Esra 9:1-15

  • Israeliete trou met ander volke (1-4)

  • Esra bely volk se sondes in gebed (5-15)

9  En onmiddellik nadat hierdie dinge gedoen is, het die leiers na my toe gekom en gesê: “Die volk Israel en die priesters en die Leviete het hulle nie van die volke van die lande en van hulle afskuwelike gebruike+ afgesonder nie, dié van die Kanaäniete, die Hetiete, die Perissiete, die Jebusiete, die Ammoniete, die Moabiete, die Egiptenare+ en die Amoriete.+  Hulle het van hulle dogters as vrouens vir hulleself en vir hulle seuns geneem.+ Nou het hulle, die heilige nageslag,*+ met die volke van die lande vermeng geraak.+ Die leiers en die amptenare het die voortou geneem in hierdie ontrouheid.”  Die oomblik toe ek hiervan hoor, het ek my kleed en my moulose oorkleed geskeur en van die hare van my kop en my baard uitgetrek, en ek het in skok gaan sit.  Toe het almal wat diep respek vir die woorde van die God van Israel gehad het,* om my bymekaargekom as gevolg van die ontrouheid van die ballinge.* Ek het in skok gesit totdat dit tyd was vir die graanoffer in die aand.+  En toe dit tyd geword het vir die graanoffer+ in die aand, het ek uit my vernedering opgestaan, met my kleed en my moulose oorkleed geskeur, en ek het op my knieë gegaan en my hande na Jehovah my God uitgestrek.  En ek het gesê: “O my God, ek voel skaam en verleë om my gesig na u toe op te lig, o my God, want ons oortredings het bo ons koppe uitgestyg en ons skuld het opgehoop tot by die hemel.+  Van die dae van ons voorvaders af tot vandag toe is ons skuld groot,+ en weens ons oortredings is ons, ons konings en ons priesters in die hand van die konings van die lande gegee. Ons is met die swaard doodgemaak,+ gevange geneem,+ beroof+ en verneder, net soos vandag.+  Maar nou het Jehovah ons God vir ’n kort rukkie genade aan ons betoon deur party van ons te laat oorbly en deur vir ons veiligheid* in sy heilige plek te gee,+ om ons oë te laat straal, o ons God, en om ons ’n bietjie verligting te gee terwyl ons slawe is.  Want al is ons slawe,+ het ons God ons nie in ons slawerny gelos nie, maar hy bewys sy lojale liefde aan ons voor die konings van Persië,+ wat ons toegelaat het om terug te keer om die verwoeste huis van ons God te herbou.+ God het ons beskerming* in Juda en in Jerusalem gegee. 10  “Maar wat kan ons dan nou ná al hierdie dinge sê, o ons God? Want ons het u gebooie verlaat, 11  wat u ons deur u knegte die profete gegee het deur te sê: ‘Die land wat julle ingaan om in besit te neem, is ’n onrein land weens die onreinheid van die volke van die lande, weens hulle afskuwelike gebruike. Hulle het die land van die een end tot die ander end met hulle onreinheid gevul.+ 12  Daarom moet julle nie julle dogters aan hulle seuns gee nie en ook nie hulle dogters vir julle seuns aanvaar nie,+ en julle moet hulle nooit help om vrede te hê en voorspoedig te wees nie,+ sodat julle sterk kan word en die goeie dinge van die land kan eet en dit vir ewig vir julle kinders in besit kan neem.’ 13  En ná alles wat met ons gebeur het weens ons slegte dade en ons groot skuld – want u, o ons God, het ons nie gestraf volgens wat ons vir ons oortreding verdien nie,+ en u het dié van ons wat nou hier is, toegelaat om oor te bly+ – 14  sal ons weer u gebooie verbreek en ons in die huwelik verbind* met die volke wat hierdie afskuwelike dinge doen?+ Sal u nie so kwaad vir ons word dat u ons heeltemal sal vernietig sodat niemand sal oorbly of oorleef nie? 15  O Jehovah, die God van Israel, u is regverdig,+ want ons het oorgebly as ’n volk tot vandag toe. Hier staan ons skuldig voor u, want dit is onmoontlik om voor u te staan as gevolg van wat ons gedoen het.”+

Voetnote

Lett. “saad”.
Lett. “wat vir . . . gebewe het”.
D.w.s. mense wat uit hulle land weggevoer is.
Lett. “’n pen”, moontlik ’n tentpen.
Of “’n klipmuur”.
Of “en ondertrou”.