Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Dien Jehovah sonder om afgelei te word

Dien Jehovah sonder om afgelei te word

“Maria [het] na [Jesus se] woord bly luister . . . Marta daarenteen is afgelei deurdat sy na baie pligte omgesien het.” —LUKAS 10:39, 40.

LIEDERE: 94, 134

1, 2. Waarom was Jesus lief vir Marta, maar wat toon dat sy nie volmaak was nie?

AAN watter soort persoon dink jy wanneer jy aan Lasarus se suster Marta dink? Die Bybel toon dat Marta ’n baie goeie vriendin van Jesus was, en dit sê dat hy lief was vir haar. Sy was nie die enigste vrou vir wie Jesus rein en onselfsugtige liefde gehad het nie. Marta se suster, Maria, was ook ’n hegte vriendin van Jesus. En Jesus was lief vir sy moeder, Maria (Johannes 11:5; 19:25-27). Maar waarom was Jesus lief vir Marta?

2 Jesus was lief vir Marta omdat sy goedhartig en vrygewig was, en sy was ook ’n harde werker. Maar Jesus het haar bowenal liefgehad omdat sy sterk geloof gehad het. Sy het alles geglo wat Jesus geleer het, en sy was oortuig daarvan dat hy die beloofde Messias was (Johannes 11:21-27). Maar soos ons almal, was Marta nie volmaak nie, sy het ook foute gemaak. Byvoorbeeld, toe Jesus hulle eenkeer besoek het, het Marta vir Jesus gesê om haar suster, Maria, tereg te wys. “Here,” het Marta gesê, “gee u nie om dat my suster my alleen na alles laat omsien nie? Sê dan vir haar om my te kom help.” (Lees Lukas 10:38-42.) Waarom het Marta dit gesê, en wat kan ons leer uit die antwoord wat Jesus haar gegee het?

MARTA WAS AFGELEI

3, 4. Hoe het Maria “die goeie deel” gekies, en wat het Marta geleer? (Sien prent aan begin van artikel.)

3 Jesus was dankbaar dat Marta en Maria hom na hulle huis genooi het, en hy wou hierdie tyd gebruik om hulle kosbare waarhede te leer. Maria het onmiddellik by hom gaan sit en “na sy woord bly luister”. Sy wou soveel as moontlik by die Groot Leermeester leer. Marta kon ook besluit het om na Jesus te luister. En hy sou haar geprys het as sy opgehou het met wat sy gedoen het sodat sy na hom kon luister.

4 Maar Marta was afgelei. Sy was besig om ’n spesiale maaltyd vir Jesus voor te berei en baie ander dinge te doen om sy besoek so aangenaam as moontlik te maak. Toe sy sien dat Maria haar nie help nie, het sy geïrriteerd geraak en by Jesus gekla. Hy het geweet dat Marta te veel probeer doen, en daarom het hy liefdevol gesê: “Marta, Marta, jy is besorg en verontrus oor baie dinge.” Hy het ook gemeld dat ’n eenvoudige maaltyd, dalk net een dis, genoeg sou wees. Toe het Jesus Maria geprys omdat sy aandagtig na hom geluister het. Hy het gesê: “Wat Maria betref, sy het die goeie deel gekies, en dit sal nie van haar weggeneem word nie.” Maria het dalk vergeet wat sy by daardie maaltyd geëet het, maar sy het sekerlik nooit vergeet wat sy by Jesus geleer het en hoe hy haar geprys het nie. Die apostel Johannes het meer as 60 jaar later geskryf: ‘Jesus het Marta en haar suster liefgehad’ (Johannes 11:5). Hierdie woorde toon dat Marta Jesus se liefdevolle teregwysing aanvaar het en Jehovah die res van haar lewe getrou gedien het.

5. Waarom is dit vandag baie moeilik om ons aandag op die belangriker dinge gerig te hou, en watter vraag sal ons beantwoord?

