Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Waarom moet ons in Jesus se naam bid?

Waarom moet ons in Jesus se naam bid?

JESUS het ander dikwels oor gebed geleer. In sy dag het die Joodse godsdiensleiers “op die hoeke van die breë strate” gebid. Waarom? “Om deur die mense gesien te word.” Hulle wou klaarblyklik vir hulle vroomheid bewonder word. Baie het lang, herhalende smeekbedes gedoen, asof “baie woorde” nodig was sodat ’n gebed verhoor kon word (Matteus 6:5-8). Jesus het duidelik getoon dat sulke gebruike tevergeefs is en het opregte mense sodoende gehelp om te weet wat om te vermy wanneer hulle bid. Maar hy het meer gedoen as om ander te leer hoe om nie te bid nie.

Jesus het geleer dat ons gebede ons begeerte moet weerspieël om te sien dat God se naam geheilig word, dat Sy Koninkryk kom en dat Sy wil geskied. Jesus het ook geleer dat dit gepas is om God te vra om ons met persoonlike sake te help (Matteus 6:9-13; Lukas 11:2-4). Deur illustrasies te gebruik, het Jesus getoon dat ons volharding, geloof en nederigheid nodig het as ons wil hê dat ons gebede verhoor moet word (Lukas 11:5-13; 18:1-14). En hy het sy leringe verder deur middel van sy eie voorbeeld ingeskerp.—Matteus 14:23; Markus 1:35.

Hierdie onderrigting het Jesus se dissipels ongetwyfeld gehelp om hulle gebede te verbeter. Nogtans het Jesus tot sy laaste aand op aarde gewag voordat hy sy dissipels die belangrikste les oor gebed geleer het.

 “Die keerpunt in die geskiedenis van gebed”

Jesus het die grootste deel van sy laaste aand gebruik om sy getroue apostels aan te moedig. Dit was die gepaste tyd om iets nuuts te openbaar. “Ek is die weg en die waarheid en die lewe”, het Jesus gesê. “Niemand kom na die Vader behalwe deur my nie.” Later het hy vir hulle die gerusstellende belofte gegee: “Wat julle ook al in my naam vra, dit sal ek doen, sodat die Vader in verband met die Seun verheerlik kan word. As julle enigiets in my naam vra, sal ek dit doen.” Aan die einde van sy bespreking het hy gesê: “Tot nou toe het julle hoegenaamd niks in my naam gevra nie. Vra en julle sal ontvang, dat julle vreugde volkome gemaak kan word.”—Johannes 14:6, 13, 14; 16:24.

Dit was treffende woorde. Een naslaanwerk beskryf dit as “die keerpunt in die geskiedenis van gebed”. Jesus het nie bedoel dat gebede tot hom in plaas van God gerig moet word nie. Hy het dit eerder moontlik gemaak om Jehovah God op ’n nuwe manier te nader.

God het weliswaar nog altyd na die gebede van sy getroue knegte geluister (1 Samuel 1:9-19; Psalm 65:2). Maar van die tyd af toe Israel God se verbondsvolk geword het, moes dié wat wou hê dat hulle gebede verhoor word, erken dat Israel God se uitverkore nasie was. En later, van die tyd van Salomo af, moes hulle erken dat die tempel God se gekose plek vir offerandes was (Deuteronomium 9:29; 2 Kronieke 6:32, 33). Maar hierdie stelsel van aanbidding was net tydelik. Soos die apostel Paulus geskryf het, was die Wet wat aan Israel gegee is en die offerandes wat by die tempel gebring is, “’n skaduwee . . . van die toekomstige goeie dinge, maar nie die wese van die dinge nie” (Hebreërs 10:1, 2). Die skaduwee moes plek maak vir die werklikheid (Kolossense 2:17). Sedert 33 G.J. hang ’n persoon se verhouding met Jehovah nie meer af van gehoorsaamheid aan die Mosaïese Wet nie. Dit is eerder gegrond op gehoorsaamheid aan die een na wie die Wet vooruitgewys het—Christus Jesus.—Johannes 15:14-16; Galasiërs 3:24, 25.

’n Naam “bo elke ander naam”

Jesus het ’n beter grondslag voorsien om Jehovah te nader. Hy het homself as ’n invloedryke vriend geïdentifiseer, iemand wat die weg open sodat God na ons gebede luister en dit verhoor. Wat stel Jesus in staat om op hierdie manier ten behoewe van ons op te tree?

