Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 21

Waardeer jy die goeie dinge wat God vir jou gegee het?

Waardeer jy die goeie dinge wat God vir jou gegee het?

“Hoeveel dinge het u tog gedoen, o Jehovah my God, u wonderlike werke en u gedagtes teenoor ons.” – PS. 40:5.

LIED 5 God se wonderbare werke

IN HIERDIE ARTIKEL *

1-2. Watter geskenke het Jehovah vir ons volgens Psalm 40:5 gegee, en hoekom sal ons dit bespreek?

 JEHOVAH is ’n vrygewige God. Dink aan party van die geskenke wat hy vir ons gegee het: ons pragtige aarde, ’n perfekte plek om te bly; ons brein, wat wonderlik ontwerp is; en sy kosbare Woord, die Bybel. Omdat Jehovah ons hierdie drie geskenke gegee het, het ons ’n plek om te bly, kan ons dink en met ander kommunikeer en het ons die antwoorde op die belangrikste vrae wat ons kan vra. – Lees Psalm 40:5.

2 In hierdie artikel sal ons hierdie drie geskenke bespreek. Hoe meer ons oor hierdie geskenke dink, hoe meer sal ons dit waardeer en hoe sterker sal ons begeerte wees om ons liefdevolle Skepper, Jehovah, se hart bly te maak (Op. 4:11). Ons sal ook beter met mense kan redeneer wat deur die valse lering van evolusie, mislei is.

ONS UNIEKE PLANEET

3. Hoekom is die aarde uniek?

3 God se wysheid kan duidelik gesien word in die manier hoe hy die aarde gemaak het (Rom. 1:20; Heb. 3:4). Ons planeet is nie die enigste een wat om die son wentel nie, maar die aarde is uniek omdat dit alles het wat nodig is vir mense om daarop te lewe.

4. Hoekom kan ons sê dat die aarde beter is as enige mensgemaakte boot?

4 In ’n sekere sin kan ons die aarde in die heelal vergelyk met ’n boot op die see. Maar daar is belangrike verskille tussen ’n mensgemaakte boot wat vol mense is en ons aarde. Byvoorbeeld, hoe lank sou die mense op ’n boot oorleef as hulle hulle eie suurstof, kos en water moes maak en as hulle nie enige afvalstowwe oorboord kon gooi nie? Die mense op daardie boot sal nie lank kan lewe nie. Maar die aarde kan miljarde mense en diere aan die lewe hou. Dit maak al die suurstof, kos en water wat ons nodig het, en daar is altyd genoeg daarvan. En al bly al die afvalstowwe op die aarde, is die aarde nog steeds ’n pragtige plek waarop ons kan woon. Hoe is dit moontlik? Jehovah het die aarde ontwerp sodat afvalstowwe in iets goeds kan verander wat weer gebruik kan word. Ons sal kortliks bespreek hoe ons Jehovah se wysheid kan sien in twee kringlope wat hy gemaak het: die suurstofkringloop en die waterkringloop.

5. Wat is die suurstofkringloop, en hoe stem dit ooreen met wat die Bybel sê?

5 Suurstof is ’n gas wat mense en diere nodig het om aan die lewe te bly. Daar is al geskat dat lewende dinge elke jaar ’n honderdmiljard ton suurstof inasem. Hierdie selfde lewende dinge asem ’n gas uit wat koolstofdioksied genoem word. Maar daar is altyd genoeg suurstof. En daar is nooit te veel koolstofdioksied nie. Hoe is dit moontlik? Omdat Jehovah ’n verskeidenheid plante van verskillende groottes gemaak het wat koolstofdioksied opneem en suurstof afgee. Omdat hierdie kringloop die suurstof maak wat ons inasem, stem ons saam met die woorde in Handelinge 17:24, 25: ‘God gee aan alle mense lewe en asem.’

6. Wat is die waterkringloop, en wat bewys dit? (Sien ook die venster “ Die waterkringloop is ’n geskenk van Jehovah”.)

6 Water kan as ’n vloeistof op die aarde bestaan omdat die aarde die regte afstand van die son af is. As die aarde net ’n klein bietjie nader aan die son was, sou al die water verdamp en sou die aarde ’n warm, lewelose rots wees. As die aarde net ’n klein bietjie verder van die son af was, sou al die water vries en die hele aarde sou bedek wees met sneeu en ys. Omdat Jehovah die aarde op hierdie perfekte plek gesit het, kan die aarde se waterkringloop lewe onderhou. Die son verhit die water in die oseane en op die aarde se oppervlak. Dit veroorsaak dat die water verdamp en wolke vorm. Elke jaar word amper 500 000 kubieke kilometer water deur die son verdamp. Hierdie water bly omtrent tien dae lank in die atmosfeer voordat dit na die aarde as reën of sneeu val. Die water vloei uiteindelik terug in die oseane of ander waterbronne, en dan word die kringloop herhaal. Jehovah het die waterkringloop ontwerp sodat die aarde altyd water sal hê. Dit bewys dat Jehovah wys en magtig is. – Job 36:27, 28; Pred. 1:7.

