Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Oplossings vir algemene probleme

Oplossings vir algemene probleme

Oplossings vir algemene probleme

DIE Bybel sê nie dat die getroude lewe maklik is nie. Die apostel Paulus is deur God geïnspireer om te skryf dat egpare met “alledaagse probleme” te kampe sal hê (1 Korintiërs 7:28, Today’s English Version). Maar ’n egpaar kan baie doen om hulle probleme te verminder en vir mekaar groter vreugde te bring. Kyk na die volgende ses probleme waaroor mans en vrouens oor die algemeen kla, en sien hoe die toepassing van Bybelbeginsels kan help.

1

PROBLEEM:

“Ek en my maat raak van mekaar vervreemd.”

BYBELBEGINSEL:

‘Maak seker van die belangriker dinge.’FILIPPENSE 1:10.

Jou huwelik is een van die belangrikste dinge in jou lewe. Dit moet voorkeur geniet. Kyk dus of julle roosters tot hierdie probleem bydra. Moenie toelaat dat alledaagse verpligtinge jou en jou maat aparte lewens laat lei nie. Sekulêre werk en ander onvermydelike situasies sal julle natuurlik soms dwing om van mekaar af weg te wees. Maar julle kan en moet enigiets beperk waaroor julle beheer het—soos tyd wat julle aan stokperdjies bestee of saam met vriende deurbring.

Maar party doen dalk ekstra werk of begin met ’n stokperdjie net sodat hulle nie tyd saam met hulle maat hoef deur te bring nie. Sulke persone raak nie bloot “van mekaar vervreemd” nie. Hulle vlug vir probleme. As dit met jou of jou maat die geval is, moet julle die onderliggende probleme identifiseer en werk daarvan maak. Jy en jou maat kan slegs nader aan mekaar kom en werklik “een vlees word” as julle tyd saam deurbring.—Genesis 2:24.

Hoe party hierdie raad toegepas het: Andrew a en Tanji, ’n Australiese egpaar, is al tien jaar lank getroud. Andrew sê: “Ek het geleer dat te veel werk en sosiale verpligtinge gevaarlik kan wees vir ’n huwelik. Ek en my vrou maak dus tyd om met mekaar te praat en vir mekaar te sê hoe ons voel.”

Dave en Jane, wat in die Verenigde State woon en al 22 jaar getroud is, sit die eerste halfuur van elke aand opsy om te praat oor die gebeure van die dag en wat hulle op die hart het. Jane sê: “Hierdie tyd is vir ons so belangrik dat ons nie toelaat dat enigiets daarop inbreuk maak nie.”

2

PROBLEEM:

“Ek kry nie meer wat ek uit hierdie verhouding wil hê nie.”

BYBELBEGINSEL:

“Laat elkeen aanhou om, nie sy eie voordeel nie, maar dié van die ander persoon te soek.”1 KORINTIËRS 10:24.

Iemand wat hoofsaaklik besorg is oor wat hy of sy uit die huwelik kry, sal nooit werklik gelukkig wees nie, al trou hy of sy ’n hele paar keer. Die huwelik werk slegs wanneer elke maat meer daarop konsentreer om te gee as om te ontvang. Jesus gee die rede hiervoor: “Dit verskaf groter geluk om te gee as om te ontvang.”—Handelinge 20:35.

Hoe party hierdie raad toegepas het: Maria en Martin, wat in Mexiko woon, is al 39 jaar lank getroud. Maar dit was nie altyd maanskyn en rose nie. Hulle onthou ’n tyd wat besonder moeilik was. “Gedurende ’n hewige stryery”, sê Maria, “het ek iets vir Martin gesê wat baie disrespekvol was. Hy het baie kwaad geword. Ek het probeer verduidelik dat ek dit nie regtig bedoel het nie, dat ek net ontsteld was. Maar hy wou niks hoor nie.” Martin sê: “Tydens daardie rusie het ek begin dink dat ons nie meer bymekaar kan bly nie, dat ek maar net moet tou opgooi.”

Martin het respek nodig gehad. Maria wou verstaan word. Nie een van hulle het gekry wat hy of sy wou hê nie.

