Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Sonder ’n illustrasie het hy nie met hulle gepraat nie”

“Sonder ’n illustrasie het hy nie met hulle gepraat nie”

“Sonder ’n illustrasie het hy nie met hulle gepraat nie”

“Al hierdie dinge het Jesus deur illustrasies vir die skare gesê. Ja, sonder ’n illustrasie het hy nie met hulle gepraat nie.”—MATTEUS 13:34.

1, 2. (a) Waarom word doeltreffende illustrasies nie maklik vergeet nie? (b) Watter soort illustrasies het Jesus gebruik, en watter vrae ontstaan oor sy gebruik van illustrasies? (Sien ook voetnoot.)

 KAN jy ’n illustrasie onthou wat jy jare gelede, dalk in ’n openbare toespraak, gehoor het? Doeltreffende illustrasies word nie maklik vergeet nie. ’n Skrywer het gesê dat illustrasies “ore in oë verander en luisteraars in staat stel om beelde in hulle gedagtes te vorm”. Omdat ons dikwels beter dink as ons beelde vorm, kan illustrasies dit makliker maak om begrippe te verstaan. Illustrasies kan lewe gee aan woorde en lesse oordra wat in ons geheue ingeprent word.

2 Geen onderrigter op aarde was vaardiger in die gebruik van illustrasies as Jesus Christus nie. Die talle gelykenisse van Jesus kan bykans tweeduisend jaar nadat hy hulle vertel het, nog steeds maklik herroep word. a Waarom het Jesus soveel gebruik gemaak van hierdie besondere onderrigmetode? En wat het sy illustrasies so doeltreffend gemaak?

Waarom Jesus deur illustrasies onderrig het

3. (a) Wat is, volgens Matteus 13:34, 35, een rede waarom Jesus illustrasies gebruik het? (b) Wat toon dat Jehovah waarde heg aan hierdie onderrigmetode?

3 Die Bybel gee twee belangrike redes waarom Jesus illustrasies gebruik het. Eerstens het dit ’n profesie vervul. Die apostel Matteus het geskryf: “Al hierdie dinge het Jesus deur illustrasies vir die skare gesê. Ja, sonder ’n illustrasie het hy nie met hulle gepraat nie; sodat vervul sou word wat gespreek is deur middel van die profeet, wat gesê het: ‘Ek sal my mond oopmaak met illustrasies’” (Matteus 13:34, 35). “Die profeet” wat deur Matteus aangehaal is, was die skrywer van Psalm 78:2. Daardie psalmis het eeue voor Jesus se geboorte onder inspirasie van God se gees geskryf. Is dit nie merkwaardig dat Jehovah honderde jare vooruit bepaal het dat sy Seun mense deur illustrasies sou onderrig nie? Jehovah moet beslis waarde heg aan hierdie onderrigmetode!

4. Hoe het Jesus verduidelik waarom hy illustrasies gebruik het?

4 Tweedens het Jesus self verduidelik dat hy illustrasies gebruik het om diegene af te skei wie se hart onontvanklik was. Nadat hy vir ’n “groot skare” die gelykenis van die saaier vertel het, het sy dissipels gevra: “Waarom praat u met hulle deur middel van illustrasies?” Jesus het geantwoord: “Aan julle word dit gegee om die heilige geheime van die koninkryk van die hemele te verstaan, maar aan daardie mense word dit nie gegee nie. Daarom praat ek met hulle deur middel van illustrasies, want hulle kyk, maar hulle kyk tevergeefs, en hulle hoor, maar hulle hoor tevergeefs, en ook begryp hulle nie die sin daarvan nie; en oor hulle gaan die profesie van Jesaja in vervulling, wat sê: ‘Wanneer julle hoor, sal julle hoor, maar hoegenaamd nie die sin daarvan begryp nie; en wanneer julle kyk, sal julle kyk, maar hoegenaamd nie sien nie. Want die hart van hierdie volk het onontvanklik geword.’”—Matteus 13:2, 10, 11, 13-15; Jesaja 6:9, 10.

