Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 ’N KYKIE IN DIE GESKIEDENIS

Galileo

Galileo

Tussen die 14de en die 16de eeu het Europese wetenskaplikes en filosowe die heelal begin verstaan op ’n manier wat in stryd was met die leringe van die Katolieke Kerk. Een man wat met nuwe oë na die hemele gekyk het, was Galileo Galilei.

VOOR Galileo se tyd het mense geglo dat die son, die planete en die sterre om die aarde wentel. Hierdie opvatting was deel van die amptelike leerstellings van die Katolieke Kerk.

Galileo het egter met sy teleskoop bewyse gesien wat in teenstelling was met algemeen aanvaarde wetenskaplike leringe. Toe hy byvoorbeeld gesien het hoe sonvlekke blykbaar oor die oppervlak van die son beweeg, het hy afgelei dat die son om sy as wentel. Sulke waarnemings het die mens se kennis van die heelal baie verbreed, maar dit het Galileo ook in direkte konflik met die Katoliek Kerk gebring.

DIE WETENSKAP EN GODSDIENS

Die Poolse sterrekundige Nicolaus Copernicus het dekades tevore ’n teorie ontwikkel dat die aarde om die son wentel. Galileo het Copernicus se werk oor die beweging van die hemelliggame bestudeer en bewyse bymekaargemaak wat hierdie teorie steun. Galileo het aanvanklik gehuiwer om party van sy waarnemings te publiseer omdat hy bang was dat mense dit as belaglik en veragtelik sou beskou. Maar sy entoesiasme oor  wat hy deur sy teleskoop gesien het, het hom uiteindelik beweeg om sy ontdekkings bekend te maak. Party wetenskaplikes het sy argumente teëgestaan, en kort voor lank het geestelikes Galileo se geloofwaardigheid van die preekstoel af aangeval.

In 1616 het kardinaal Bellarmine, “’n vooraanstaande teoloog van daardie tyd”, Galileo in kennis gestel van ’n verordening teen Copernicus se idees wat kort tevore deur die Katolieke Kerk uitgevaardig is. Hy het Galileo ernstig aangeraai om ag te slaan op daardie verordening, en Galileo het jare lank nie in die openbaar die beskouing bevorder dat die aarde om die son wentel nie.

In 1623 het pous Urbanus VIII, Galileo se vriend, begin heers. In 1624 het Galileo die pous dus gevra om die verordening van 1616 te herroep. Maar Urbanus het Galileo eerder aangespoor om die teenstrydige teorieë van Copernicus en Aristoteles op ’n onpartydige manier te verduidelik.

Toe het Galileo ’n boek geskryf met die titel Dialogue on the Great World Systems. Hoewel die pous Galileo beveel het om onpartydig te wees, het dit gelyk asof die boek Copernicus se bevindings voorstaan. Galileo se vyande het kort voor lank beweer dat sy boek ’n bespotting maak van die pous. Aangesien Galileo van kettery beskuldig is en met marteling gedreig is, kon hy nie anders nie as om die leringe van Copernicus te ontken. In 1633 het die Roomse Inkwisisie hom tot lewenslange huisarres gevonnis en sy geskrifte verbied. Op 8 Januarie 1642 het Galileo by sy huis in Arcetri, naby Florence, gesterf.

Pous Johannes-Paulus II het erken dat die Katolieke Kerk Galileo verkeerdelik veroordeel het

Party van Galileo se werke was honderde jare op die lys van boeke wat vir Katolieke verbied is. Maar in 1979 het die kerk die Roomse Inkwisisie se besluit van 300 jaar tevore heroorweeg. In 1992 het pous Johannes-Paulus II uiteindelik erken dat die Katolieke Kerk Galileo verkeerdelik veroordeel het.