Hoe kon hulle die probleem oplos? “Ek het eers gaan afkoel”, sê Martin, “en toe het ons albei besluit om die Bybel se wyse raad toe te pas om mekaar met respek en liefde te behandel. Oor die jare heen het ons geleer dat ongeag hoe dikwels probleme opduik, ons dit te bowe kan kom as ons God om hulp vra en die Bybel se raad toepas.”—Jesaja 48:17, 18; Efesiërs 4:31, 32.

3

PROBLEEM:

“My maat kom nie sy (of haar) verpligtinge na nie.”

BYBELBEGINSEL:

“Elkeen van ons [sal] vir homself aan God rekenskap gee.”ROMEINE 14:12.

’n Huwelik sal beslis nie sy volle potensiaal bereik as slegs een maat tot die sukses daarvan bydra nie. Maar die situasie sal erger wees as al twee maats versuim om hulle deel te doen en mekaar blameer.

As jy die heeltyd konsentreer op wat jou maat veronderstel is om te doen, sal jy jou tot ’n lewe van ellende doem. Dit sal beslis die geval wees as jy jou maat se tekortkominge as ’n verskoning gebruik om jou eie verantwoordelikhede te ontduik. Maar as jy hard probeer om ’n goeie man of vrou te wees, sal julle huwelik waarskynlik verbeter (1 Petrus 3:1-3). Nog belangriker, jy wys vir God dat jy sy instelling van die huwelik eer, en jou handelswyse sal hom groot vreugde verskaf.—1 Petrus 2:19.

Hoe party hierdie raad toegepas het: Kim en haar man, wat in Korea woon, is al 38 jaar getroud. Kim sê: “Soms vererg my man hom vir my en hou hy op om met my te praat, en ek weet nie eers hoekom nie. Dit laat my voel asof hy my nie meer liefhet nie. Soms wonder ek: ‘Waarom wil hy hê dat ek hom moet verstaan as hy my nie probeer verstaan nie?’”

Kim kan fokus op hoe onregverdig die situasie is en op wat haar maat nie doen nie. Maar sy besluit eerder om anders op te tree. “In plaas daarvan om ontsteld te bly”, sê Kim, “het ek geleer dat dit die beste is om die inisiatief te neem om vrede te probeer maak. Op die ou end kry ons albei dit reg om te kalmeer en dinge vreedsaam uit te praat.”—Jakobus 3:18.

4

PROBLEEM:

“My vrou is nie onderdanig nie.”

BYBELBEGINSEL:

“Die Christus [is] die hoof . . . van elke man.”1 KORINTIËRS 11:3.

’n Man wat voel dat sy vrou nie onderdanig is nie, moet eers kyk of hy self bereid is om onderdanig te wees aan sy Hoof, Jesus Christus. ’n Man kan sy onderdanigheid toon deur Jesus se voorbeeld te volg.

“Mans”, het die apostel Paulus geskryf, “hou aan om julle vrouens lief te hê, net soos die Christus ook die gemeente liefgehad en homself daarvoor oorgegee het” (Efesiërs 5:25). Jesus het nie oor sy dissipels ‘baasgespeel’ nie (Markus 10:42-44). Hy het sy volgelinge duidelike riglyne gegee en hulle reggehelp wanneer dit nodig was. Maar hy was nooit ongevoelig nie. Hy het hulle liefdevol behandel en hulle beperkings in ag geneem (Matteus 11:29, 30; Markus 6:30, 31; 14:37, 38). Hy het hulle belange altyd bo sy eie gestel.—Matteus 20:25-28.

’n Man moet hom afvra: ‘Word my beskouing van hoofskap en van vroue oor die algemeen meer deur plaaslike gebruike beïnvloed as deur die raad en voorbeelde wat in die Bybel gevind word?’ Wat sou jy byvoorbeeld dink van ’n vrou wat nie met haar man se beskouing saamstem nie en wat ferm maar respekvol haar mening lug? Abraham se vrou, Sara, word in die Bybel as ’n voorbeeld van ’n onderdanige vrou voorgehou (1 Petrus 3:1, 6). Maar wanneer dit nodig was, het sy gesê wat sy dink, soos toe Abraham sekere gevare wat die gesin bedreig het, nie raakgesien het nie.—Genesis 16:5; 21:9-12.

