Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 FIGURE UIT DIE VERLEDE

Spanje verdryf die Morisco’s

Spanje verdryf die Morisco’s

Daar word gesê dat feitlik alles wat die Spanjaarde in hierdie droewige verhaal gedoen het, deur die kerk beïnvloed is. Dit is ’n verhaal wat ’n mens eenvoudig moet lees.

DIE Spaanse koningshuis wou ’n Christelike Staat met een stel wette hê. Die Morisco’s is as ongelowiges beskou, en daarom was die redenasie dat hulle teenwoordigheid neergekom het op ’n ernstige oortreding in God se oë. Ná baie jare is ’n besluit geneem. Wat was die oplossing? Hulle moet verdryf word! *

GEDWONGE BEKERINGS

Die More in Spanje—’n Moslemminderheid wat die Mudéjar genoem word—het honderde jare lank ’n mate van vrede geniet in gebiede onder Katolieke beheer. Hulle het ’n tyd lank in sekere gebiede die wetlike reg gehad om hulle eie wette en gebruike te behou en om hulle eie godsdiens te beoefen.

Maar die Katolieke heersers Ferdinand II en Isabella het Granada, die laaste deel van Iberië wat nog onder Moslembeheer was, in 1492 verower. Granada het oorgegee op voorwaarde dat die Moorse bevolking daar soortgelyke regte as die Mudéjar kry. Maar kort voor lank het Katolieke leiers die Moslemminderheid in hulle gebied hewiger begin vervolg en meer druk op hulle geplaas om hulle te bekeer. Die More het beswaar gemaak teen hierdie  skending van vroeëre ooreenkomste, en in 1499 het hulle in opstand gekom. Regeringstroepe het die opstand onderdruk, maar daarna is Moslems in een gebied na die ander gedwing om hulle te bekeer of om te emigreer. Spanjaarde het diegene wat hulle bekeer het en in Spanje gebly het, Morisco’s genoem.

“NIE GOEIE CHRISTENE OF LOJALE ONDERDANE” NIE

Teen 1526 is Islam oral in Spanje verban, maar baie Morisco’s het hulle godsdiens in die geheim bly beoefen. As ’n volk het hulle hulle kultuur grotendeels behou.

Aanvanklik is die Morisco’s se lippediens aan Katolisisme geduld. Hulle het immers ’n noodsaaklike rol vervul as ambagsmanne, vakmanne, arbeiders en belastingbetalers. Maar die feit dat die Morisco’s oor die algemeen geweier het om hulle kultuur en godsdiens prys te gee, het ontevredenheid veroorsaak, en die regering sowel as die gewone mense het teen hulle gediskrimineer. Hierdie vooroordeel is moontlik aangeblaas deur die kerk se toenemende agterdog oor die opregtheid van hulle bekering.

Kort voor lank is verdraagsaamheid vervang deur dwangmaatreëls. In 1567 is koning Filips II se beslissing om die Morisco’s se taal, kleredrag, gebruike en tradisies te verbied, gepubliseer. Hierdie beslissing het tot opstand en bloedvergieting gelei.

Daar word gemeen dat sowat 300 000 Morisco’s weens hewige vervolging noodgedwonge uit Spanje moes vlug

Volgens geskiedkundiges was Spanje se heersers oortuig daarvan dat “Morisco’s nie goeie Christene of lojale onderdane is nie”. Daarom is hulle daarvan beskuldig dat hulle met Spanje se vyande—die Barbaryse seerowers, die Franse Protestante en die Turke—saamgesweer het om ’n inval uit die buiteland moontlik te maak. Vooroordeel sowel as vrese dat die Morisco’s uiteindelik verraaiers sou word, het bygedra tot Filips IIl se beslissing om hulle in 1609 te verdryf. * In die jare daarna is mense wat vermoedelik Morisco’s was, vervolg. Op hierdie veragtelike manier het Spanje heeltemal Katoliek geword.

^ par. 4 Morisco’s beteken “Klein More” in Spaans. Geskiedkundiges gebruik hierdie woord nie neerhalend nie wanneer hulle verwys na mense van Moslemagtergrond wat hulle tot Katolisisme bekeer het en in die Iberiese Skiereiland gebly het nadat die laaste Moslemkoninkryk daar in 1492 geval het.

^ par. 12 Geskiedkundiges meen ook dat ten minste een van Spanje se heersers groot voordeel daaruit sou trek as die Morisco’s se eiendomme afgeneem word.