Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hou aan om geestelik te groei!

Hou aan om geestelik te groei!

“Hou aan om deur gees te wandel.” — GAL. 5:16.

LIED: 22, 75

1, 2. Wat het ’n broer oor sy geestelikheid besef, en wat het hy daaromtrent gedoen?

ROBERT is gedoop toe hy ’n tiener was, maar hy was nie ernstig oor die waarheid nie. Hy sê: “Ek het nooit iets verkeerds gedoen nie. Maar my hart was nie in my diens nie. Dit het gelyk of ek geestelik sterk is. Ek was by al die vergaderinge, en ek het ’n paar keer ’n jaar hulppionierdiens gedoen. Maar ek het gevoel dat iets nie reg is nie.”

2 Robert het eers later, toe hy getroud was, uitgevind wat fout was. Hy en sy vrou het mekaar in hulle vrye tyd Bybelvrae begin vra. Sy vrou, ’n geestelike sterk persoon, kon die vrae maklik beantwoord, maar Robert het gesukkel. Dit het hom baie sleg laat voel. Hy sê: “Dit was asof ek niks geweet het nie. Ek het by myself gedink: ‘As ek my vrou se geestelike hoof gaan wees, moet ek iets daaromtrent doen.’” En Robert het iets gedoen. Hy sê: “Ek het die Bybel studeer en studeer en nog meer studeer. Alles het begin sin maak. Ek het verstaan wat ek geleer het, en die belangrikste was dat my verhouding met Jehovah sterker geword het.”

3. (a) Wat kan ons uit Robert se ondervinding leer? (b) Watter belangrike punte gaan ons nou bespreek?

3 Ons kan belangrike lesse uit Robert se ondervinding leer. Ons het dalk ’n bietjie Bybelkennis en ons gaan dalk gereeld vergaderinge toe, maar dit beteken nie dat ons geestelike mense is nie. Of ons het al miskien vordering gemaak, maar wanneer ons selfondersoek doen, besef ons dat ons kan verbeter (Fil. 3:16). Om ons te help om aan te hou vordering maak, sal ons drie belangrike vrae beantwoord: (1) Wat sal ons help om te sien of ons ’n geestelike mens is? (2) Hoe kan ons ’n geestelike mens word en aanhou om geestelik te groei? (3) Hoe kan dit ons in ons daaglikse lewe help as ons geestelik sterk is?

IS JY GEESTELIK STERK?

4. Op wie is die raad in Efesiërs 4:23, 24 van toepassing?

4 Toe ons God begin dien het, het ons veranderinge gemaak wat ons hele lewe geraak het. Hierdie veranderinge het nie opgehou toe ons gedoop is nie. Die Bybel sê dat ons “vernuwe moet word in die krag wat [ons] verstand aandryf” (Ef. 4:23, 24). Ons is onvolmaak, en daarom moet ons aanhou om veranderinge te maak. Selfs dié wat Jehovah al lank dien, moet geestelik sterk bly. — Fil. 3:12, 13.

5. Watter vrae kan ons help om te sien of ons geestelik sterk is?

5 Om geestelik te groei en geestelik sterk te bly, moet ons eerlike selfondersoek doen. Elkeen van ons, of ons nou jonk of oud is, kan ons afvra: ‘Sien ek veranderinge in myself wat wys dat ek geestelik sterker word? Word ek meer soos Christus? Wat sê my gesindheid en hoe ek by die vergaderinge optree van my geestelikheid? Wat wys my gesprekke oor wat ek in die lewe wil hê? Wat sê my studiegewoontes, my voorkoms, hoe ek aantrek en my reaksie op raad oor myself? Hoe reageer ek wanneer ek in die versoeking kom om iets te doen wat verkeerd is? Ken ek net die basiese waarhede, of het ek ’n volwasse Christen geword?’ (Ef. 4:13). As ons oor hierdie vrae nadink, kan dit ons help om te sien of ons geestelik gegroei het.