5 Ons besef dat daar vandag meer dinge is wat ons aandag van Jehovah se diens kan aflei as wat daar in Bybeltye was. Die Wagtoring van 1 Januarie 1959 het die broers en susters gewaarsku om nie toe te laat dat tegnologie hulle aandag van Jehovah se diens aflei nie. Selfs destyds het dit gelyk asof daar elke dag iets nuuts is. Dinge soos glanstydskrifte, die radio, rolprente en televisie was baie gewild. Die Wagtoring het gesê dat daar moontlik al hoe meer dinge sal wees wat ons aandag aflei namate die einde van hierdie stelsel nader kom. Vandag is daar meer afleidings as ooit tevore. Wat kan ons doen om meer soos Maria te wees en ons aandag op Jehovah se diens gerig te hou?

MOENIE TEN VOLLE VAN DIE WÊRELD GEBRUIK MAAK NIE

6. Hoe gebruik Jehovah se volk tegnologie?

6 Jehovah se volk gebruik die wêreld se tegnologie om die goeie nuus te verkondig. Byvoorbeeld, voor en gedurende die Eerste Wêreldoorlog het hulle die “Fotodrama van die Skepping” vertoon. Deur middel van hierdie vertoning, wat bestaan het uit kleurskyfies en kort kleurfilms waarby daar klank was, kon hulle vir miljoene mense in baie lande getuig. Die slotgedeelte van die “Fotodrama” het die vreedsame tyd beskryf wanneer Jesus Christus oor die aarde sal heers. Later het Jehovah se volk radiouitsendings gebruik om die Koninkryksboodskap aan miljoene mense regoor die wêreld uit te saai. Vandag gebruik ons rekenaars en die Internet om mense te bereik waar hulle ook al is, selfs in afgeleë plekke.

Moenie toelaat dat onbelangrike dinge jou aandag van jou diens aan Jehovah aflei nie (Sien paragraaf 7)

7. (a) Waarom is dit gevaarlik om ten volle van die wêreld gebruik te maak? (b) Waarvoor moet ons baie versigtig wees? (Sien voetnoot.)

7 Die Bybel waarsku ons dat ons nie ten volle van die wêreld gebruik moet maak nie. Dit beteken ook dat ons nie te veel tyd moet bestee aan die dinge wat die wêreld bied nie. (Lees 1 Korintiërs 7:29-31.) Party van hierdie dinge is nie verkeerd nie, maar dit kan baie tyd mors. Byvoorbeeld, ons geniet dit dalk om ’n stokperdjie te hê, boeke te lees, televisie te kyk, interessante plekke te besoek, inkopies te doen en meer uit te vind omtrent die nuutste elektroniese toestelle of luukshede. Baie hou daarvan om aanlyn te gesels, teksboodskappe en e-posse te stuur of die heeltyd op hoogte te bly van die nuus of sportuitslae. Maar party kan aan hierdie dinge verslaaf raak (Prediker 3:1, 6). * (Sien voetnoot.) As ons baie van ons tyd bestee aan dinge wat onbelangrik is, sal ons dalk nie genoeg aandag gee aan wat van die grootste belang is nie—ons aanbidding van Jehovah.—Lees Efesiërs 5:15-17.

8. Waarom is dit belangrik dat ons nie die dinge in die wêreld moet liefhê nie?

8 Satan doen alles in sy vermoë om ons aan te trek tot die dinge in sy wêreld en ons aandag van ons diens aan Jehovah af te lei. Satan het dit in die eerste eeu gedoen, en vandag doen hy dit in selfs groter mate (2 Timoteus 4:10). Daarom moet ons ons voortdurend ondersoek om vas te stel hoe ons oor die dinge in die wêreld voel en dan die nodige aanpassings maak. Die Bybel sê vir ons dat ons nie die dinge in die wêreld moet liefhê nie. Ons moet eerder ons liefde vir Jehovah sterk hou. As ons dit doen, sal dit makliker wees om Jehovah te gehoorsaam en na aan hom te bly.—1 Johannes 2:15-17.

HOU JOU AANDAG GERIG OP DIE BELANGRIKSTE DINGE

9. Waarop moes Jesus se dissipels hulle aandag gerig hou, en hoe het Jesus die voorbeeld hierin gestel?

9 Jesus het Marta liefdevol geleer om nie deur baie dinge afgelei te word nie, en hy het sy dissipels dieselfde les geleer. Hy het hulle aangespoor om hulle aandag gerig te hou op hulle diens aan Jehovah en op Sy Koninkryk. (Lees Matteus 6:22, 33.) Jesus het self ’n goeie voorbeeld hierin gestel. Hy het nie baie besittings gehad nie, en hy het nie ’n huis of grond besit nie.—Lukas 9:58; 19:33-35.

