Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 HOOFSTUK EEN

Wie is God?

Wie is God?

1, 2. Watter vrae vra mense dikwels?

KINDERS vra baie vrae. Jy verduidelik miskien iets vir hulle, maar dikwels vra hulle: ‘Hoekom?’ En wanneer jy probeer om vir hulle ’n antwoord te gee, vra hulle miskien: ‘Maar hoekom?’

2 Dit maak nie saak of ons jonk of oud is nie, ons het almal vrae. Ons het dalk vrae oor wat ons sal eet of aantrek of koop. Of ons het dalk belangrike vrae oor die lewe en die toekoms. Maar wanneer ons nie antwoorde vind waarmee ons tevrede is nie, hou ons dalk op om na antwoorde te soek.

3. Hoekom dink baie mense dat hulle nie die antwoorde op hulle belangrike vrae kan vind nie?

3 Het die Bybel die antwoorde op die belangrike vrae wat ons vra? Hoewel sommige mense so dink, voel hulle dat die Bybel te moeilik is om te verstaan. Hulle dink miskien dat net onderwysers of predikante die antwoorde kan verstaan. En ander is te skaam om te erken dat hulle nie die antwoorde ken nie. Wat dink jy?

4, 5. Watter belangrike vrae het jy? Hoekom moet jy aanhou soek na die antwoorde?

4 Jy wil moontlik antwoorde hê op vrae soos: Waarom is ons hier? Wat sal met my gebeur wanneer ek sterf? Watter soort persoon is God? Jesus, die bekende Onderrigter, het gesê: “Hou aan vra, en daar sal vir julle gegee word. Hou aan soek, en julle sal vind. Hou  aan klop, en daar sal vir julle oopgemaak word” (Matteus 7:7). Moenie ophou soek totdat jy betroubare antwoorde gevind het nie.

5 Ja, as jy ‘aanhou soek’, sal jy die antwoorde in die Bybel vind (Spreuke 2:1-5). Hierdie antwoorde is nie te moeilik om te verstaan nie. Wat jy leer, sal jou nou gelukkiger maak en jou ’n wonderlike hoop vir die toekoms gee. Kom ons bespreek ’n vraag waaroor baie mense al gewonder het.

GEE GOD VIR ONS OM OF IS HY WREED?

6. Hoekom dink party mense dat God nie omgee dat hulle swaarkry nie?

6 Baie mense dink dat God nie vir ons omgee nie. Hulle dink dat die wêreld baie anders sou gewees het as God regtig vir ons omgegee het. Daar is baie oorloë en haat in die wêreld en baie mense kry swaar. Mense word siek, hulle ly en hulle sterf. Party mense wonder: ‘As God vir ons omgee, hoekom maak hy dan nie ’n einde aan al hierdie probleme nie?’

7. (a) Wat sê godsdiensleiers wat mense laat dink dat God wreed is? (b) Hoekom kan ons seker wees dat dit nie God se skuld is wanneer slegte dinge gebeur nie?

7 Godsdiensleiers laat mense soms dink dat God wreed is. Wanneer slegte dinge gebeur, sê hulle dat dit God se wil is. Hulle sê dat hy wou hê dit moet gebeur. Wanneer hulle so sê, sê hulle eintlik dat dit God se skuld is. Maar die Bybel leer dat God nooit slegte dinge veroorsaak nie. Jakobus 1:13 sê vir ons dat God nooit slegte dinge gebruik om mense te toets nie. Dit sê: “Laat niemand wat deur ’n moeilike tyd gaan, sê: ‘Ek word deur God getoets’ nie. Want God kan nie met  slegte dinge getoets word nie, en hy toets ook niemand met slegte dinge nie.” Met ander woorde, alhoewel God nie keer dat slegte dinge gebeur nie, is hy nooit die oorsaak daarvan nie. (Lees Job 34:10-12.) Kom ons kyk na ’n voorbeeld.

8, 9. Hoekom is dit nie reg om God vir ons probleme te blameer nie? Gee ’n voorbeeld.

8 Dink aan ’n jong man wat nog by sy ouers woon. Sy pa is baie lief vir hom en het hom geleer om goeie besluite te neem. Maar dan raak die jong man opstandig en verlaat hy die huis. Hy doen slegte dinge en beland in die moeilikheid. Sou jy die pa blameer vir wat gebeur het omdat hy nie sy seun gekeer het om die huis te verlaat nie? Natuurlik nie! (Lukas 15:11-13). Soos daardie pa, het God mense nie gekeer toe hulle besluit het om in opstand te kom en te doen wat sleg is nie. Wanneer slegte dinge gebeur, moet ons dus onthou dat God dit nie veroorsaak het nie. Dit sal nie reg wees om God te blameer nie.

