Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 48

Jy kan vol vertroue bly gedurende moeilike tye

Jy kan vol vertroue bly gedurende moeilike tye

“‘Wees sterk, . . . want ek is met julle,’ sê Jehovah van die leërmagte.” – HAG. 2:4.

LIED 118 “Gee ons meer geloof”

IN HIERDIE ARTIKEL a

1-2. (a) Watter ooreenkomste is daar tussen ons situasie en dié van die Jode wat teruggekeer het na Jerusalem? (b) Gee ’n oorsig van die uitdagings wat die Jode gehad het. (Sien die venster “ Die dae van Haggai, Sagaria en Esra”.)

 IS JY soms bekommerd oor die toekoms? Dalk het jy jou werk verloor en is jy bekommerd oor hoe jy vir jou gesin gaan sorg. Jy is dalk bekommerd oor jou gesin se veiligheid as gevolg van onstabiele politieke toestande, vervolging of omdat die predikingswerk teëgestaan word. Is jy oor enige van hierdie dinge bekommerd? As dit die geval is, sal dit jou aanmoedig om te sien hoe Jehovah die eertydse Israeliete gehelp het toe hulle soortgelyke probleme gehad het.

2 Die Jode wat hulle hele lewe lank in Babilon gebly het, het geloof nodig gehad om ’n gemaklike lewe agter te laat en na ’n land te reis wat die meeste van hulle nie baie goed geken het nie. Toe hulle daar aankom, was dit nie lank voordat hulle geraak was deur onstabiele ekonomiese en politieke toestande sowel as teenstand nie. As gevolg daarvan was dit vir party moeilik om te fokus op die werk om Jehovah se tempel te herbou. Daarom het Jehovah in omtrent 520 VHJ twee profete, Haggai en Sagaria, gestuur om die volk se ywer weer aan te wakker (Hag. 1:1; Sag. 1:1). Soos ons sal sien, het die aanmoediging wat hierdie profete gegee het, baie goeie resultate gehad. Maar amper 50 jaar later het die Jode wat na Jerusalem teruggekeer het, weer aanmoediging nodig gehad. Esra, ’n vaardige kopiis van die Wet, het toe van Babilon na Jerusalem gekom om God se volk aan te moedig om ware aanbidding eerste in hulle lewe te stel. – Esra 7:​1, 6.

3. Watter vrae sal ons bespreek? (Spreuke 22:19)

3 Net soos Haggai en Sagaria se profesieë God se volk in die verlede gehelp het om gedurende teenstand op Jehovah te bly vertrou, kan dit ons vandag help om vol vertroue te bly dat Jehovah ons sal ondersteun wanneer ons deur moeilike tye gaan. (Lees Spreuke 22:19.) Terwyl ons God se boodskap wat Haggai en Sagaria oorgedra het, bespreek en Esra se voorbeeld ondersoek, sal ons hierdie vrae beantwoord: Hoe is die Jode wat teruggekeer het, geraak deur al hierdie moeilike tye? Hoekom moet ons daarop gefokus bly om God se wil te doen gedurende moeilike tye? En hoe kan ons ons vertroue in Jehovah versterk wanneer ons deur moeilike tye gaan?

HOE MOEILIKE TYE DIE JODE WAT TERUGGEKEER HET, GERAAK HET

4-5. Hoekom het die Jode dalk hulle ywer verloor om die tempel te herbou?

4 Toe die Jode wat teruggekeer het in Jerusalem aankom, het hulle baie werk gehad om te doen. Hulle het Jehovah se altaar vinnig herbou en die fondasie van die tempel gelê (Esra 3:​1-3, 10). Maar kort daarna het hulle die ywer wat hulle aan die begin gehad het, verloor. Hoekom? Hulle moes nie net die tempel herbou nie, maar hulle moes ook huise bou om in te bly, landerye plant en vir hulle gesinne sorg (Esra 2:​68, 70). En hulle is teëgestaan deur hulle vyande, wat planne gemaak het om die werk om die tempel te herbou, stop te sit. – Esra 4:​1-5.

5 Die Jode wat teruggekeer het, is ook geraak deur onstabiele ekonomiese en politieke toestande. Hulle land was nou deel van die Persiese Ryk. Nadat die Persiese koning Kores in 530 VHJ gesterf het, wou die volgende koning, Kambuses, Egipte verower. Op pad na Egipte het sy soldate heel moontlik daarop aangedring dat die Israeliete vir hulle kos, water en blyplek moet gee, en dit het die lewe vir hulle nog moeiliker gemaak. Toe die volgende koning, Darius I, begin regeer, was dinge soos opstande en politieke onrus nog steeds algemeen in die Persiese Ryk. Hierdie toestande het baie van die Jode wat teruggekeer het, beslis bekommerd gemaak oor hoe hulle vir hulle gesinne sou sorg. As gevolg van die moeilike tye wat hulle deurgemaak het, het party Jode gevoel dat dit nie die regte tyd is om Jehovah se tempel te herbou nie. – Hag. 1:2.

