Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 ’N KYKIE IN DIE GESKIEDENIS

Desiderius Erasmus

Desiderius Erasmus

DESIDERIUS ERASMUS was in sy dag (ca. 1469-1536) eers bewonder as die briljantste Europese geleerde en toe sleggemaak as ’n lafaard en ’n ketter. Hy was vasgevang in ’n storm van godsdiensdebatte, maar hy het dit gewaag om die foute en misbruike van Katolisisme bloot te lê, sowel as dié van voornemende hervormers daarvan. Vandag word hy erken as ’n sleutelfiguur in die verandering wat godsdiens in Europa ondergaan het. Hoe so?

SY STUDIES EN OORTUIGINGS

Omdat Erasmus bedrewe was in Grieks en Latyn, kon hy Latynse vertalings van die Bybel, soos die Latynse Vulgaat, vergelyk met vroeë Griekse manuskripte van die Christelike Griekse Geskrifte, wat bekend staan as die Nuwe Testament. Hy was oortuig daarvan dat Bybelkennis lewensbelangrik is. Daarom het hy volgehou dat die Heilige Skrif vertaal moet word in ander tale wat algemeen was in sy dag.

Erasmus het die interne hervorming van die Katolieke Kerk bevorder. Hy het geglo dat die Christelike geloof ’n lewenswyse moet wees en nie net behels dat iemand betekenislose ritusse moet onderhou nie. Gevolglik is hy deur die Katolieke onder verdenking gebring toe hervormers begin protesteer het en op verandering in die Kerk van Rome aangedring het.

Erasmus het dit gewaag om die foute en die misbruike van Katolisisme en van hervormers bloot te lê

Erasmus het die misbruike van die geestelikes, hulle vertonerige lewenstyle en die ambisie van pouse wat oorloë goedgekeur het, spottenderwys in sy werke blootgelê. Hy het nie met geestelikes saamgestem wat kerkgewoontes—soos om sondes te bely, heiliges te aanbid, te vas en pelgrimstogte te onderneem—gebruik het om gelowiges uit te buit nie. Hy het ook nie saamgestem met kerkgebruike soos die verkoop van aflaatbriewe en gedwonge selibaat nie.

 DIE GRIEKSE TEKS VAN DIE NUWE TESTAMENT

In 1516 het Erasmus sy eerste uitgawe van die Nuwe Testament in Grieks gepubliseer—die eerste gedrukte uitgawe van die Christelike Griekse Geskrifte wat nog ooit vrygestel is. Erasmus se werk het aantekeninge sowel as sy eie Latynse vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte ingesluit, wat van die Vulgaat verskil het. Met verloop van tyd het hy aangehou om sy vertaling te hersien, en dit het ’n eindproduk tot gevolg gehad wat selfs meer verskil het van die teks van die Latynse Vulgaat.

Erasmus se Griekse Nuwe Testament

Een van die verskille was in 1 Johannes 5:7. Om die onskriftuurlike lering van die Drie-eenheid te ondersteun, is vervalste woorde wat as die comma Johanneum bekend staan, in die Vulgaat ingevoeg. Dit sê: “In die hemel, die Vader, die Woord en die Heilige Gees: en hierdie drie is een.” Maar Erasmus het nie daardie woorde by sy eerste twee uitgawes van die Nuwe Testament ingesluit nie omdat nie een van die Griekse manuskripte wat hy geraadpleeg het, dit bevat het nie. Die kerk het later druk op hom uitgeoefen om dit by sy derde uitgawe in te sluit.

Verbeterde uitgawes van Erasmus se Griekse Nuwe Testament het die grondslag voorsien vir beter vertalings in Europese tale. Martin Luther, William Tyndale, Antonio Brucioli en Francisco de Enzinas het dit gebruik om die Griekse Geskrifte onderskeidelik in Duits, Engels, Italiaans en Spaans te vertaal.

Erasmus het tydens ’n tydperk van groot godsdiensverwarring geleef, en sy Griekse Nuwe Testament is deur die Protestantse Hervormers as ’n baie waardevolle hulpmiddel beskou. Erasmus is self deur sommige as ’n hervormer beskou, maar net totdat die Hervorming in alle erns begin het. Toe het hy geweier om kant te kies in die groot teologiese debatte wat ontstaan het. Dit is interessant dat die geleerde David Schaff meer as 100 jaar gelede geskryf het dat Erasmus gesterf het sonder dat hy aan enige godsdiens behoort het. Hy het bygevoeg: “Die Katolieke wou nie daarop aanspraak maak dat hy een van hulle was nie; en die Protestante kon nie daarop aanspraak maak nie.”