Sao Paulo

Santos

Iguacu-waterval

[Prente]

1. Pedro Álvares Cabral

2. Verdrag van Tordesillas, 1494

3. Koffiedraers

4. Iguacu-waterval, van die Brasiliaanse kant af gesien

5. Ipixuna-Indiaan

[Erkennings]

Culver Pictures

Met vergunning van: Archivo General de Indias, Sevilla, Spain

Uit die boek Brazil and the Brazilians, 1857

FOTO: MOURA

 [Prente op bladsy 18]

1. Daar is baie poemas in Brasilië

2. Orgideë in die Amasone-woud

3. Tradisionele kleredrag van Salvador, Bahia

4. ’n Makao

5. Copacabana-strand, Rio de Janeiro. Brasilië se pragtige kuslyn is meer as 7 000 kilometer lank

[Erkenning]

Met vergunning van: São Paulo Zoo

[Prent op bladsy 19]

Brasília—Brasilië se hoofstad sedert 1960

[Prent op bladsy 19]

Sao Paulo—die ekonomiese kern van Brasilië

[Erkenning]

FOTO: MOURA

[Foto-erkenning op bladsy 16]

© 1996 Visual Language