6. Watter ander probleme het die Jode deurgemaak, en watter versekering het Sagaria hulle gegee volgens Sagaria 4:​6, 7?

6 Lees Sagaria 4:​6, 7. Die Jode het nie net ekonomiese en politieke probleme gehad nie, maar hulle was ook vervolg. In 522 VHJ het hulle vyande die Persiese regering oorreed om die werk om Jehovah se tempel te herbou, stop te sit. Maar Sagaria het die Jode verseker dat Jehovah Sy kragtige gees sou gebruik om enige struikelblokke te verwyder. In 520 VHJ het koning Darius hulle toegelaat om weer aan die tempel te begin werk, en hy het hulle selfs geld gegee en die plaaslike goewerneurs beveel om hulle te help. – Esra 6:​1, 6-10.

7. Watter seëninge het die Jode ontvang omdat hulle God se wil eerste in hulle lewe gestel het?

 7 Deur middel van Haggai en Sagaria het Jehovah sy volk belowe dat hy hulle sou ondersteun as hulle die werk om die tempel te herbou, eerste in hulle lewe gestel het (Hag. 1:​8, 13, 14; Sag. 1:​3, 16). Die Jode wat teruggekeer het, was aangemoedig deur die profete en het in 520 VHJ weer aan die tempel begin werk en dit in minder as vyf jaar klaar herbou. Omdat die Jode God se wil eerste in hulle lewe gestel het ten spyte van moeilike tye, het Jehovah hulle nie net materieel ondersteun nie, maar ook geestelik. As gevolg daarvan het hulle Jehovah met vreugde aanbid. – Esra 6:​14-16, 22.

BLY DAAROP GEFOKUS OM GOD SE WIL TE DOEN

8. Hoe kan die woorde in Haggai 2:4 ons help om daarop gefokus te bly om God se wil te doen? (Sien ook voetnoot.)

8 Terwyl die groot verdrukking nader kom, besef ons meer as ooit hoe dringend dit is om gehoorsaam te wees aan die gebod om die predikingswerk te doen (Mark. 13:10). Maar ons vind dit dalk moeilik om op ons bediening te fokus as ons geldprobleme het of as ons predikingswerk teëgestaan word. Wat kan ons help om Jehovah se wil eerste in ons lewe te stel? Ons moet vol vertroue bly dat “Jehovah van die leërmagte” b aan ons kant is. Hy sal ons ondersteun as ons aanhou om sy wil bo ons eie te stel. So ons het niks om voor bang te wees nie. – Lees Haggai 2:4.

9-10. Hoe het een paartjie gesien hoe waar Jesus se woorde in Matteus 6:33 is?

9 Kyk na die voorbeeld van Oleg en Irina, c ’n paartjie wat as pioniers dien. Nadat hulle getrek het om ’n gemeente in ’n ander gebied te help, het hulle hulle werk verloor omdat die ekonomiese toestande in hulle land al hoe erger geword het. Al was hulle omtrent ’n jaar lank sonder ’n permanente werk, het hulle heeltyd Jehovah se liefdevolle ondersteuning gevoel, en soms het hulle hulp ontvang van hulle broers en susters. Wat het hulle gehelp gedurende hierdie moeilike tye? Oleg, wat aan die begin depressief gevoel het, sê: “Om besig te bly in die bediening het ons gehelp om te fokus op wat die heel belangrikste in die lewe is.” Terwyl hy en sy vrou aangehou het om na werk te soek, het hulle besig gebly in hulle bediening.

10 Toe hulle eendag ná velddiens by die huis kom, het hulle uitgevind dat ’n goeie vriend omtrent 160 kilometer gereis het om vir hulle twee sakkies met inkopies te bring. Oleg sê: “Op daardie dag het ons weer eens gesien hoe baie Jehovah en die gemeente vir ons omgee. Ons is heeltemal oortuig daarvan dat Jehovah nooit sy knegte vergeet nie, maak nie saak hoe hopeloos hulle situasie dalk lyk nie.” – Matt. 6:33.

11. Wat kan ons verwag as ons daarop gefokus bly om God se wil te doen?

11 Jehovah wil hê dat ons daarop moet fokus om lewens te red deur aan te hou om dissipels te maak. Soos daar in  paragraaf 7 genoem is, het Haggai Jehovah se volk aangemoedig om ’n nuwe begin in hulle heilige diens te maak, asof hulle weer die tempel se fondasie lê. Jehovah het belowe om “’n seëning [te] stuur” as hulle dit gedoen het (Hag. 2:​18, 19). Ons kan ook daarvan seker wees dat Jehovah alles wat ons doen, sal seën as ons die werk wat hy vir ons gegee het eerste in ons lewe stel.