5. Hoe het Jesus se illustrasies die nederige luisteraars van die trotses van hart afgeskei?

5 Wat omtrent Jesus se illustrasies het mense afgeskei? In party gevalle moes dié wat na hom geluister het, diep delf om die volle betekenis van sy woorde te verstaan. Nederige persone is beweeg om meer inligting te vra (Matteus 13:36; Markus 4:34). Jesus se illustrasies het dus die waarheid geopenbaar aan diegene wie se hart daarna gesmag het; terselfdertyd het sy illustrasies die waarheid verberg vir diegene met ’n trotse hart. Wat ’n merkwaardige onderrigter was Jesus tog! Kom ons kyk nou na van die faktore wat sy illustrasies so doeltreffend gemaak het.

Selektiewe gebruik van besonderhede

6-8. (a) Watter voordeel het dié wat in die eerste eeu na Jesus geluister het, nog nie gehad nie? (b) Watter voorbeelde toon dat Jesus selektief was in sy gebruik van besonderhede?

6 Het jy al ooit gewonder hoe dit vir daardie eerste-eeuse dissipels moes gewees het om self te hoor hoe Jesus onderrig? Hoewel hulle die voorreg gehad het om die stem van Jesus te hoor, het hulle nog nie die voordeel gehad van ’n geskrewe verslag wat hulle kon raadpleeg om hulle te herinner aan wat hy gesê het nie. Hulle moes Jesus se woorde in hulle verstand en hart bewaar. Deur sy vaardige gebruik van illustrasies het Jesus dit vir hulle makliker gemaak om te onthou wat hy hulle geleer het. Hoe het hy dit gedoen?

7 Jesus het besonderhede selektief gebruik. Wanneer spesifieke besonderhede van toepassing was op ’n verhaal of nodig was vir beklemtoning, het hy seker gemaak dat hy dit voorsien. Hy het dus gesê presies hoeveel skape die eienaar agtergelaat het om na die een verdwaalde skaap te gaan soek, hoeveel uur die werkers in die wingerd gewerk het en hoeveel talente toevertrou is.—Matteus 18:12-14; 20:1-16; 25:14-30.

8 Terselfdertyd het Jesus onbelangrike besonderhede uitgelaat wat dit moeiliker kon maak om die betekenis van die illustrasies te snap. In die gelykenis van die onbarmhartige slaaf het hy byvoorbeeld geen verduideliking gegee van hoe daardie slaaf uiteindelik ’n skuld van 60 000 000 denarii laat oploop het nie. Jesus het die belangrikheid daarvan beklemtoon om vergewensgesind te wees. Wat saak gemaak het, was nie hoe die slaaf in die skuld beland het nie, maar hoe sy skuld vergewe is en hoe hy, op sy beurt, ’n medeslaaf behandel het wat hom betreklik min geld geskuld het (Matteus 18:23-35). Net so ook in die illustrasie van die verlore seun het Jesus nie ’n verduideliking gegee van waarom die jonger seun skielik sy erfenis wou hê en waarom hy dit verkwis het nie. Maar Jesus het in besonderhede vertel hoe die vader gevoel en gereageer het toe sy seun tot inkeer gekom en teruggekeer het huis toe. Sulke besonderhede aangaande die vader se reaksie was noodsaaklik om die punt te beklemtoon wat Jesus gemaak het, dat Jehovah “ryklik” vergewe.—Jesaja 55:7; Lukas 15:11-32.

9, 10. (a) Waarop het Jesus die aandag gevestig wanneer hy die karakters in sy illustrasies uitgebeeld het? (b) Hoe het Jesus dit makliker gemaak vir dié wat na hom geluister het en ander om sy illustrasies te onthou?

9 Jesus het ook die karakters in sy gelykenisse met groot insig uitgebeeld. Hy het nie breedvoerige beskrywings van die karakters se voorkoms gegee nie, maar dikwels eerder die aandag gevestig op wat hulle gedoen het en hoe hulle gereageer het op die gebeure waarvan hy vertel het. Hy het dus nie beskryf hoe die barmhartige Samaritaan gelyk het nie, maar iets veel belangrikers vertel—hoe die Samaritaan medelye betoon het deur ’n beseerde Jood te help wat langs die pad gelê het. Jesus het die besonderhede voorsien wat nodig was om sy toehoorders te leer dat naasteliefde ook betoon moet word aan mense wat nie van dieselfde ras of nasionaliteit as ons is nie.—Lukas 10:29, 33-37.

10 Jesus se oordeelkundige gebruik van besonderhede het sy illustrasies bondig en eenvoudig gehou. Só het hy dit makliker gemaak vir dié wat in die eerste eeu na hom geluister het—en tallose ander wat later die geïnspireerde Evangelies sou lees—om sy illustrasies en die waardevolle lesse wat dit oorgedra het, te onthou.

