Spring na inhoud

Wat is die siel?

Wat is die siel?

Die Bybel se antwoord

Die woord “siel” in die Bybel is ’n vertaling van die Hebreeuse woord neʹfesj en die Griekse woord psu·kheʹ. Die Hebreeuse woord beteken letterlik “’n skepsel wat asemhaal”, en die Griekse woord beteken “’n lewende wese”. * Die siel is dus die hele wese, nie iets binne-in die liggaam wat die dood daarvan oorleef nie. Kyk hoe die Bybel toon dat die mensesiel die hele persoon is:

Adam is nie ’n siel gegee nie​—hy “het ’n lewende siel geword”

  • Toe Jehovah God die eerste mens, Adam, geskep het, het daardie “mens ’n lewende siel geword”, sê die Bybel (Genesis 2:7, Ou Afrikaanse Bybelvertaling). Adam is nie ’n siel gegee nie​—hy het ’n lewende siel, of persoon, geword.

  • Die Bybel sê dat die siel kan werk, voedsel kan begeer, kan eet, wette kan gehoorsaam en aan ’n dooie liggaam kan raak (Levitikus 5:2; 7:20; 23:30; Deuteronomium 12:20; Romeine 13:1). Hierdie bedrywighede behels die hele persoon.

Is die siel onsterflik?

Nee, die siel kan sterf. Tientalle Bybelverse verwys na die siel as sterflik. Hier is ’n paar voorbeelde:

  • “Die siel wat sondig, dié moet sterwe.”—Esegiël 18:4, 20, Ou Afrikaanse Bybelvertaling.

  • In eertydse Israel was die straf vir die ernstigste oortredings soos volg: “Dié siel moet . . . uitgeroei word” (Eksodus 12:15, 19; Levitikus 7:20, 21, 27; 19:8). Die persoon moes “doodgemaak word”.—Eksodus 31:14.

  • In party Bybelverse word die letterlike term “dooie siel” gebruik vir die lyk van iemand wat gesterf het (Levitikus 21:11, voetnoot in NW; Numeri 6:6, voetnoot in NW). Hoewel baie Bybelvertalings in hierdie verse die terme “dooie liggaam” of “dooie persoon” gebruik, gebruik die oorspronklike Hebreeus die woord neʹfesj, of “siel”.

“Siel” kan “lewe” beteken

Die Bybel gebruik “siel” ook as ’n sinoniem vir “lewe”. Byvoorbeeld, Job 33:22 gebruik die Hebreeuse woord vir “siel” (neʹfesj) as ’n parallel vir “lewe”. Die Bybel toon eweneens dat ’n persoon se siel, of lewe, in gevaar gestel kan word of verloor kan word.​—Eksodus 4:19; Rigters 9:17; Filippense 2:30.

Hierdie gebruik van die woord vir “siel” help ons om verse te verstaan wat sê dat die siel “uitgaan” (Genesis 35:18, OAB). Hierdie beeldspraak dui aan dat die persoon se lewe besig is om tot ’n einde te kom. Party vertalings gee hierdie uitdrukking in Genesis 35:18 weer met “terwyl sy haar laaste asem uitblaas”.​—Nuwe Afrikaanse Bybelvertaling.

Die oorsprong van die opvatting van ’n onsterflike siel

Christenkerke wat aan ’n onsterflike siel glo, kry hierdie lering, nie uit die Bybel nie, maar van eertydse Griekse filosofie. Die Encyclopædia Britannica sê: “Bybelse verwysings na die siel hou verband met die gedagte van asemhaling en tref geen onderskeid tussen die onstoflike siel en die stoflike liggaam nie. Christelike opvattings dat die mens uit twee afsonderlike dele bestaan, naamlik die liggaam en die siel, het sy oorsprong by die eertydse Grieke.”

God keur dit nie goed wanneer sy leringe met mensefilosofieë, soos die opvatting van ’n onsterflike siel, vermeng word nie. Die Bybel waarsku eerder: “Pas op: miskien is daar iemand wat julle as sy prooi sal wegvoer deur die filosofie en leë bedrog volgens die oorlewering van mense.”​—Kolossense 2:8.

^ par. 3 Sien The New Brown, Driver, and Briggs Hebrew and English Lexicon of the Old Testament, bladsy 659, en die Lexicon in Veteris Testamenti Libros, bladsy 627. Baie Bybelvertalings gee die woorde neʹfesj en psu·kheʹ op verskillende maniere weer na aanleiding van die konteks deur woorde soos “siel”, “lewe”, “persoon”, “skepsel” of “liggaam” te gebruik.