6. Wat kan ons nog help om te sien of ons geestelik sterk is?

6 Soms het ons ander mense se hulp nodig om te sien of ons geestelik sterk is. Die apostel Paulus het verduidelik dat ’n fisiese mens nie verstaan dat sy lewenswyse in God se oë verkeerd is nie. Maar ’n geestelike mens weet hoe God oor sake voel en dat Jehovah die slegte dinge wat ’n fisiese mens doen, nie goedkeur nie (1 Kor. 2:14-16; 3:1-3). Ouer manne wat die denke van Christus het, kan gou sien wanneer iemand soos ’n fisiese mens begin dink. Sal ons hulle raad aanvaar as hulle ons hiermee wil help? As ons dit doen, wys ons dat ons graag geestelik wil groei. — Pred. 7:5, 9.

WORD GEESTELIK STERKER

7. Hoekom het jy meer as net Bybelkennis nodig om ’n geestelike mens te word?

7 Om ’n geestelike mens te word, het jy meer as net Bybelkennis nodig. Koning Salomo het baie oor Jehovah geweet. Die dinge wat hy gesê het, het later deel van die Bybel geword. Maar sy verhouding met Jehovah het verswak, en hy het nie aan God getrou gebly nie (1 Kon. 4:29, 30; 11:4-6). Wat het ons nog nodig behalwe Bybelkennis? Ons moet ons geloof standvastig maak (Kol. 2:6, 7). Maar hoe doen ons dit?

8, 9. (a) Wat sal ons help om ons geloof standvastig te maak? (b) Wat is ons doel wanneer ons die Bybel studeer en daaroor nadink? (Sien prent aan begin van artikel.)

8 Paulus het die Christene in die eerste eeu aangemoedig om geestelik te groei. Hy het vir hulle gesê om ‘tot volwassenheid voort te beur’ (Heb. 6:1). Hoe kan ons Paulus se raad vandag toepas? ’n Belangrike manier om dit te doen is om die boek ‘Hou julle in God se liefde’ te studeer. Dit sal jou help om te sien hoe jy Bybelbeginsels in jou lewe kan toepas. As jy alreeds hierdie boek gestudeer het, kan jy ander publikasies studeer wat jou sal help om jou geloof standvastig te maak (Kol. 1:23). Dink jy na oor wat jy leer en vra jy Jehovah om jou te help om dit in jou lewe toe te pas?

9 Wanneer ons die Bybel studeer en daaroor nadink, moet dit ons doel wees om ’n sterk begeerte te ontwikkel om Jehovah te gehoorsaam en sy hart bly te maak (Ps. 40:8; 119:97). Ons wil ook leer om enigiets te verwerp wat sal keer dat ons geestelik groei. — Tit. 2:11, 12.

10. Wat kan jongmense doen om geestelik sterker te word?

10 Het jy as ’n jongmens geestelike doelwitte? Een broer wat by Bethel dien, maak ’n punt daarvan om met jongmense te praat wat by kringbyeenkomste gedoop gaan word en vra hulle oor hulle geestelike doelwitte. Die antwoorde wat baie gee, wys dat hulle weet wat hulle in Jehovah se diens wil doen. Party beplan om Jehovah voltyds te dien of om te gaan dien waar daar meer Koninkryksverkondigers nodig is. Maar party jongmense sukkel om hierdie vraag te beantwoord. Beteken dit miskien dat hulle dink dat hulle nie geestelike doelwitte hoef te hê nie? As jy ’n jongmens is, vra jou af: ‘Doen ek velddiens en gaan ek vergaderinge toe net omdat my ouers dit van my verwag? Kom ek nader aan God deur my eie vriendskap met hom op te bou?’ Die raad om geestelike doelwitte te hê, is natuurlik nie net op jongmense van toepassing nie. Om sulke doelwitte te hê sal almal van ons as Jehovah se knegte help om ons geestelikheid te versterk. — Pred. 12:1, 13.