9 Daar is ’n baie goeie rede waarom God nog nie ’n einde gemaak het aan slegte dinge nie. In Hoofstuk 11 sal jy leer wat die Bybel hieroor sê. Maar jy kan seker wees dat God lief is vir ons en nooit ons probleme veroorsaak nie. Om die waarheid te sê, hy is die enigste Een wat ons probleme kan oplos. – Jesaja 33:2.

10. Hoekom kan ons seker wees dat God al die skade sal herstel wat deur slegte mense veroorsaak is?

10 God is heilig (Jesaja 6:3). Alles wat hy doen, is rein, suiwer en goed. Daarom kan ons hom vertrou. Mense is nie so nie. Hulle doen soms dinge wat verkeerd is. En selfs die eerlikste heerser het nie die mag  om al die skade te herstel wat deur slegte mense veroorsaak is nie. Niemand het soveel mag soos God nie. Hy kan en sal al die skade herstel wat deur slegte mense veroorsaak is. Hy sal alle goddeloosheid vir ewig verwyder. – Lees Psalm 37:9-11.

HOE VOEL GOD WANNEER MENSE SWAARKRY?

11. Hoe voel God daaroor wanneer jy swaarkry?

11 Hoe voel God wanneer hy sien wat in die wêreld gebeur en wat jy deurmaak? Die Bybel leer dat God ‘lief is vir geregtigheid’ (Psalm 37:28). Daarom is hy besorg oor wat reg en wat verkeerd is. Hy haat dit wanneer mense swaarkry. Die Bybel sê dat hy ‘hartseer was’ toe hy lank gelede gesien het dat die wêreld baie sleg was (Genesis 6:5, 6). God het nie verander nie (Maleagi 3:6). Die Bybel sê dat God werklik vir jou omgee. – Lees 1 Petrus 5:7.

Die Bybel leer dat Jehovah die liefdevolle Skepper van die heelal is

12, 13. (a) Hoekom gee ons om vir ander mense, en hoe voel ons oor die pyn en hartseer in die wêreld? (b) Hoekom kan ons seker wees dat God alle pyn, hartseer en ongeregtigheid sal verwyder?

12 Die Bybel sê ook dat God ons na sy beeld geskep het (Genesis 1:26). Dit beteken dat God ons geskep het met dieselfde goeie eienskappe as wat hy het. As dit jou hartseer laat voel wanneer jy onskuldige mense sien swaarkry, kan jy seker wees dat God selfs hartseerder voel wanneer hy dit sien! Hoe weet ons dit?

13 Die Bybel sê: “God is liefde” (1 Johannes 4:8). Alles wat God doen, doen hy uit liefde. Ons het dus lief omdat God liefhet. Dink hieraan: As jy die mag gehad het, sou jy al die pyn, hartseer en ongeregtigheid in die wêreld verwyder? Natuurlik sou jy, want jy is lief vir mense. Wat van God? Hy het die mag om alle pyn,  hartseer en ongeregtigheid te verwyder. En omdat hy ons liefhet, sal hy dit doen. Jy kan seker wees dat al God se beloftes wat aan die begin van hierdie boek genoem is, waar sal word! Maar om hierdie beloftes te vertrou, moet jy meer omtrent God weet.

GOD WIL HÊ DAT JY HOM MOET KEN

As jy iemand se vriend wil wees, sê jy vir hom wat jou naam is. God sê in die Bybel vir ons wat sy naam is

14. Wat is God se naam, en hoe weet ons dat ons dit moet gebruik?

14 Wat is gewoonlik die eerste ding wat jy vir iemand vertel as jy sy vriend wil wees? Jou naam. Het God ’n naam? Baie godsdienste sê dat sy naam God of Here is, maar dit is nie name nie. Dit is net titels, soos “koning” of “president”. God het vir ons gesê dat sy naam Jehovah is. Psalm 83:18 sê: “Mag mense weet dat u, wie se naam Jehovah is, u alleen die Allerhoogste oor die hele aarde is.” Bybelskrywers het God se naam duisende kere gebruik. Jehovah wil hê dat jy sy naam moet ken en moet gebruik. Hy sê vir jou wat sy naam is sodat jy sy vriend kan word.

15. Wat beteken die naam Jehovah?

15 God se naam, Jehovah, is vol betekenis. Sy naam, Jehovah, beteken dat God enige belofte wat hy maak, kan nakom en enigiets kan doen  wat hy in gedagte het. Niks kan hom keer nie. Jehovah is die enigste persoon wat hierdie naam kan hê. *

16, 17. Wat beteken (a) “die Almagtige”? (b) “Koning van die ewigheid”? (c) “Skepper”?

16 Soos ons vroeër gelees het, sê Psalm 83:18 oor Jehovah: ‘U alleen is die Allerhoogste.’ En Openbaring 15:3 sê: “Groot en wonderlik is u werke, Jehovah God,  die Almagtige. U is regverdig en betroubaar in alles wat u doen, Koning van die ewigheid.” Wat beteken die titel “die Almagtige”? Dit beteken dat Jehovah die magtigste persoon is wat bestaan. En die titel “Koning van die ewigheid” beteken dat hy nog altyd bestaan het. Psalm 90:2 verduidelik dat hy van ewigheid tot ewigheid is. Is dit nie wonderlik nie!

