Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 DIE BYBEL SE BESKOUING

Gebed

Gebed

Luister enigiemand na ons gebede?

“O Hoorder van die gebed, ja, tot u sal mense van alle vlees kom.”—Psalm 65:2.

WAT MENSE SÊ

Soms sê mense dat dit vir hulle voel of hulle gebede “nie verder as die plafon gaan nie”. Veral wanneer mense ly, is hulle geneig om te twyfel of hulle gebede verhoor word.

WAT DIE BYBEL SÊ

“Die oë van Jehovah [God] is op die regverdiges, en sy ore is tot hulle smeking; maar die aangesig van Jehovah is teen dié wat slegte dinge doen”, sê die Bybel (1 Petrus 3:12). Dit is duidelik dat God wel na gebede luister. Maar hy luister veral na diegene wat sy bevele gehoorsaam. ’n Ander teks sê aangaande God se bereidwilligheid om na ons gebede te luister: “Dít is die vertroue wat ons teenoor hom het, dat hy ons hoor, ongeag wat ons volgens sy wil vra” (1 Johannes 5:14). Diegene wat opreg bid, moet dus verstaan watter versoeke heel moontlik in ooreenstemming met God se wil sal wees.

 Hoe moet ons bid?

“Wanneer julle bid, moet julle nie dieselfde dinge oor en oor sê [nie].” —Matteus 6:7.

WAT MENSE SÊ

Aanhangers van verskeie godsdienste—soos Boeddhisme, Katolisisme, Hindoeïsme en Islam—is geleer om krale te gebruik om hulle gebede op te sê en af te tel.

WAT DIE BYBEL SÊ

Gebede moet uit die hart kom en opreg wees; dit moenie uit die kop geleer word en werktuiglik opgesê word nie. Die Skrif spoor ons aan: “Wanneer julle bid, moet julle nie dieselfde dinge oor en oor sê, net soos die mense van die nasies nie, want hulle dink dat hulle verhoor sal word omdat hulle baie woorde gebruik. Moet dan nie soos hulle word nie, want God, julle Vader, weet watter dinge julle nodig het nog voordat julle hom vra.”—Matteus 6:7, 8.

WAAROM DIT SAAK MAAK

Wanneer ’n mens bid op ’n manier wat nie vir God aanneemlik is nie, sal dit heel moontlik ’n vermorsing van tyd wees of God dalk aanstoot gee. Die Bybel waarsku dat die gebede van diegene wat weier om hulle aan God se wil te onderwerp, vir hom “iets verfoeiliks” is.—Spreuke 28:9.

Tot wie moet ons bid?

“Soek Jehovah [God] terwyl hy gevind kan word. Roep hom aan terwyl hy naby is.”—Jesaja 55:6.

WAT MENSE SÊ

Party gelowiges bid tot Maria, engele of ander persone wat as “heiliges” vereer word. Onder hulle is “sint” Antonius van Padua, wat na bewering in “geestelike sowel as wêreldlike behoeftes” voorsien, en “sint” Judas, wat beskou word as ’n beskermheilige vir “benarde situasies”. Baie mense bid tot hierdie “heiliges” en tot engele in die hoop dat hierdie persone vir hulle voorspraak sal doen by God.

WAT DIE BYBEL SÊ

Ware aanbidders moet tot “ons Vader in die hemele” bid (Matteus 6:9). Die Bybel spoor ons aan: “Moet julle oor niks kwel nie, maar laat julle versoeke in alles deur gebed en smeking tesame met danksegging by God bekend word.”—Filippense 4:6.