Prente van dinge in die daaglikse lewe

11. Gee voorbeelde van hoe Jesus se gelykenisse handel oor dinge wat hy ongetwyfeld waargeneem het terwyl hy in Galilea opgegroei het.

11 Jesus was ’n meester in die gebruik van illustrasies wat met mense se lewe verband gehou het. Baie van sy gelykenisse handel oor dinge wat hy ongetwyfeld waargeneem het terwyl hy in Galilea opgegroei het. Dink ’n oomblik aan sy vroeë lewe. Hy moes seker baie keer gesien het hoe sy moeder gesuurde brood voorberei deur ’n bietjie suurdeeg te neem wat oorgehou is van ’n vorige baksel en dit as ’n rysmiddel gebruik (Matteus 13:33). Hoeveel keer het hy nie vissermanne dopgehou wat hulle nette in die helder blou water van die See van Galilea laat sak het nie? (Matteus 13:47). Hoeveel keer het hy nie kinders in die markplein sien speel nie? (Matteus 11:16). Jesus het waarskynlik op ander alledaagse dinge gelet wat hy by sy illustrasies ingesluit het—saad wat gesaai word, vreugdevolle huweliksfeeste en graanlande wat in die son ryp word.—Matteus 13:3-8; 25:1-12; Markus 4:26-29.

12, 13. Hoe het Jesus se gelykenis van die koring en die onkruid getoon dat hy bekend was met plaaslike toestande?

12 Dit is dan geen wonder dat omstandighede en situasies van die daaglikse lewe in byna al Jesus se illustrasies voorkom nie. Om sy vaardigheid in die gebruik van hierdie onderrigmetode beter te verstaan, is dit dus nuttig om te sien wat sy woorde vir sy Joodse toehoorders beteken het. Kom ons kyk na twee voorbeelde.

13 Eerstens, in die gelykenis van die koring en die onkruid het Jesus vertel van ’n man wat goeie koring in sy saailand gesaai het, maar “’n vyand” het gekom en onkruid daaroor gesaai. Waarom het Jesus daardie spesifieke vyandige daad gekies? Wel, hou in gedagte dat hy die illustrasie naby die See van Galilea vertel het, en die Galileërs was blykbaar hoofsaaklik landbouers. Wat kan ’n boer groter skade berokken as wanneer ’n vyand in die geheim in sy land kom en skadelike onkruid daaroor saai? Sekulêre wette van daardie tyd toon dat sulke aanvalle wel plaasgevind het. Is dit nie duidelik dat Jesus ’n situasie gebruik het waarmee sy gehoor hulle kon vereenselwig nie?—Matteus 13:1, 2, 24-30.

14. Waarom is dit betekenisvol dat Jesus, in die gelykenis van die barmhartige Samaritaan, die pad “van Jerusalem na Jerigo” gekies het om sy punt te stel?

14 Tweedens, dink aan die gelykenis van die barmhartige Samaritaan. Jesus het begin deur te sê: “’n Sekere man het van Jerusalem na Jerigo afgegaan en in die hande van rowers geval, wat hom uitgetrek en ook geslaan het, en hulle het weggegaan en hom halfdood agtergelaat” (Lukas 10:30). Dit is betekenisvol dat Jesus die pad “van Jerusalem na Jerigo” gekies het om sy punt te stel. Toe hy hierdie gelykenis vertel het, was hy in Judea, nie ver van Jerusalem af nie; sy toehoorders het dus heel waarskynlik hierdie pad geken. Dit was bekend as ’n gevaarlike pad, veral vir iemand wat alleen gereis het. Dit het deur ’n verlate gebied gekronkel, wat baie wegkruipplekke vir rowers verskaf het.

15. Waarom kon niemand tereg die onverskilligheid van die priester en die Leviet in die illustrasie van die barmhartige Samaritaan regverdig nie?