11. (a) Wat moet elkeen van ons doen om geestelik sterker te word? (b) Watter voorbeeld in die Bybel kan ons navolg?

11 As ons sien dat ons op sekere gebiede kan verbeter, moet ons veranderinge begin maak. Om ’n geestelike mens te word, is baie belangrik. Ons ewige lewe hang daarvan af (Rom. 8:6-8). Ons hoef nie volmaak te wees om geestelik volwasse te wees nie. Jehovah se heilige gees kan ons help om die nodige veranderinge te maak. Maar ons moet nog steeds ons deel doen en hard werk om vordering te maak. Broer John Barr, wat op die Bestuursliggaam gedien het, het eenkeer na Lukas 13:24 verwys en gesê: “Baie is onsuksesvol omdat hulle nie hard genoeg werk om sterk te word nie.” Ons moet soos Jakob wees. Hy het met ’n engel geworstel en het nie opgehou totdat hy geseën is nie (Gen. 32:26-28). Alhoewel dit lekker kan wees om die Bybel te studeer, moet ons nie verwag dat dit soos ’n storieboek sal lees wat geskryf is om ons te vermaak nie. Ons moet ons inspan om geestelike skatte te kry wat ons sal help om geestelik sterk te word.

12, 13. (a) Wat sal ons help om Romeine 15:5 toe te pas? (b) Hoe kan die apostel Petrus se voorbeeld en raad ons help? (c) Wat kan jy doen om geestelik te groei? (Sien die venster “ Wat jy kan doen om geestelik te groei”.)

12 Wanneer ons hard werk om geestelik te groei, sal heilige gees ons die krag gee om die manier waarop ons dink te verander. Die heilige gees sal ons help om meer en meer soos Christus te dink (Rom. 15:5). Dit sal ons ook help om ontslae te raak van verkeerde begeertes en om eienskappe aan te kweek wat God gelukkig maak (Gal. 5:16, 22, 23). As ons agterkom dat ons denke om materiële en vleeslike dinge draai, moet ons nie moed opgee nie. Hou aan om vir Jehovah se heilige gees te vra, en hy sal jou help om op die regte dinge te fokus (Luk. 11:13). Dink aan die apostel Petrus. Hy het nie altyd soos Christus gedink nie (Matt. 16:22, 23; Luk. 22:34, 54-62; Gal. 2:11-14). Maar hy het nie moed opgegee nie. Met Jehovah se hulp het Petrus geleer om soos Christus te dink. Ons kan dit ook doen.

13 Petrus het later spesifieke eienskappe genoem wat ons kan help. (Lees 2 Petrus 1:5-8.) As ons ons ‘ywerig inspan’ om eienskappe soos selfbeheersing, volharding en broederlike liefde aan te kweek, sal dit ons help om ’n geestelike mens te wees. Ons kan ons elke dag afvra: ‘Aan watter eienskap kan ek vandag werk om geestelik sterker te word?’

HOE OM BYBELBEGINSELS IN JOU DAAGLIKSE LEWE TOE TE PAS

14. Hoe sal dit ons lewe beïnvloed as ons ’n geestelike mens is?

14 As ons soos Christus dink, sal dit ons gedrag by die skool en werk beïnvloed, asook ons spraak en die besluite wat ons elke dag neem. Ons besluite sal wys of ons probeer om navolgers van Christus te wees. As geestelike mense, wil ons nie hê dat enigiets ons vriendskap met Jehovah in gevaar stel nie. As ons Christus se denke het, sal dit ons help om versoekings te weerstaan. Voordat ons ’n besluit neem, wil ons ons eers die volgende vrae afvra: ‘Watter Bybelbeginsels sal my help om ’n besluit te neem? Wat sou Christus doen? Watter besluit sal Jehovah gelukkig maak?’ Ons moet leer om op hierdie manier te dink. Om ons hiermee te help, gaan ons na ’n paar moontlike situasies kyk. Met elke voorbeeld sal ons na ’n Bybelbeginsel kyk wat ons kan help om ’n wyse besluit te neem.