10. Hoe het Jesus vir ons ’n goeie voorbeeld in die bediening gestel?

10 Jesus het nie toegelaat dat enigiets sy aandag van die predikingswerk aflei nie. Byvoorbeeld, nie lank nadat hy begin preek het nie, wou die skares in Kapernaum hê dat Jesus meer tyd in hulle stad moet deurbring. Wat het hy gedoen? Hy het op sy toewysing gekonsentreer. Hy het gesê: “Ook aan ander stede moet ek die goeie nuus van die koninkryk van God bekend maak, want hiervoor is ek uitgestuur” (Lukas 4:42-44). Jesus het ver geloop om die goeie nuus te verkondig en soveel mense as moontlik te onderrig. Hoewel hy ’n volmaakte mens was, het hy ook moeg geword en moes hy rus omdat hy baie hard gewerk het.—Lukas 8:23; Johannes 4:6.

Jesus het ons geleer dat ons aandag van ons diens aan God afgelei kan word as ons materiële dinge najaag

11. Wat het Jesus gedoen toe ’n man met ’n persoonlike probleem na hom toe gekom het? Watter les het Jesus sy dissipels geleer?

11 Later, terwyl Jesus besig was om sy dissipels ’n belangrike les te leer, het ’n man hom in die rede geval en gesê: “Leermeester, sê vir my broer om die erfenis met my te deel.” Jesus het nie hierdie man se persoonlike probleem probeer oplos nie. Sy aandag is nie afgelei van die les wat hy sy dissipels wou leer nie. Om die waarheid te sê, hy het hierdie geleentheid gebruik om hulle te leer dat hulle aandag van hulle diens aan God afgelei kan word as hulle materiële dinge najaag.—Lukas 12:13-15.

12, 13. (a) Wat het Jesus gedoen wat Grieke in Jerusalem beïndruk het? (b) Hoe het Jesus gereageer toe Filippus hom gevra het of hierdie mense hom kon ontmoet?

12 Die laaste paar dae van Jesus se lewe as ’n mens was baie spanningsvol (Matteus 26:38; Johannes 12:27). Hy het geweet dat hy verskriklik sou ly en sou sterf. Hy het ook geweet dat hy voor sy dood nog baie moes doen. Byvoorbeeld, op Sondag 9 Nisan het Jesus Jerusalem op ’n esel binnegery. Die skares het hom as hulle Koning verwelkom (Lukas 19:38). Die volgende dag het Jesus gierige handelaars wat goedere teen hoë pryse verkoop het en mense sodoende beroof het, moedig uit die tempel uitgedryf.—Lukas 19:45, 46.

13 ’n Paar Grieke wat na Jerusalem gekom het om die Pasga te vier, was baie beïndruk met wat Jesus gedoen het. Daarom het hulle vir die apostel Filippus gesê dat hulle Jesus wil ontmoet. Maar Jesus het nie gewildheid nagestreef sodat hy beskerming teen sy vyande kon kry nie. Hy het geweet wat van groter belang is. Sy aandag was gevestig op Jehovah se wil vir hom, naamlik om ’n offerdood te sterf. Daarom het hy sy dissipels daaraan herinner dat hy binnekort sou sterf en dat almal wat hom volg, ook bereid moet wees om hulle lewe af te lê. Hy het gesê: “Hy wat lief is vir sy siel, vernietig dit, maar hy wat sy siel in hierdie wêreld haat, sal dit vir die ewige lewe beveilig.” Maar Jesus het ook belowe dat die Vader Jesus se volgelinge sou eer en hulle die ewige lewe sou gee. Filippus kon hierdie aanmoedigende boodskap aan daardie Griekse mense gee.—Johannes 12:20-26.

14. Waarvan het Jesus altyd seker gemaak, hoewel hy die predikingswerk eerste gestel het?

14 Toe Jesus op die aarde was, was die verkondiging van die goeie nuus sy vernaamste werk. Hoewel sy lewe om die predikingswerk gedraai het, was dit nie al waaraan hy gedink het nie. Byvoorbeeld, hy het ten minste een troue bygewoon, waar hy water in baie goeie wyn verander het (Johannes 2:2, 6-10). Hy het ook maaltye geëet by vriende en ander wat in die goeie nuus belanggestel het (Lukas 5:29; Johannes 12:2). Nog belangriker, Jesus het dikwels tyd gemaak om te bid, te peins en te rus.—Matteus 14:23; Markus 1:35; 6:31, 32.