15 Iets anders is opmerkenswaardig omtrent Jesus se verwysing na die pad wat “van Jerusalem na Jerigo afgegaan” het. Volgens die verhaal het eers ’n priester en daarna ’n Leviet ook op hierdie pad gereis—hoewel nie een van hulle gestop het om die slagoffer te help nie (Lukas 10:31, 32). Die priesters het by die tempel in Jerusalem gedien, en die Leviete het hulle gehelp. Baie priesters en Leviete het in Jerigo gewoon wanneer hulle nie by die tempel gewerk het nie, want Jerigo was maar 23 kilometer van Jerusalem af. Hulle het dus beslis rede gehad om daardie pad te gebruik. Let ook op dat die priester en die Leviet op die pad “van Jerusalem” af gereis het en dus weg van die tempel af beweeg het. b Niemand kon dus tereg die onverskilligheid van hierdie manne regverdig deur te sê: ‘Hulle het die beseerde man vermy omdat dit gelyk het of hy dood is, en as hulle aan ’n lyk geraak het, sou hulle tydelik ongeskik wees om by die tempel te dien’ (Levitikus 21:1; Numeri 19:11, 16). Is dit nie duidelik dat Jesus in sy illustrasie dinge gebruik het wat vir sy gehoor bekend was nie?

Prente oor die skepping

16. Waarom is dit nie verbasend dat Jesus ’n intieme kennis van die skepping gehad het nie?

16 Baie van Jesus se illustrasies en gelykenisse openbaar sy kennis van plante, diere en die elemente (Matteus 6:26, 28-30; 16:2, 3). Waar het hy hierdie kennis gekry? Terwyl hy in Galilea opgegroei het, het hy ongetwyfeld baie geleenthede gehad om Jehovah se skeppingswerke waar te neem. Wat meer is, Jesus is “die eersgeborene van die hele skepping”, en Jehovah het hom gebruik as die “meesterwerker” in die skepping van alle dinge (Kolossense 1:15, 16; Spreuke 8:30, 31). Is dit dan enigsins verbasend dat Jesus ’n intieme kennis van die skepping gehad het? Kom ons kyk hoe hy hierdie kennis op vaardige wyse in sy onderrigting gebruik het.

17, 18. (a) Hoe toon Jesus se woorde wat in Johannes hoofstuk 10 opgeteken staan, dat hy die eienskappe van skape geken het? (b) Wat het besoekers aan Bybellande al gesien oor die band tussen herders en hulle skape?

17 Een van Jesus se gevoelvolste illustrasies is die een wat in Johannes hoofstuk 10 opgeteken staan, waar hy sy hegte verhouding met sy volgelinge vergelyk met dié van ’n herder met sy skape. Jesus se woorde openbaar dat hy die eienskappe van skape goed geken het. Hy het getoon dat skape hulle laat lei en dat hulle hulle herder getrou volg (Johannes 10:2-4). Die unieke band wat daar tussen herders en skape bestaan, is al deur besoekers aan Bybellande opgemerk. In die 19de eeu het die natuurkenner H. B. Tristram gesê: “Ek het eenkeer ’n herder dopgehou wat met sy kudde gespeel het. Hy het gemaak asof hy weghardloop; die skape het agternagehardloop en om hom gaan staan. . . . Uiteindelik het die hele kudde ’n sirkel gevorm en om hom gehuppel.”

18 Waarom volg skape hulle herder? “Omdat hulle sy stem ken”, het Jesus gesê (Johannes 10:4). Ken skape werklik die stem van hulle herder? George A. Smith het in sy boek The Historical Geography of the Holy Land geskryf wat hy self gesien het: “Soms het ons in die middag gerus naby een van daardie Judese putte, waarheen drie of vier herders met hulle kuddes kom. Die kuddes het met mekaar gemeng, en ons het gewonder hoe elke herder weer sy eie skape sou kry. Maar nadat die kuddes klaar water gedrink en gespeel het, het die herders een vir een na verskillende kante van die vallei gegaan, en elkeen het op sy besondere manier geroep; en elkeen se skape het uit die klomp gekom na hulle eie herder toe, en die kuddes het net so ordelik wegbeweeg soos hulle gekom het.” Jesus kon nouliks ’n beter manier gevind het om sy punt toe te lig. As ons sy leringe aanneem en gehoorsaam en as ons sy leiding volg, dan kom ons onder die tere en liefdevolle sorg van “die goeie herder”.—Johannes 10:11.

