Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Waarom misluk soveel huwelike?

Waarom misluk soveel huwelike?

Waarom misluk soveel huwelike?

“Fariseërs het na [Jesus] toe gekom met die bedoeling om hom te versoek en het gesê: ‘Is dit ’n man geoorloof om op sommer enige grond van sy vrou te skei?’”—Matteus 19:3.

PARTY in Jesus se dag het bevraagteken of die huwelik ’n permanente band kan of moet wees. Jesus het vir hulle gesê: “Het julle nie gelees dat hy wat hulle geskep het, hulle van die begin af man en vrou gemaak het nie en gesê het: ‘Daarom sal ’n man sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef, en die twee sal een vlees wees’? Sodat hulle nie meer twee is nie, maar een vlees. Wat God dan onder een juk saamgevoeg het, moet geen mens skei nie” (Matteus 19:4-6). a Dit is duidelik dat God wou hê dat die huwelik ’n permanente band moet wees.

Vandag eindig sowat 40 persent van die huwelike in baie lande in egskeiding. Is die Bybel se raad oor die huwelik heeltemal ouderwets? Kan dit wees dat soveel huwelike op die rotse beland omdat daar iets met die huweliksreëling self fout is?

Kyk na hierdie illustrasie: Twee egpare koop dieselfde soort motor. Die een egpaar hou hulle motor goed in stand en bestuur versigtig. Hulle motor gaan staan nie. Die ander egpaar bestee geen tyd of energie aan die instandhouding van hulle motor nie, en hulle bestuur roekeloos. Die motor gaan staan en hulle los dit net daar. Waar lê die fout in die tweede geval—by die motor of by die eienaars? Dit is duidelik dat die eienaars ’n groot deel van die verantwoordelikheid dra.

Net so beteken die feit dat baie huwelike misluk nie dat daar iets fout is met die huweliksreëling nie. Miljoene suksesvolle huwelike bewys die teendeel. Hierdie huwelike bring geluk en stabiliteit aan individue, gesinne en gemeenskappe. Maar soos ’n motor het die huwelik baie aandag en gereelde instandhouding nodig sodat dit kan hou.

Hetsy julle dae of dekades getroud is, die Bybel se raad oor hoe om die huwelik in stand te hou en te versterk, is werklik doeltreffend. Kyk na ’n paar voorbeelde op die volgende bladsye.

[Voetnoot]

a Die Bybel laat egskeiding wel op grond van geslagsonsedelikheid toe.—Matteus 19:9.