17 Net Jehovah is die Skepper. Openbaring 4:11 sê: “U is waardig, Jehovah ons God, om die heerlikheid en die eer en die krag te ontvang, want u het alles geskep, en deur u wil bestaan hulle en is hulle geskep.” Ja, alles waaraan jy kan dink – die engele in die hemel, die sterre in die naghemel, die vrugte aan die bome en die visse in die see – Jehovah het dit alles geskep!

 KAN JY JEHOVAH SE VRIEND WEES?

18. Hoekom dink sommige mense dat hulle nooit God se vriend kan wees nie? Wat sê die Bybel hieroor?

18 Wanneer sommige mense van Jehovah se wonderlike eienskappe lees, word hulle bang en dink hulle: ‘God is so magtig, so belangrik en so ver van ons af, hoekom sou hy vir my omgee?’ Maar wil God hê dat ons so moet voel? Glad nie. Jehovah wil na aan ons wees. Die Bybel sê dat God “nie ver van elkeen van ons af” is nie (Handelinge 17:27). God wil hê dat jy nader aan hom moet kom, en hy belowe dat ‘hy nader aan jou sal kom’. – Jakobus 4:8.

19. (a) Hoe kan jy God se vriend word? (b) Van watter eienskappe van Jehovah hou jy die meeste?

19 Hoe kan jy God se vriend word? Jesus het gesê: “Om die ewige lewe te ontvang, moet hulle u leer ken, die enigste ware God, en ook die een wat u gestuur het, Jesus Christus” (Johannes 17:3). Hou aan leer, en jy sal Jehovah en Jesus leer ken. En dan sal jy die ewige lewe kan kry. Ons het byvoorbeeld alreeds geleer: “God is liefde” (1 Johannes 4:16). Maar hy het ook baie ander pragtige eienskappe. Die Bybel sê vir ons dat Jehovah ’n God is “wat genadig is en medelye betoon, wat nie gou kwaad word nie en vol lojale liefde en waarheid is” (Eksodus 34:6). Jehovah is “goed en vergewe vryelik” (Psalm 86:5). God is geduldig en lojaal (2 Petrus 3:9; Openbaring 15:4). Jy sal baie meer oor sy pragtige eienskappe leer wanneer jy van hom in die Bybel lees.

20, 21. Hoe kan jy nader aan God kom, al kan jy hom nie sien nie?

20 Hoe kan jy nader aan God kom, al kan jy hom nie sien nie? (Johannes 1:18; 4:24; 1 Timoteus 1:17). Wanneer jy in die Bybel van Jehovah lees, leer ken jy  hom as ’n werklike Persoon (Psalm 27:4; Romeine 1:20). Hoe meer jy van Jehovah leer, hoe liewer sal jy vir hom word en hoe nader sal jy aan hom kom.

’n Pa is lief vir sy kinders, maar ons hemelse Vader is selfs liewer vir ons

21 Jy sal verstaan dat Jehovah ons Vader is (Matteus 6:9). Hy het vir ons lewe gegee en wil ook hê dat ons die beste lewe moontlik moet hê. Dit is wat ’n liefdevolle vader vir sy kinders wil hê (Psalm 36:9). Ja, die Bybel leer dat jy Jehovah se vriend kan word (Jakobus 2:23). Dink net: Jehovah, die Skepper van die heelal, wil hê dat jy sy vriend moet wees!

22. Wat moet jy doen as ander wil hê dat jy moet ophou om die Bybel te studeer?

22 Party mense sal dalk wil hê dat jy moet ophou om die Bybel te studeer. Hulle is dalk bang dat jy van godsdiens sal verander. Maar moenie toelaat dat enigiemand jou keer om Jehovah se vriend te word nie. Hy is die beste Vriend wat jy ooit kan hê.

23, 24. (a) Hoekom moet jy aanhou om vrae te vra? (b) Wat sal ons in die volgende hoofstuk bespreek?

23 Terwyl jy die Bybel studeer, sal daar dinge wees wat jy nie verstaan nie. Moenie skaam wees om vrae te vra of hulp te vra nie. Jesus het gesê dat ons nederig moet wees, soos jong kinders (Matteus 18:2-4). En kinders vra baie vrae. God wil hê dat jy die antwoorde moet vind. Daarom moet jy die Bybel deeglik studeer om seker te maak dat wat jy leer die waarheid is. – Lees Handelinge 17:11.

24 Die beste manier om van Jehovah te leer, is om die Bybel te studeer. In die volgende hoofstuk sal ons uitvind waarom die Bybel anders is as enige ander boek.

^ par. 15 As jou Bybel nie die naam Jehovah bevat nie of as jy meer inligting wil hê oor die betekenis en die uitspraak van God se naam, sien asseblief Eindnota 1.