HOE OM VERTROUE IN JEHOVAH OP TE BOU

12. Hoekom het Esra en die ander Jode sterk geloof nodig gehad?

12 In 468 VHJ het Esra saam met ’n tweede groep Jode van Babilon na Jerusalem gereis. Esra en die Jode wat teruggekeer het, het sterk geloof nodig gehad om hierdie reis aan te pak. Hulle sou op gevaarlike paaie reis en ’n groot hoeveelheid goud en silwer saam met hulle dra wat aan die tempel geskenk is. Dit het hulle maklike teikens vir rowers gemaak (Esra 7:​12-16; 8:31). En hulle het gou besef dat selfs Jerusalem nie veilig was nie. Daar het min mense in die stad gebly, en die mure en poorte moes herstel word. Wat kan ons by Esra leer oor hoe om ons vertroue in Jehovah op te bou?

13. Hoe het Esra sy vertroue in Jehovah versterk? (Sien ook voetnoot.)

13 Esra het gesien hoe Jehovah Sy volk in moeilike tye ondersteun. Jare vroeër in 484 VHJ het Esra heel moontlik in Babilon gebly toe koning Ahasveros beveel het dat die Jode regdeur die Persiese Ryk doodgemaak moet word (Est. 3:​7, 13-15). Esra se lewe was in gevaar! Toe die Jode “in elke provinsie” hiervan hoor, het hulle gevas en getreur en ongetwyfeld Jehovah se leiding in gebed gevra (Est. 4:3). Dink net hoe Esra en die ander Jode gevoel het toe die teenoorgestelde gebeur – dié wat beplan het om die Jode dood te maak, is eerder doodgemaak! (Est. 9:​1, 2). Wat Esra gedurende daardie tyd ondervind het, het hom beslis voorberei vir ander moeilike tye in die toekoms en het sy vertroue versterk in Jehovah se vermoë om Sy volk te beskerm. d

14. Watter les het een suster geleer toe sy gesien het hoe Jehovah gedurende moeilike tye vir haar sorg?

14 Wanneer ons sien hoe Jehovah gedurende moeilike tye vir ons sorg, word ons vertroue in hom sterker. Kyk na die voorbeeld van Anastasia, wat in Oos-Europa bly. Sy het haar werk gelos sodat sy neutraal kon bly. Sy sê: “Ek was nog nooit in ’n situasie waar ek glad nie geld gehad het nie.” Dan sê sy verder: “Ek het die saak in Jehovah se hande gelos en gesien hoe hy liefdevol vir my sorg. As ek ooit weer sonder werk sit, sal ek nie bang wees nie. As my hemelse Vader vandag vir my sorg, sal hy môre vir my sorg.”

15. Wat het Esra gehelp om sy vertroue in Jehovah te behou? (Esra 7:​27, 28)

15 Esra het Jehovah se hand in sy eie lewe gesien. Toe Esra nagedink het oor die baie kere dat Jehovah in die verlede vir hom gesorg het, het dit hom gehelp om sy vertroue in Hom te behou. Let op die uitdrukking “die hand van Jehovah my God was met my”. (Lees Esra 7:​27, 28.) Esra het nog vyf keer iets soortgelyks gesê in die boek wat sy naam dra. – Esra 7:​6, 9; 8:​18, 22, 31.

In watter situasies sien ons dalk God se hand duideliker in ons lewe? (Sien paragraaf 16) e

16. In watter situasies sien ons dalk God se hand duideliker in ons lewe? (Sien ook prent.)

16 Jehovah kan ons help wanneer ons in ’n moeilike situasie is. Byvoorbeeld, wanneer ons ons baas vra of ons tyd kan afkry om ’n streekbyeenkoms by te woon of wanneer ons vra vir ’n verandering in ons werkrooster sodat ons al ons vergaderinge kan bywoon, skep ons ’n geleentheid om Jehovah se hand in ons lewe te sien. Ons is dalk verbaas wanneer ons sien hoe goed dinge uitdraai. As gevolg daarvan word ons vertroue in Jehovah sterker.

Esra huil en bid terwyl hy by die tempel is, en hy is ontsteld oor die sondes van die volk. Die volk huil ook. Dan vertroos Seganja Esra deur hom te verseker: “Daar [is] nog hoop vir Israel. . . . Ons is met u.” – Esra 10:​2, 4 (Sien paragraaf 17)

17. Hoe het Esra gewys dat hy nederig is gedurende moeilike tye? (Sien prent op voorblad.)

17 Esra het nederig tot Jehovah gebid vir hulp. Elke keer dat Esra oorweldig gevoel het deur sy verantwoordelikhede, het hy nederig tot Jehovah gebid (Esra 8:​21-23; 9:​3-5). Esra se gesindheid het ander gemotiveer om hom te ondersteun en om sy geloof na te volg (Esra 10:​1-4). Wanneer ons oorweldig voel deur bekommernisse oor ons materiële behoeftes of oor ons gesin se veiligheid moet ons vol vertroue tot Jehovah bid.