7. Wat is ’n paar maniere hoe ons kan wys dat ons die geskenk wat in Psalm 115:16 beskryf word, waardeer?

7 Wat kan ons help om meer waardering vir ons wonderlike planeet en vir al die goeie dinge wat daarop is, te hê? (Lees Psalm 115:16.) Een manier is deur na te dink oor die dinge wat Jehovah gemaak het. Dan sal ons elke dag vir Jehovah dankie wil sê vir die goeie dinge wat hy vir ons gee. En ons wys dat ons die aarde waardeer deur die omgewing waar ons bly so skoon as moontlik te hou.

ONS UNIEKE BREIN

8. Hoekom kan ons sê dat die brein op ’n wonderlike manier ontwerp is?

8 Die mens se brein is op ’n wonderlike manier ontwerp. Toe jy in jou ma se baarmoeder was, het jou brein ontwikkel volgens die manier hoe dit ontwerp is, en elke minuut het duisende breinselle gevorm! Navorsers skat dat ’n volwasse persoon se brein amper 100 miljard spesiale selle bevat wat neurone genoem word. Hierdie selle vorm ons brein wat omtrent 1,5 kilogram weeg. Kyk na net ’n paar van die brein se wonderlike vermoëns.

9. Wat bewys vir jou dat ons vermoë om te kan praat ’n geskenk van God is?

9 Ons vermoë om te kan praat is ’n wonderwerk. Dink vir ’n oomblik aan wat gebeur wanneer jy praat. Met elke woord wat jy sê, moet jou brein omtrent 100 spiere in jou tong, keel, lippe, kakebeen en bors laat saamwerk. Elkeen van hierdie spiere moet op presies die regte tyd beweeg om woorde duidelik uit te spreek. In verband met die vermoë om tale te kan praat, het ’n studie wat in 2019 gepubliseer is, gewys dat pasgebore babas individuele woorde kan erken en daarop kan reageer. Hierdie studie ondersteun wat baie navorsers glo – dat ons gebore word met die vermoë om tale te kan erken en te leer. Dit is duidelik dat die vermoë om te kan praat ’n geskenk van God is. – Eks. 4:11.

10. Hoe kan ons wys dat ons die vermoë wat God ons gegee het om te kan praat, waardeer?

10 Een manier hoe ons kan wys dat ons die vermoë om te kan praat, waardeer, is deur vir mense wat in evolusie glo te verduidelik hoekom ons glo dat God alles gemaak het (Ps. 9:1; 1 Pet. 3:15). Die mense wat hierdie leerstelling bevorder wil hê dat ons moet glo dat die aarde en alle lewe daarop nie geskep is nie, maar vanself ontstaan het. Ons kan die Bybel en ’n paar van die dinge wat in hierdie artikel bespreek is, gebruik om ons hemelse Vader te verdedig en om aan mense wat wil luister te verduidelik hoekom ons oortuig is dat Jehovah die Skepper van die hemel en aarde is. – Ps. 102:25; Jes. 40:25, 26.

11. Wat is een rede hoekom ons brein so wonderlik is?

11 Ons vermoë om te kan onthou is wonderlik. In die verlede het een skrywer geskat dat die mens se brein die vermoë het om die inligting van 20 miljoen boeke te onthou. Maar nou word daar gesê dat ons baie meer as dit kan onthou. Watter spesiale vermoë het ons as gevolg van die feit dat ons dinge kan onthou?

12. Hoe maak ons vermoë om te leer wat reg en verkeerd is, ons anders as diere?

12 Van al die lewende dinge op die aarde het net mense die vermoë om te leer wat reg en verkeerd is deur te onthou wat met hulle in die verlede gebeur het. As gevolg hiervan kan ons ons standaarde verbeter en verander hoe ons dink en hoe ons ons lewe lei (1 Kor. 6:9-11; Kol. 3:9, 10). Om die waarheid te sê, ons kan ons gewete oplei om tussen reg en verkeerd te onderskei (Heb. 5:14). Ons kan leer om liefde, meegevoel en genade vir ander te hê. En ons kan leer om Jehovah se geregtigheid na te volg.

