Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK SEWENTIEN

Die voorreg van gebed

Die voorreg van gebed

“Die Maker van hemel en aarde” wil na ons gebede luister. – Psalm 115:15

1, 2. Hoekom is gebed so ’n spesiale geskenk, en hoekom moet ons weet wat die Bybel daaroor sê?

DIE aarde is baie klein in vergelyking met die heelal. Wanneer Jehovah na die aarde kyk, lyk al die mense van al die nasies net soos ’n druppeltjie water uit ’n emmer (Psalm 115:15; Jesaja 40:15). Al is ons so klein in vergelyking met die heelal, sê Psalm 145:18, 19: “Jehovah is naby almal wat hom aanroep, almal wat hom in opregtheid aanroep. Hy bevredig die begeerte van dié wat hom vrees. Hy hoor hulle geroep om hulp, en hy red hulle.” Wat ’n groot voorreg het ons tog! Jehovah, die almagtige Skepper, wil na aan ons wees, en hy wil na ons gebede luister. Ja, gebed is ’n voorreg, ’n spesiale geskenk wat Jehovah vir elkeen van ons gegee het.

2 Maar Jehovah sal net na ons luister as ons met hom praat op die manier wat hy goedkeur. Hoe kan ons dit doen? Kom ons kyk wat die Bybel oor gebed sê.

HOEKOM MOET ONS TOT JEHOVAH BID?

3. Hoekom moet jy tot Jehovah bid?

3 Jehovah wil hê dat jy met hom moet praat. Hoe weet ons dit? Lees Filippense 4:6, 7Dink na oor daardie liefdevolle uitnodiging. Die Heerser van die heelal stel baie belang in jou en wil hê dat jy vir hom moet sê hoe jy voel en dat jy hom van jou probleme moet vertel.

4. Hoe word ’n mens se vriendskap met Jehovah sterker as jy gereeld tot hom bid?

4 Gebed help ons om ’n goeie vriendskap met Jehovah te hê. Wanneer vriende gereeld met mekaar praat oor hulle gedagtes, bekommernisse en gevoelens, word hulle vriendskap sterker. Dit is ook wat gebeur wanneer ons tot Jehovah bid. Deur middel van die Bybel sê hy vir jou wat hy dink en hoe hy voel, en hy sê ook vir jou wat hy in die toekoms gaan doen. Jy kan hom van jou diepste gevoelens vertel deur gereeld met hom te praat. As jy dit doen, sal jou vriendskap met Jehovah baie sterker word. – Jakobus 4:8.

WAT MOET ONS DOEN SODAT GOD NA ONS GEBEDE SAL LUISTER?

5. Hoe weet ons dat Jehovah nie na alle gebede luister nie?

5 Luister Jehovah na alle gebede? Nee, hy luister nie na alle gebede nie. In die tyd van die profeet Jesaja het Jehovah vir die Israeliete gesê: “Al bid julle hoe baie, luister ek nie. Julle hande is vol bloed” (Jesaja 1:15). Ons moet dus versigtig wees om nie dinge te doen wat sal maak dat Jehovah nie na ons gebede luister nie.

6. Hoekom is geloof so belangrik? Hoe wys ’n mens dat jy geloof het?

6 As ons wil hê dat Jehovah na ons gebede moet luister, moet ons geloof in hom hê (Markus 11:24). Die apostel Paulus het verduidelik: “Sonder geloof is dit onmoontlik om God se goedkeuring te verkry, want as iemand God wil nader, moet hy glo dat hy bestaan en dat hy die beloner word van dié wat hom ernstig soek” (Hebreërs 11:6). Maar dit is nie genoeg om net te sê dat ons geloof het nie. Ons moet duidelik bewys dat ons geloof het deur elke dag aan Jehovah gehoorsaam te wees. – Lees Jakobus 2:26.

7. (a) Hoekom moet ons nederig en respekvol wees wanneer ons tot Jehovah bid? (b) Hoe kan ons wys dat ons opreg is wanneer ons bid?

7 Ons moet nederig en respekvol wees wanneer ons tot Jehovah bid. Hoekom? Wel, as jy met ’n koning of ’n president kon praat, sou jy dit mos op ’n respekvolle manier doen. Jehovah is God die Almagtige. Moet ons nie selfs nederiger en meer respekvol wees wanneer ons met hom praat nie? (Genesis 17:1; Psalm 138:6). Ons moet ook opreg wees en uit ons hart tot Jehovah bid. Ons moenie net dieselfde woorde oor en oor sê nie. – Matteus 6:7, 8.