18. Wat kan ons help om meer vertroue in Jehovah te hê?

18 As ons nederig Jehovah se hulp soek en die ondersteuning van ons broers en susters aanvaar, sal ons vertroue in God groei. Erika, ’n ma van drie, het haar vertroue in Jehovah behou toe tragiese dinge met haar gebeur het. In ’n kort rukkie het haar ongebore baba en haar geliefde man gesterf. Sy sê oor alles wat met haar gebeur het: “Jy kan nie vooruit weet hoe Jehovah jou sal help nie. Hulp kan op verbasende maniere kom. Ek het geleer dat baie van my gebede beantwoord is deur die woorde en dade van my vriende. As ek vir my vriende sê wat in my lewe gebeur, kan hulle my makliker help.”

BEHOU JOU VERTROUE IN JEHOVAH TOT DIE EINDE TOE

19-20. Wat leer ons by die Jode wat nie na Jerusalem kon terugkeer nie?

19 Ons kan ook ’n waardevolle les leer by die Jode wat nie na Jerusalem kon terugkeer nie. Party van hulle was moontlik beperk in wat hulle kon doen as gevolg van ouderdom, ernstige siekte of gesinsverantwoordelikhede. Maar hulle het die Jode wat teruggekeer het, gewillig ondersteun deur materiële bydraes te maak (Esra 1:​5, 6). Dit lyk asof die Jode wat in Babilon agtergebly het, vir nog omtrent 19 jaar vrywillige bydraes na Jerusalem gestuur het nadat die eerste groep Jode daar aangekom het. – Sag. 6:10.

20 Al voel ons beperk in wat ons in God se diens kan doen, kan ons seker wees dat Jehovah alles waardeer wat ons uit ons hart uit doen om hom gelukkig te maak. Hoe weet ons dit? In Sagaria se dag het Jehovah vir sy profeet gevra om ’n kroon te maak uit die goud en die silwer wat die Jode in Babilon gestuur het (Sag. 6:11). Hierdie “kroon” sou as ’n “herinnering” dien van hulle vrygewige bydraes (Sag. 6:14). Ons kan seker wees dat Jehovah nooit sal vergeet wat ons uit ons hart uit doen om hom gedurende moeilike tye te dien nie. – Heb. 6:10.

21. Wat sal ons help om vertroue in Jehovah te hê maak nie saak wat in die toekoms sal gebeur nie?

21 Ons sal beslis aanhou om moeilike tye te ondervind in hierdie laaste dae, en toestande sal dalk selfs erger word in die toekoms (2 Tim. 3:​1, 13). Maar ons hoef ons nie te veel daaroor te bekommer nie. Onthou Jehovah se woorde aan sy volk in Haggai se dag: “Ek is met julle . . . Moenie bang wees nie” (Hag. 2:​4, 5). Ons kan ook seker wees dat Jehovah met ons sal wees solank ons ons bes doen om sy wil uit te voer. As ons die lesse toepas wat ons geleer het uit Haggai en Sagaria se profesieë en die voorbeeld van Esra, sal ons ons vertroue in Jehovah behou maak nie saak deur watter moeilike tye ons dalk in die toekoms gaan nie.

LIED 122 Wees standvastig, onbeweeglik!

a Hierdie artikel is saamgestel om ons te help om ons vertroue in Jehovah te versterk wanneer ons ekonomiese probleme het, wanneer ons onstabiele politieke toestande ondervind of wanneer ons predikingswerk teëgestaan word.

b Die uitdrukking “Jehovah van die leërmagte” verskyn 14 keer in die boek Haggai, en dit het die Jode daaraan herinner en herinner ons daaraan dat Jehovah onbeperkte krag het en groot leërmagte geesskepsele onder sy beheer het. – Ps. 103:​20, 21.

c Party name is verander.

d As ’n vaardige kopiis van God se Wet het Esra ook sterk vertroue in Jehovah se profetiese woord ontwikkel selfs voordat hy na Jerusalem gereis het. – 2 Kron. 36:​22, 23; Esra 7:​6, 9, 10; Jer. 29:14.

e BESKRYWING VAN PRENT: ’n Broer vra sy baas vir tyd af om ’n streekbyeenkoms by te woon, maar sy baas sê nee. Hy bid vir hulp en leiding terwyl hy voorberei om weer met sy baas te gaan praat. Hy wys vir sy baas die byeenkomsuitnodiging en verduidelik die waarde van Bybelonderrigting. Die baas is beïndruk en dink weer na oor sy besluit.