Spring na inhoud

Jehovah se Getuies

Kies taal Afrikaans

Wat is die Tora?

Wat is die Tora?

Die Bybel se antwoord

Die woord “Tora” kom van die Hebreeuse woord toh·rahʹ, wat vertaal kan word as “onderrigting” of “wet” * (Spreuke 1:8; 3:1; 28:4). Die volgende voorbeelde toon hoe hierdie Hebreeuse woord in die Bybel gebruik word.

  • Toh·rahʹ verwys dikwels na die eerste vyf boeke van die Bybel—Genesis, Eksodus, Levitikus, Numeri en Deuteronomium. Hierdie boeke word ook die Pentateug genoem, ’n woord wat afgelei is van ’n Griekse woord wat “vyfdelige boek” beteken. Die Tora is deur Moses geskryf, en daarom word dit “die wetboek van Moses” genoem (Josua 8:31; Nehemia 8:1). Blykbaar was dit eers een boek, maar dit is later in dele verdeel sodat dit makliker hanteer kon word.

  • Toh·rahʹ verwys ook na die wette wat aan Israel gegee is oor ’n spesifieke onderwerp, soos die “die wet [toh·rahʹ] van die sondoffer”, “die wet oor melaatsheid” en “die wet oor die Nasireër”.—Levitikus 6:25; 14:57; Numeri 6:13.

  • Toh·rahʹ verwys partykeer na onderrigting en wet, of dit nou van ouers, van wyse mense of van God self kom.—Spreuke 1:8; 3:1; 13:14; Jesaja 2:3.

Wat is in die Tora, of Pentateug?

  • Die geskiedenis van God se handelinge met die mensdom van die skepping af tot die tyd dat Moses gesterf het.—Genesis 1:27, 28; Deuteronomium 34:5.

  • Die voorskrifte van die Mosaïese Wet (Eksodus 24:3). Hierdie Wet bestaan uit meer as 600 verskillende wette. Die vernaamste onder hulle is die Sjema, of die Joodse geloofsbelydenis. Een gedeelte van die Sjema sê: “Jy moet Jehovah jou God liefhê met jou hele hart en jou hele siel en al jou lewenskrag” (Deuteronomium 6:4-9). Jesus het dit beskryf as “die grootste en eerste gebod”.—Matteus 22:36-38.

  • Omtrent 1 800 verwysings na God se naam, Jehovah. Die Tora verbied nie die gebruik van God se naam nie, dit bevat eerder bevele wat vereis het dat God se volk die naam uitspreek.—Numeri 6:22-27; Deuteronomium 6:13; 10:8; 21:5.

Wanopvattings oor die Tora

Wanopvatting: Die wette van die Tora is ewigdurend en sal altyd van toepassing wees.

Feit: Party Bybelvertalings verwys na spesifieke wette van die Tora—insluitende dié wat verband hou met die Sabbat, die priesterdom en die Versoendag—as “ewige” wette of wette “tot onbepaalde tyd” (Eksodus 31:16; 40:15; Levitikus 16:33, 34, Ou Afrikaanse Bybelvertaling). Maar die Hebreeuse woord wat in hierdie verse gebruik word, kan ook beteken dat iets tot ’n onbepaalde tyd in die toekoms sal bestaan, nie noodwendig dat dit vir ewig sal bestaan nie. * Nadat die Mosaïese Wetsverbond vir omtrent 900 jaar in werking was, het God voorspel dat hy dit met “’n nuwe verbond” sou vervang (Jeremia 31:31-33). “Deurdat [God] sê ‘’n nuwe verbond’, het hy die vorige [verbond] verouderd gemaak” (Hebreërs 8:7-13). Dit is omtrent 2 000 jaar gelede op grond van die dood van Jesus Christus vervang.—Efesiërs 2:15.

Wanopvatting: Joodse mondelinge tradisies en die Talmoed het net soveel gesag soos die geskrewe Tora.

Feit: Daar is geen Skriftuurlike bewyse dat God vir Moses ’n mondelinge wet saam met die geskrewe Tora gegee het nie. Die Bybel sê eerder: “Jehovah het verder vir Moses gesê: ‘Skryf hierdie woorde vir jou op’” (Eksodus 34:27). Die mondelinge wet, wat later neergeskryf is en bekend staan as die Misjna, het uitgebrei en uiteindelik die Talmoed geword. Dit bestaan uit Joodse tradisies wat hulle oorsprong by die Fariseërs gehad het. Hierdie tradisies was dikwels in stryd met die Tora. Daarom het Jesus vir die Fariseërs gesê: “Julle [het] die woord van God kragteloos gemaak weens julle oorlewering.”—Matteus 15:1-9.

Wanopvatting: Die Tora moenie aan vrouens geleer word nie.

Feit: Die Mosaïese Wet het ’n voorskrif ingesluit wat bepaal het dat die hele Wet vir die nasie Israel, insluitende vrouens en kinders, gelees moet word. Waarom? “Sodat hulle kan luister en sodat hulle kan leer, aangesien hulle Jehovah [hulle] God moet vrees en al die woorde van [die] wet sorgvuldig moet onderhou.”—Deuteronomium 31:10-12. *

Wanopvatting: Die Tora bevat versteekte boodskappe.

Feit: Moses, wat die Tora neergeskryf het, het gesê dat die boodskap daarin duidelik en aan almal beskikbaar is, nie in ’n kode versteek nie (Deuteronomium 30:11-14). Die teorie dat daar versteekte boodskappe in die Tora is, het sy oorsprong by Kabbala, of tradisionele Joodse mistiek, wat “kunstig versinde” metodes gebruik om die Skrif te verduidelik. *2 Petrus 1:16.

^ par. 3 Sien die hersiene uitgawe van The Strongest Strong’s Exhaustive Concordance of the Bible, inskrywing 8451 in die deel “Hebrew-Aramaic Dictionary-Index to the Old Testament”.

^ par. 13 Sien die Theological Wordbook of the Old Testament, Deel 2, bladsy 672-673.

^ par. 17 In teenstelling met wat die Tora leer, het Joodse wetlike tradisie vrouens dikwels verbied om die Tora te studeer. Die Misjna haal byvoorbeeld die volgende woorde van Rabbi Eliezer ben Hyrcanus aan: “Wie ook al sy dogter die Tora leer, leer haar onbetaamlikheid” (Sotah 3:4). Nog ’n stelling wat hy gemaak het, verskyn in die Jerusalemse Talmoed: “Laat die woorde van die Tora eerder deur vuur vernietig word as wat dit aan vrouens meegedeel word.”—Sotah 3:19a.

^ par. 19 Die Encyclopaedia Judaica beskryf die Kabbalistiese gesindheid teenoor die Tora soos volg: “Die Tora beteken nie noodwendig iets spesifieks nie; dit beteken eerder talle verskillende dinge op talle verskillende vlakke.”—Tweede uitgawe, Deel 11, bladsy 659.