8. Wat moet ons nog doen as ons oor iets bid?

8 Laastens, wanneer ons oor iets bid, moet ons ook van ons kant af doen wat ons kan. As ons byvoorbeeld oor ons daaglikse behoeftes tot Jehovah bid, kan ons nie lui wees en verwag dat Jehovah vir ons alles moet gee nie. Ons moet hard werk en bereid wees om enige werk wat ons kan doen, te aanvaar (Matteus 6:11; 2 Tessalonisense 3:10). Of as ons tot Jehovah bid om ons te help om ’n swakheid te oorkom, moet ons enige situasie vermy wat ons in die versoeking kan bring (Kolossense 3:5). Kom ons ondersoek nou ’n paar algemene vrae oor gebed.

ALGEMENE VRAE OOR GEBED

9. Tot wie moet ons bid? Wat leer Johannes 14:6 ons oor gebed?

9 Tot wie moet ons bid? Jesus het sy volgelinge geleer om tot “ons Vader in die hemel” te bid (Matteus 6:9). Hy het ook gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader behalwe deur my nie” (Johannes 14:6). Ons moet dus net tot Jehovah bid, deur Jesus. Wat beteken dit om deur Jesus te bid? Jehovah sal ons gebede net aanvaar as ons respek toon vir die spesiale rol wat Jehovah vir Jesus gegee het. Soos ons geleer het, het Jesus aarde toe gekom om ons van sonde en die dood te red (Johannes 3:16; Romeine 5:12). Jehovah het Jesus ook as Hoëpriester en Regter aangestel. – Johannes 5:22; Hebreërs 6:20.

Jy kan enige tyd bid

10. Moet ons kniel wanneer ons bid? Verduidelik.

10 Moet ons ’n spesiale posisie of liggaamshouding inneem wanneer ons bid? Nee, Jehovah verwag nie dat ons moet kniel, sit of staan wanneer ons bid nie. Die Bybel leer dat ons in enige posisie kan bid, solank dit respekvol is (1 Kronieke 17:16; Nehemia 8:6; Daniël 6:10; Markus 11:25). Wat vir Jehovah die belangrikste is, is dat ons die regte gesindheid het wanneer ons met hom praat, en nie ons posisie nie. Dit maak nie saak waar ons is of hoe laat dit is nie, en ons kan hardop of stilletjies tot hom bid. Wanneer ons tot Jehovah bid, kan ons seker wees dat hy na ons sal luister, al kan niemand anders ons gebed hoor nie. – Nehemia 2:1-6.

11. Wat is sommige dinge waaroor ons met Jehovah kan praat?

11 Waaroor mag ons bid? Ons kan oor enigiets bid wat in ooreenstemming is met Jehovah se wil. Die Bybel sê dat “hy ons hoor, ongeag wat ons volgens sy wil vra” (1 Johannes 5:14). Kan ons oor persoonlike dinge bid? Ja. Om tot Jehovah te bid, moet wees soos om met ’n goeie vriend te gesels. Ons kan vir Jehovah enigiets vertel wat in ons hart is (Psalm 62:8). Ons kan hom vra om vir ons sy kragtige heilige gees te gee om ons te help om te doen wat reg is (Lukas 11:13). Ons kan Jehovah ook vra vir wysheid om goeie besluite te neem, en ons kan vir krag bid om probleme te hanteer (Jakobus 1:5). Ons moet Jehovah vra om ons sondes te vergewe (Efesiërs 1:3, 7). Ons moet ook vir ander bid, insluitende ons gesin en ons broers en susters in die gemeente. – Handelinge 12:5; Kolossense 4:12.

12. Wat moet die belangrikste in ons gebede wees?

12 Wat moet die belangrikste in ons gebede wees? Jehovah en sy wil. Ons moet hom uit ons hart bedank vir alles wat hy vir ons doen (1 Kronieke 29:10-13). Toe Jesus op die aarde was, het hy sy dissipels geleer hoe om te bid. (Lees Matteus 6:9-13.) Hy het gesê dat hulle eers moet bid dat God se naam geheilig moet word, dit wil sê as heilig beskou moet word. Toe het Jesus gesê dat ons moet bid dat God se Koninkryk moet kom en dat Jehovah se wil regoor die aarde gedoen moet word. Eers nadat Jesus oor hierdie baie belangrike dinge gebid het, het hy gesê dat ons oor ons persoonlike behoeftes moet bid. Wanneer ons Jehovah en sy wil eerste in ons gebede stel, wys ons watter dinge vir ons die belangrikste is.

13. Hoe lank moet ons gebede wees?

13 Hoe lank moet ons gebede wees? Die Bybel sê nie. Ons gebede kan kort of lank wees, afhangende van die situasie. Byvoorbeeld, ons sê dalk ’n kort gebed wanneer ons eet, maar wanneer ons Jehovah bedank of hom van ons bekommernisse vertel, sal ons gebed dalk langer wees (1 Samuel 1:12, 15). Ons wil nie lang gebede sê net om ander te beïndruk, soos party mense in Jesus se dag gedoen het nie (Lukas 20:46, 47). Jehovah word nie deur sulke gebede beïndruk nie. Wat vir Jehovah belangrik is, is dat ons uit die hart bid.