15, 16. Hoe kan die denke van Christus ons help om wyse besluite te neem wanneer ons (a) ’n huweliksmaat kies? (b) ons vriende kies?

15 Wanneer jy ’n huweliksmaat kies. Kyk na die Bybelbeginsel in 2 Korintiërs 6:14, 15. (Lees.) Paulus se woorde wys dat die manier waarop ’n geestelike mens en ’n fisiese mens dink, grootliks verskil. Hoe kan hierdie beginsel jou help om ’n huweliksmaat te kies?

16 Wanneer jy jou vriende kies. Kyk na die Bybelbeginsel in 1 Korintiërs 15:33. (Lees.) ’n Geestelike mens sal nie vriende wees met mense wat sy geestelikheid kan verswak nie. Watter vrae kan jou help om hierdie beginsel prakties toe te pas? Byvoorbeeld, hoe kan dit my help wanneer ek sosiale netwerke gebruik? Of wat moet doen as jy genooi word om speletjies op die Internet te speel met mense wat jy nie ken nie?

Sal my besluite my help om geestelik te groei? (Sien paragraaf 17)

17-19. Hoe sal ’n geestelike uitkyk op die lewe jou help (a) om nuttelose aktiwiteite te vermy? (b) om doelwitte te stel? (c) wanneer probleme tussen jou en ’n ander broer ontstaan?

17 Aktiwiteite wat keer dat ons geestelik groei. Paulus het ’n waarskuwing aan Christene gegee. (Lees Hebreërs 6:1.) Wat is die “dooie werke” wat ons moet vermy? Dit is nuttelose aktiwiteite wat ons nie sal help om geestelik sterker te word nie. Hierdie beginsel kan ons help om die volgende vrae te beantwoord: ‘Kan hierdie aktiwiteit onder “dooie werke” getel word? Moet ek hierdie aanbod om geld te maak aanvaar? Waarom moet ek nie by ’n groep aansluit wat probeer om wêreldtoestande te verander nie?’

Sal my besluite my help om geestelike doelwitte te stel? (Sien paragraaf 18)

18 Wanneer ons geestelike doelwitte stel. In Jesus se Bergpredikasie het hy goeie raad oor doelwitte gegee (Matt. 6:33). ’n Geestelike mens stel geestelike doelwitte. Hierdie beginsel kan ons help om die volgende vrae te beantwoord: ‘Moet ek universiteit toe gaan om verder te gaan leer? Moet ek hierdie werk aanvaar?’

Sal my besluite my help om “vreedsaam” te wees? (Sien paragraaf 19)

19 Wanneer daar probleme tussen broers is. Hoe kan die raad wat Paulus aan die gemeente in Rome gegee het, ons help wanneer daar probleme tussen ons en ’n ander broer is? (Rom. 12:18). Ons volg Christus na, en daarom wil ons “vreedsaam teenoor alle mense” wees. Vra jou af: ‘Hoe reageer ek wanneer daar ’n probleem tussen my en ’n ander broer ontstaan? Is dit vir my moeilik om ander se opinie te aanvaar, of ken ander my as iemand wat “vrede maak”?’ — Jak. 3:18.

20. Hoekom wil jy aanhou om geestelik te groei?

20 Hierdie voorbeelde wys ons hoe Bybelbeginsels ons kan help om besluite te neem wat bewys dat ons ’n geestelike mens is. As ons ’n geestelike mens is, sal ons gelukkiger en meer tevrede wees. Robert, wat vroeër genoem is, sê: “Nadat ek ’n ware vriendskap met Jehovah opgebou het, het ek ’n beter man en pa geword. Ek was gelukkig en tevrede.” Ons kan ook sulke seëninge geniet as ons hard werk om geestelik te groei. Ons lewe sal nou gelukkiger wees, en in die toekoms sal ons “die werklike lewe” geniet. — 1 Tim. 6:19.