Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 ’N KYKIE IN DIE GESKIEDENIS

Ignaz Semmelweis

Ignaz Semmelweis

IGNAZ SEMMELWEIS is dalk nie ’n bekende naam nie, maar sy werk het die meeste hedendaagse gesinne tot voordeel gestrek. Hy is in Boeda (nou Boedapest), Hongarye, gebore en het in 1844 sy mediese graad aan die Universiteit van Wene verwerf. Toe hy by die Eerste Kraamkliniek van Wene se Algemene Hospitaal as ’n assistent vir ’n professor begin werk het, het hy voor ’n verskriklike werklikheid te staan gekom—meer as 13 persent van die vroue wat daar geboorte geskenk het, het gesterf weens ’n siekte wat kraamkoors genoem word.

Verskeie teorieë vir die oorsaak van die siekte is voorgelê, maar niemand kon die raaisel oplos nie. Alle pogings om die sterftesyfer te verminder, was tevergeefs. Hy kon nie ophou dink aan die tallose moeders wat ’n stadige, pynlike dood gesterf het nie en het hom voorgeneem om die oorsaak van die siekte te vind en dit te voorkom.

Die hospitaal waar Semmelweis gewerk het, het twee kraamklinieke gehad, en eienaardig genoeg was die sterftesyfer van die vroue in die eerste kliniek baie hoër as wat dit in die tweede een was. Die enigste verskil tussen die twee klinieke was die feit dat daar mediese studente in die een opgelei is en vroedvroue in die ander een. Waarom was daar dan so ’n groot verskil in die sterftesyfer? Gedurende Semmelweis se ondersoek het hy die moontlike oorsake van die siekte stelselmatig uitgeskakel, maar hy kon steeds nie die oorsaak vind nie.

Vroeg in 1847 het Semmelweis ’n deurbraak gemaak. Sy kollega en vriend Jakob Kolletschka is dood aan bloedvergiftiging nadat hy ’n wond opgedoen het terwyl hy ’n nadoodse ondersoek uitgevoer het. Terwyl hy die verslag van Kolletschka se nadoodse ondersoek gelees het, het Semmelweis besef dat die bevindings in sekere opsigte identies was aan dié van die slagoffers van kraamkoors. Semmelweis het dus gedink dat iets wat hy “gifstowwe” van kadawers genoem het,  dalk die swanger vroue besmet en sodoende die kraamkoors veroorsaak het. Dokters en mediese studente, wat dikwels nadoodse ondersoeke gedoen het voordat hulle na die kraamsaal gegaan het, het onwetend die siekte aan swanger vroue oorgedra tydens obstetriese ondersoeke of wanneer die vroue geboorte geskenk het. Die sterftesyfer was laer in die tweede kliniek waar vroedvroue gewerk het, aangesien die studente in verloskunde nie nadoodse ondersoeke gedoen het nie.

Semmelweis het dadelik ’n streng beleid ingestel wat behels het dat almal hulle hande moes was en in ’n mengsel van chloorkalk ontsmet voordat hulle swanger vroue ondersoek. Die resultate was opvallend: die sterftesyfer het skerp gedaal van 18,27 persent in April tot 0,19 persent teen die einde van die jaar.

“My leerstellings bestaan om kraamhospitale van hulle gruwels te verlos, om die vrou se lewe vir haar man en die moeder se lewe vir haar kind te bewaar.”—Ignaz Semmelweis.

Maar nie almal was bly oor Semmelweis se sukses nie. Sy bevindings het nie ooreengestem met sy departementshoof se teorieë oor kraamkoors nie, en Semmelweis se volhoudende gesindheid het hom geïrriteer. Semmelweis het mettertyd sy werk in Wene verloor en na Hongarye teruggekeer. Hy het die hoof van die departement van verloskunde by die St. Rochus-hospitaal in Pest geword, waar sy metodes die sterftesyfer as gevolg van kraamkoors tot minder as 1 persent laat daal het.

In 1861 het Semmelweis sy lewenswerk, The Cause, Concept, and Prophylaxis of Childbed Fever, gepubliseer. Die belangrikheid van sy bevindings is ongelukkig eers jare later erken. Intussen het tallose mense wat gered kon word, hulle lewens verloor.

Semmelweis het higiëniese maatreëls ingestel by mediese fasiliteite waar hy toesig gehou het.—Portret deur Robert Thom

Semmelweis is mettertyd erken as een van die vaders van die hedendaagse ontsmettingstegniek. Sy werk het gehelp om vas te stel dat mikroskopiese stowwe siektes kan veroorsaak. Hy is deel van die geskiedenis van die teorie dat kieme siekte veroorsaak, en daar is al gesê dat dit “die belangrikste bydrae tot die mediese wetenskap en praktyk” is. Die Mosaïese Wet, wat later deel van die Bybel geword het, het interessant genoeg meer as 3 000 jaar gelede reeds goeie riglyne gegee in verband met die hantering van lyke.