Sagaria 6:1-15

  • Visioen 8: Vier strydwaens (1-8)

  • Spruit sal koning en priester wees (9-15)

6  Toe het ek weer opgekyk en vier strydwaens gesien wat tussen twee berge uitkom. Die berge was van koper.  Die eerste strydwa het rooi perde gehad, en die tweede strydwa swart perde.+  Die derde strydwa het wit perde gehad, en die vierde strydwa gespikkelde en bont perde.+  Ek het vir die engel wat met my gepraat het, gevra: “Wat is dit, my heer?”  Die engel het my geantwoord: “Dit is die vier geeste+ van die hemel wat uitgaan nadat hulle hulle plek voor die Here van die hele aarde ingeneem het.+  Die een* met die swart perde gaan na die land van die noorde,+ die wit perde gaan na die land agter die see en die gespikkeldes gaan na die land van die suide.  En die bontes was gretig om te gaan en die aarde te deurkruis.” Toe het hy gesê: “Gaan, deurkruis die aarde.” En hulle het die aarde gaan deurkruis.  Hy het toe na my geroep en gesê: “Kyk, dié wat na die land van die noorde gaan, het die gees van Jehovah in die land van die noorde laat rus.”  Jehovah het weer met my gepraat en gesê: 10  “Neem van Heldai, Tobiʹa en Jedaʹja van die bydraes wat hulle van die ballinge* teruggebring het. En op daardie dag moet jy saam met dié wat uit Babilon gekom het, na die huis van Josiʹa, die seun van Sefanʹja, gaan. 11  Jy moet silwer en goud neem en ’n kroon maak en dit op die kop sit van die hoëpriester Josua,+ die seun van Joʹsadak. 12  En sê vir hom: “‘Dít is wat Jehovah van die leërmagte sê: “Hier is die man wie se naam Spruit+ is. Hy sal uit sy plek uitspruit, en hy sal die tempel van Jehovah bou.+ 13  Hy is die een wat die tempel van Jehovah sal bou, en hy is die een wat die majesteit sal ontvang. Hy sal op sy troon gaan sit en regeer, en hy sal ook ’n priester op sy troon wees.+ En daar sal vrede* tussen die twee* wees. 14  En die kroon sal in die tempel van Jehovah dien as ’n herinnering aan Helem, Tobiʹa, Jedaʹja+ en Hen, die seun van Sefanʹja. 15  En dié wat ver is, sal kom en aan die tempel van Jehovah bou.” En julle sal moet weet dat Jehovah van die leërmagte my na julle toe gestuur het. En dit sal gebeur – as julle na die stem van Jehovah julle God luister.’”

Voetnote

D.w.s. die strydwa.
D.w.s. mense wat uit hulle land weggevoer is.
Of “’n vreedsame ooreenkoms”.
D.w.s. tussen sy rol as heerser en sy rol as priester.