13. Hoe moet ons volgens Psalm 77:11, 12 ons geskenk van geheue gebruik?

13 Een manier hoe ons wys dat ons die geskenk van geheue waardeer, is deur al die kere te probeer onthou wat Jehovah ons in die verlede gehelp en vertroos het. Dit sal ons meer vertroue gee dat hy ons in die toekoms ook sal help. (Lees Psalm 77:11, 12; 78:4, 7.) Nog ’n manier is deur die goeie dinge te onthou wat ander vir ons doen en om dankbaar te wees daarvoor. Navorsers het gevind dat mense wat dankbaar is, gewoonlik gelukkiger is. Dit is ook goed vir ons om Jehovah na te volg deur te kies om sekere dinge te vergeet. Jehovah het byvoorbeeld ’n perfekte geheue, maar as ons regtig jammer is oor ’n fout wat ons gemaak het, kies hy om ons te vergewe en om daarvan te vergeet (Ps. 25:7; 130:3, 4). En hy wil hê dat ons dieselfde vir ander moet doen wanneer hulle jammer is oor foute wat hulle gemaak het wat ons seergemaak het. – Matt. 6:14; Luk. 17:3, 4.

Ons wys dat ons waardering het vir ons brein deur dit te gebruik om Jehovah te eer (Sien paragraaf 14) *

14. Hoe kan ons wys dat ons die wonderlike geskenk van ons brein waardeer?

14 Ons kan wys dat ons die wonderlike geskenk van ons brein waardeer deur die Een te eer wat dit vir ons gegee het. Party gebruik hulle brein vir selfsugtige redes – om self te besluit wat reg en verkeerd is. Maar omdat Jehovah ons gemaak het, is dit net redelik om te verwag dat sy standaarde beter is as enige standaarde wat ons vir onsself kan stel (Rom. 12:1, 2). Wanneer ons gehoorsaam is aan Jehovah, het ons vrede (Jes. 48:17, 18). En dit gee ons ’n duidelike doel in die lewe – om ons Skepper en Vader te eer en sy hart bly te maak. – Spr. 27:11.

DIE BYBEL – ’N UNIEKE GESKENK

15. Hoe is die geskenk van die Bybel ’n bewys van Jehovah se liefde vir die mens?

15 Die Bybel is ’n liefdevolle geskenk van God. Ons hemelse Vader het manne geïnspireer om hierdie boek te skryf omdat hy baie lief is vir sy aardse kinders. Jehovah gebruik die Bybel om die belangrikste vrae wat ons kan vra, te beantwoord, vrae soos: Waar kom ons vandaan? Wat is die doel van die lewe? En wat gaan in die toekoms gebeur? Jehovah wil hê dat al sy kinders die antwoorde op hierdie vrae moet kry, en daarom het hy deur die eeue heen manne gebruik om die Bybel in baie tale te vertaal. Vandag is die hele Bybel of dele daarvan in meer as 3 000 tale beskikbaar! Die Bybel is die mees vertaalde en verspreide boek in die geskiedenis. Dit maak nie saak waar hulle bly of watter taal hulle praat nie, die meeste mense kan die Bybel in hulle moedertaal lees. – Sien die venster “ Hoe die Bybel in Afrikatale beskikbaar gemaak is”.

16. Hoe kan ons volgens Matteus 28:19, 20 wys dat ons die Bybel waardeer?

16 Ons kan wys dat ons die Bybel waardeer deur dit elke dag te lees, na te dink oor wat dit ons leer en ons bes te doen om toe te pas wat ons leer. Ons wys ook vir Jehovah hoe dankbaar ons is deur alles te doen wat ons kan om die Bybel se boodskap met soveel mense as moontlik te deel. – Ps. 1:1-3; Matt. 24:14; lees Matteus 28:19, 20.

17. Watter geskenke het ons in hierdie artikel bespreek, en wat sal in die volgende artikel bespreek word?

17 In hierdie artikel het ons na ’n paar geskenke gekyk wat God ons gegee het: Die aarde, ’n perfekte plek om te bly; ons brein, wat wonderlik ontwerp is; en God se geïnspireerde Woord, die Bybel. Maar daar is ander geskenke wat Jehovah ons gegee het wat ons nie kan sien nie. Ons sal hierdie geskenke in die volgende artikel bespreek.

LIED 12 Groot God, Jehovah

^ par. 5 Hierdie artikel sal ons help om meer waardering te hê vir Jehovah en vir drie van die geskenke wat hy vir ons gegee het. Dit sal ons ook help om met mense te redeneer wat twyfel dat God bestaan.

^ par. 64 BESKRYWING VAN PRENT: ’n Suster leer ’n ander taal sodat sy die waarhede in God se Woord aan immigrante kan leer.