Dit is duidelik dat Abraham Sara nie op so ’n manier behandel het dat sy bang was om te sê hoe sy voel nie. Hy was nie ’n tiran nie. Net so sal ’n man wat die Bybel se raad volg, nie sy vrou intimideer en daarop aandring dat sy na sy pype dans nie. Hy sal sy vrou se respek verdien deur sy hoofskap op ’n bedagsame manier uit te oefen.

Hoe party hierdie raad toegepas het: James, wat in Engeland woon en agt jaar getroud is, sê: “Ek leer om nie belangrike besluite te neem sonder om my vrou se mening te vra nie. Ek probeer om nie net aan myself te dink nie. Ek probeer eerder om haar behoeftes bo myne te stel.”

George woon in die Verenigde State en is al 59 jaar getroud. Hy sê: “Ek het probeer om my vrou nie as ’n minderwaardige te behandel nie, maar as ’n intelligente en bekwame metgesel.”—Spreuke 31:10.

5

PROBLEEM:

“My man neem nie die inisiatief nie.”

BYBELBEGINSEL:

“Die vrou wat waarlik wys is, het haar huis opgebou, maar die dwase breek dit met haar eie hande af.”SPREUKE 14:1.

As jou man huiwer om besluite te neem of om die leiding in die gesin te neem, het jy ten minste drie opsies. (1) Jy kan hom heeltyd op sy foute wys of (2) jy kan sy rol as die hoof van die gesin oorneem of (3) jy kan hom opreg prys vir enige poging wat hy wel aanwend. As jy een van die eerste twee opsies kies, sal jy jou huis met jou eie hande afbreek. As jy die derde opsie kies, sal dit jou help om jou huwelik op te bou, of te versterk.

Vir baie mans is respek selfs belangriker as liefde. As jy jou man dus laat voel dat hy gerespekteer word—dat sy pogings om die leiding in die gesin te neem doeltreffend is en waardeer word—sal hy waarskynlik in sy rol verbeter. Natuurlik sal jy soms met jou man oor ’n saak verskil. Julle moet hierdie kwessies bespreek (Spreuke 18:13). Maar die woorde wat jy kies en die stemtoon wat jy gebruik, sal jou huwelik óf afbreek óf opbou (Spreuke 21:9; 27:15). As jy met respek praat, sal jy heel waarskynlik die gewenste resultaat kry—’n man wat nie huiwer om die leiding te neem nie.

Hoe party hierdie raad toegepas het: Michele, wat in die Verenigde State woon en al 30 jaar getroud is, sê: “Omdat my ma my en my susters sonder die ondersteuning van ’n man grootgemaak het, was sy ’n baie sterk, onafhanklike vrou. Ek is geneig om dieselfde eienskappe te toon. Ek moet dus voortdurend daaraan werk om gepaste onderdanigheid aan die dag te lê. Ek het byvoorbeeld geleer om my man te raadpleeg en nie sommer my eie besluite te neem nie.”

Rachel, wat in Australië woon en wat al 21 jaar lank met Mark getroud is, is ook deur haar agtergrond beïnvloed. “My ma was nooit onderdanig aan my pa nie”, sê sy. “Woordewisselings en ’n gebrek aan respek was iets algemeens. In die eerste paar jaar van ons huwelik was ek net soos my ma. Maar oor die jare heen het ek geleer hoe waardevol dit is om die Bybel se raad toe te pas om respek te toon. Ek en Mark geniet nou ’n baie gelukkiger huwelik.”

6

PROBLEEM:

“Ek kan my maat se irriterende gewoontes nie langer verdra nie.”

BYBELBEGINSEL:

“Hou aan om mekaar te verdra en mekaar vryelik te vergewe as iemand rede tot klagte teen ’n ander het.”KOLOSSENSE 3:13.