Aangesien ons almal in sonde gebore is, kan   geen werke wat ons doen of offers wat ons bring, ons reinig van hierdie vlek of ons die reg gee om ’n verhouding met ons heilige God, Jehovah, te hê nie (Romeine 3:20, 24; Hebreërs 1:3, 4). Maar Jesus het sy volmaakte menselewe opgeoffer en vir die sondes van die loskoopbare mensdom betaal (Romeine 5:12, 18, 19). Nou het almal wat wil, die geleentheid om ’n rein posisie voor Jehovah te verkry en om “vrymoedigheid van spraak” teenoor God te geniet—maar slegs as hulle geloof in Jesus se offerande beoefen en in sy naam bid.—Efesiërs 3:11, 12.

Wanneer ons in Jesus se naam bid, toon ons geloof in ten minste drie fasette van sy rol in die verwesenliking van God se voorneme: (1) Hy is “die Lam van God”, wie se offerande die grondslag vir die vergifnis van sonde voorsien. (2) Hy is deur Jehovah opgewek en dien nou as “hoëpriester” om die voordele van die losprys aan te wend. (3) Hy alleen is “die weg” waardeur ons Jehovah in gebed kan nader.—Johannes 1:29; 14:6; Hebreërs 4:14, 15.

Ons betoon eer aan Jesus wanneer ons in sy naam bid. Hierdie eer is gepas, want dit is Jehovah se wil dat ‘elke knie in die naam van Jesus buig en elke tong openlik erken dat Jesus Christus Here is tot die heerlikheid van God die Vader’ (Filippense 2:10, 11). Maar nog belangriker, wanneer ons in Jesus se naam bid, verheerlik dit Jehovah, die een wat sy Seun om ons onthalwe gegee het.—Johannes 3:16.

Ons moet met ons “hele hart” bid, nie op ’n werktuiglike manier nie

Die Bybel gebruik verskeie titels en name om Jesus te beskryf, sodat ons die belangrikheid en omvang van sy posisie kan begryp. Dit help ons om te verstaan hoe ons baat vind by wat Jesus reeds vir ons gedoen het, op die oomblik vir ons doen en nog vir ons sal doen. (Sien die venster “ Jesus se noodsaaklike rol””.) Ja, Jesus is “die naam gegee wat bo elke ander naam is”. * Alle gesag in die hemel en op die aarde is aan hom gegee.—Filippense 2:9; Matteus 28:18.

Meer as net ’n gewoonte

Ja, ons moet in Jesus se naam bid as ons wil hê dat Jehovah ons gebede moet verhoor  (Johannes 14:13, 14). Maar ons wil nooit die frase “in Jesus se naam” herhaal bloot omdat dit ’n gewoonte is nie. Waarom nie?

Kyk na ’n illustrasie. Wanneer jy ’n brief van ’n sakeman ontvang, word dit moontlik met ’n gebruiklike “dankbaar die uwe” afgesluit. Dink jy dat dit ’n opregte uitdrukking is van hoe die sakeman voel, of voldoen hy bloot aan ’n voorgeskrewe standaard vir die skryf van briewe? Dit is duidelik dat die gebruik van Jesus se naam in ons gebede betekenisvoller moet wees as die beleefde slot van ’n sakebrief. Hoewel ons ‘onophoudelik moet bid’, moet ons dit met ons “hele hart” doen, nie op ’n werktuiglike manier nie.—1 Tessalonisense 5:17; Psalm 119:145.

Hoe kan jy dit vermy om die frase “in Jesus se naam” as ’n leë uitdrukking te gebruik? Jy kan gerus peins oor Jesus se innemende eienskappe. Dink oor wat hy reeds gedoen het en bereid is om vir jou te doen. Dank Jehovah wanneer jy bid en loof hom vir die wonderlike manier waarop hy sy Seun gebruik het. Wanneer jy dit doen, sal jy meer vertroue ontwikkel in Jesus se belofte: “As julle die Vader enigiets vra, sal hy dit vir julle in my naam gee.”—Johannes 16:23.

^ par. 14 Volgens Vine se Expository Dictionary of New Testament Words kan die Griekse woord wat as “naam” vertaal word, verwys na “alles wat deur ’n naam geïmpliseer word, in verband met gesag, karakter, rang, majesteit, mag [en] voortreflikheid”.