‘LAAT ONS ELKE GEWIG AFLÊ’

15. Wat het die apostel Paulus Christene aangespoor om te doen, en hoe het hy ’n goeie voorbeeld gestel wat dit betref?

15 Die apostel Paulus het gesê dat Christene soos hardlopers in ’n lang wedloop is, en hy het hulle aangespoor om ontslae te raak van enigiets wat kan keer dat hulle die wedloop voltooi. (Lees Hebreërs 12:1.) Paulus het self ’n goeie voorbeeld gestel wat dit betref. Hy kon ’n ryk en beroemde Joodse godsdiensleier gewees het, maar hy het hierdie loopbaan prysgegee. Hy het eerder gekonsentreer op “die belangriker dinge”. Hy het baie hard gewerk in die predikingswerk en het na baie plekke gereis, insluitende Sirië, Klein-Asië, Masedonië en Judea. Paulus het sy oë gerig gehou op die beloning van die ewige lewe in die hemel. Hy het gesê: “Ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na die dinge wat voor is, en ek streef na die doel vir die prys” (Filippense 1:10; 3:8, 13, 14). Paulus was nie getroud nie, en dit het hom gehelp om “volgehoue diens aan die Here [te verrig], sonder om afgelei te word”.—1 Korintiërs 7:32-35.

Paulus het sy loopbaan prysgegee en op “die belangriker dinge” gekonsentreer

16, 17. Hoe kan ons Paulus se voorbeeld volg, hetsy ons getroud of ongetroud is? Hoe het Mark en Claire dit gedoen?

16 Soos Paulus, besluit party van Jehovah se hedendaagse knegte om nie te trou nie sodat hulle meer in Jehovah se diens kan doen (Matteus 19:11, 12). Ongetroude mense het dikwels minder gesinsverantwoordelikhede as getroude mense. Maar hetsy ons getroud is of nie, ons almal kan “elke gewig aflê” wat ons aandag van ons diens aan Jehovah kan aflei. Ons sal dalk ons gewoontes moet verander sodat ons nie tyd mors nie en meer in Jehovah se diens kan doen.

17 Byvoorbeeld, Mark en Claire, wat in Wallis grootgeword het, het begin pionier toe hulle skool klaargemaak het. Nadat hulle getrou het, het hulle aanhou pionier. Maar hulle wou meer doen. Mark verduidelik: “Ons het ons lewe verder vereenvoudig deur ons drieslaapkamerhuis en deeltydse werk op te gee sodat ons internasionale konstruksiewerk kon doen.” Oor die afgelope 20 jaar het hulle na baie dele van Afrika gereis om Koninkryksale te help bou. Soms het hulle baie min geld gehad, maar Jehovah het altyd vir hulle gesorg. Claire sê: “Dit verskaf ons groot tevredenheid om elke dag in Jehovah se diens deur te bring. Ons het oor die jare soveel vriende gemaak, en ons kom niks kort nie. Die bietjie wat ons prysgegee het, kan nie vergelyk word met die geluk wat dit meebring om Jehovah voltyds te dien nie.” Baie voltydse knegte voel ook so. *—Sien voetnoot.

18. Watter vrae kan ons ons afvra?

18 Kan jy yweriger wees in jou diens aan Jehovah? Is daar dinge wat jou aandag aflei van wat belangriker is? Wat kan jy doen as dit die geval is? Miskien kan jy verbeter wanneer dit kom by jou Bybellees en studiegewoontes. Die volgende artikel sal verduidelik hoe jy dit kan doen.

^ par. 17 Sien ook die lewensverhaal van Hadyn en Melody Sanderson in die artikel “Ons het geweet wat reg is en dit gedoen” (Die Wagtoring, 1 Maart 2006). Hulle het ’n suksesvolle besigheid in Australië gehad, maar hulle het dit verkoop sodat hulle die voltydse diens kon betree. Vind uit wat gebeur het toe hulle geld opgeraak het terwyl hulle in Indië as sendelinge gedien het.