Toe julle begin uitgaan het, het jy waarskynlik soveel op jou toekomstige maat se goeie eienskappe gefokus dat jy skaars sy of haar foute raakgesien het. Kan jy nou dieselfde doen? Jou maat gee jou ongetwyfeld geldige redes om te kla. Maar vra jou af: ‘Op watter van my maat se eienskappe gaan ek fokus—die goeie of die slegte eienskappe?’

Jesus het ’n treffende illustrasie gebruik om te toon dat ons ander se foute oor die hoof moet sien. “Waarom kyk jy . . . na die strooihalm in jou broer se oog”, het hy gevra, “maar let nie op die balk in jou eie oog nie?” (Matteus 7:3). ’n Strooihalm kan ’n stukkie gras wees. ’n Balk, daarenteen, is ’n groot stuk hout wat gebruik word om ’n huis se dak op te hou. Sy punt? “Haal eers die balk uit jou eie oog uit, en dan sal jy duidelik sien hoe om die strooihalm uit jou broer se oog uit te haal.”—Matteus 7:5.

Jesus het hierdie illustrasie met ’n ernstige waarskuwing ingelei. “Hou op om te oordeel”, het hy gesê, “sodat julle nie geoordeel word nie; want met die oordeel waarmee julle oordeel, sal julle geoordeel word” (Matteus 7:1, 2). As jy wil hê dat God jou foute—die balk in jou oog—moet oorsien, is dit tot jou voordeel om jou maat se foute oor te sien.—Matteus 6:14, 15.

Hoe party hierdie raad toegepas het: Jenny, wat in Engeland woon en nou nege jaar met Simon getroud is, sê: “Wat my die meeste omtrent my man irriteer, is sy gewoonte om nie vooruit te beplan nie, om dinge op die laaste nippertjie te doen. Dis ironies, want toe ons uitgegaan het, was ek mal oor die feit dat hy so spontaan is. Maar nou besef ek dat ek ook foute het, soos om altyd in beheer te wil wees. Ek en Simon leer nou om mekaar se klein onvolmaakthede oor die hoof te sien.”

Curt, wat getroud is met Michele, wat vroeër aangehaal is, sê: “As jy op jou maat se irriterende gewoontes konsentreer, sal daardie foute jou al hoe meer pla. Ek verkies om te fokus op die eienskappe wat my aan die begin op Michele verlief laat raak het.”

Die sleutel tot sukses

Hierdie paar voorbeelde lig toe dat uitdagings in ’n huwelik onvermydelik maar nie onoorkombaar is nie. Wat is die sleutel tot sukses? Kweek liefde vir God aan, sowel as ’n bereidwilligheid om die raad in sy Woord, die Bybel, toe te pas.

Alex en Itohan, wat in Nigerië woon en meer as 20 jaar getroud is, het hierdie sleutel ontdek. Alex sê: “Ek het gesien dat byna enige probleem in die huwelik uitgestryk kan word as ’n egpaar Bybelbeginsels toepas.” Sy vrou sê: “Ons het geleer hoe belangrik dit is om gereeld saam te bid en die Bybel se raad toe te pas om opregte liefde en geduld teenoor mekaar te toon. Ons het nou minder probleme as toe ons pas getroud was.”

Wil jy graag meer leer omtrent hoe die praktiese raad in God se Woord jou gesin tot voordeel kan strek? Indien wel, kan jy Jehovah se Getuies vra om hoofstuk 14 van die boek Wat leer die Bybel werklik? b met jou te bespreek.

[Voetnote]

a Party name is verander.

b Uitgegee deur Jehovah se Getuies.

[Prent op bladsy 4]

Maak ons tyd vir mekaar?

[Prent op bladsy 5]

Probeer ek om meer te gee as wat ek ontvang?

[Prent op bladsy 6]

Neem ek die inisiatief om geskille op te los?

[Prent op bladsy 7]

Neem ek my vrou se opinie in ag voordat ek ’n besluit neem?

[Prent op bladsy 9]

Konsentreer ek op my maat se goeie eienskappe?