14. Hoe dikwels moet ons bid, en wat leer dit ons oor Jehovah?

14 Hoe dikwels moet ons bid? Jehovah nooi ons om gereeld met hom te praat. Die Bybel sê dat ons ‘aanhoudend moet bid’, moet ‘volhou met gebed’ en ‘sonder ophou moet bid’ (Matteus 26:41; Romeine 12:12; 1 Tessalonisense 5:17). Jehovah is altyd gereed om na ons te luister. Ons kan hom elke dag vir sy liefde en vrygewigheid bedank. Ons kan hom ook vra om ons te lei, krag te gee en te vertroos. As ons regtig dankbaar is vir ons voorreg om tot Jehovah te bid, sal ons elke geleentheid gebruik om met hom te praat.

15. Hoekom moet ons “amen” sê aan die einde van ’n gebed?

15 Hoekom moet ons “amen” sê aan die einde van ’n gebed? Die woord “amen” beteken “beslis” of “laat dit so wees”. Deur dit te sê, wys ons dat ons bedoel wat ons in ons gebed gesê het, dit wil sê dat ons opreg is (Psalm 41:13). Die Bybel leer ons dat dit ook goed is om aan die einde van ’n openbare gebed, stilletjies of hardop, “amen” te sê om te wys dat ons saamstem met wat gesê is. – 1 Kronieke 16:36; 1 Korintiërs 14:16.

HOE GOD ONS GEBEDE BEANTWOORD

16. Beantwoord Jehovah werklik ons gebede? Verduidelik.

16 Beantwoord Jehovah werklik ons gebede? Ja, beslis. Die Bybel noem hom die “Hoorder van gebed” (Psalm 65:2). Jehovah luister na en beantwoord die opregte gebede van miljoene mense, en hy doen dit op baie maniere.

17. Hoe gebruik Jehovah engele en sy knegte op aarde om ons gebede te beantwoord?

17 Jehovah gebruik engele en sy knegte op aarde om ons gebede te beantwoord (Hebreërs 1:13, 14). Daar is baie voorbeelde van mense wat gebid het vir hulp om die Bybel te verstaan en wat kort daarna deur een van Jehovah se Getuies besoek is. Die Bybel toon dat die engele betrokke is by die verkondiging van die “goeie nuus” regoor die aarde. (Lees Openbaring 14:6.) Baie van ons het al oor ’n spesifieke probleem of behoefte tot Jehovah gebid en dan die nodige hulp van ’n medegelowige ontvang. – Spreuke 12:25; Jakobus 2:16.

Jehovah kan ons gebede beantwoord deur ander Christene te beweeg om ons te help

18. Hoe gebruik Jehovah sy heilige gees en die Bybel om gebede te beantwoord?

18 Jehovah gebruik sy heilige gees om ons gebede te beantwoord. Wanneer ons vir hulp bid om ’n probleem te hanteer, kan hy sy heilige gees gebruik om vir ons leiding en krag te gee (2 Korintiërs 4:7). Jehovah gebruik ook die Bybel om ons gebede te beantwoord en om ons te help om wyse besluite te neem. Wanneer ons die Bybel lees, vind ons dalk tekste wat ons kan help. Jehovah kan ook iemand by ’n vergadering beweeg om iets te sê wat ons kan help, of Hy kan ’n ouerman in die gemeente beweeg om ’n gedagte uit die Bybel met ons te deel. – Galasiërs 6:1.

19. Hoekom lyk dit soms of Jehovah nie ons gebede beantwoord nie?

19 Maar soms wonder ons dalk: ‘Hoekom het Jehovah nog nie my gebede beantwoord nie?’ Onthou, hy weet wanneer en hoe om ons gebede te beantwoord. Hy weet wat ons nodig het. Ons sal dalk ’n ruk lank moet aanhou bid om te wys dat ons werklik bedoel wat ons vir hom sê en om te wys dat ons werklik geloof in hom het (Lukas 11:5-10). Soms beantwoord Jehovah ons gebede op ’n manier wat ons dalk nie verwag nie. Byvoorbeeld, ons bid miskien oor ’n moeilike situasie, maar eerder as om die probleem weg te neem, gee hy ons dalk die krag om dit te verduur. – Lees Filippense 4:13.

20. Hoekom moet ons dikwels tot Jehovah bid?

20 Wat ’n wonderlike voorreg het ons tog om tot Jehovah te bid! Ons kan seker wees dat hy na ons sal luister (Psalm 145:18). En hoe meer ons uit ons hart tot Jehovah bid, hoe sterker sal ons vriendskap met hom word.