Prente van gebeure waarmee sy toehoorders bekend was

19. Hoe het Jesus ’n plaaslike tragedie doeltreffend gebruik om ’n verkeerde opvatting te weerlê?

19 Doeltreffende illustrasies kan gebruik maak van ondervindinge of voorbeelde waaruit lesse geleer kan word. By een geleentheid het Jesus ’n onlangse gebeurtenis gebruik om die verkeerde opvatting te weerlê dat tragedies mense tref wat dit verdien. Hy het gesê: “Daardie agtien op wie die toring in Siloam geval en hulle gedood het—dink julle dat hulle groter skuldenaars [sondaars] was as al die ander mense wat in Jerusalem woon?” (Lukas 13:4). Jesus het op oortuigende wyse fatalistiese redenasies weerlê. Daardie 18 siele het nie omgekom weens die een of ander sonde wat hulle God se misnoeë op die hals gehaal het nie. Hulle tragiese dood was eerder die gevolg van tyd en onvoorsiene gebeurtenisse (Prediker 9:11). Hy het dus ’n valse lering weerlê deur na ’n gebeurtenis te verwys wat vir sy toehoorders welbekend was.

20, 21. (a) Waarom het die Fariseërs Jesus se dissipels veroordeel? (b) Watter skriftuurlike verslag het Jesus gebruik om toe te lig dat Jehovah nooit ’n oordrewe streng toepassing van sy Sabbatswet in gedagte gehad het nie? (c) Wat sal in die volgende artikel bespreek word?

20 In sy onderrigting het Jesus ook van skriftuurlike voorbeelde gebruik gemaak. Dink aan die tyd toe die Fariseërs sy dissipels veroordeel het omdat hulle op die Sabbat graanare afgepluk en geëet het. Die dissipels het in werklikheid nie God se Wet oortree nie, maar die Fariseërs se streng vertolking van watter werk ongeoorloof was op die Sabbat. Om toe te lig dat God nooit so ’n oordrewe streng toepassing van sy Sabbatswet in gedagte gehad het nie, het Jesus verwys na ’n voorval wat in 1 Samuel 21:3-6 opgeteken staan. Toe Dawid en sy manne honger was, het hulle by die tabernakel aangedoen en die aanbiedingsbrode geëet, wat toe reeds met ander brood vervang is. Die ou brode is gewoonlik gehou vir die priesters om te eet. Maar onder dié omstandighede is Dawid en sy manne nie veroordeel omdat hulle dit geëet het nie. Daardie verslag is, interessant genoeg, die enigste opgetekende geval in die Bybel oor die gebruik van die ou brode deur persone wat nie priesters was nie. Jesus het geweet presies watter verslag om te gebruik, en sy Joodse toehoorders was ongetwyfeld vertroud daarmee.—Matteus 12:1-8.

21 Jesus was inderdaad ’n Groot Onderrigter! Ons kan nie anders as om ons te verwonder oor sy onvergelyklike vermoë om belangrike waarhede so oor te dra dat dit sy toehoorders se hart bereik het nie. Maar hoe kan ons hom in ons onderrigting navolg? Dit sal in die volgende artikel bespreek word.

[Voetnote]

a Jesus het verskillende soorte illustrasies gebruik, waaronder voorbeelde, vergelykings en metafore. Hy is welbekend vir sy gebruik van die gelykenis, wat al omskryf is as “’n kort, gewoonlik denkbeeldige, verhaal wat ’n sedelike of geestelike waarheid bevat”.

b Jerusalem was hoër as Jerigo geleë. Daarom sou ’n reisiger wat “van Jerusalem na Jerigo” gereis het, soos in die gelykenis gemeld word, “afgegaan” het.

Onthou jy?

• Waarom het Jesus mense deur illustrasies onderrig?

• Watter voorbeeld toon dat Jesus illustrasies gebruik het waarmee dié wat in die eerste eeu na hom geluister het, hulle kon vereenselwig?

• Hoe het Jesus sy kennis van die skepping op vaardige wyse in sy illustrasies gebruik?

• Op watter maniere het Jesus gebruik gemaak van gebeure waarmee sy toehoorders bekend was?

[Studievrae]

[Prente op bladsy 15]

Jesus het vertel van ’n slaaf wat geweier het om ’n betreklike klein skuld te vergewe en van ’n vader wat ’n seun vergewe het wat sy hele erfenis verkwis het

[Prent op bladsy 16]

Wat was die punt van Jesus se gelykenis van die barmhartige Samaritaan?

[Prent op bladsy 17]

Ken skape werklik hulle herder se stem?