Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 ’N KYKIE IN DIE GESKIEDENIS

Herodotus

Herodotus

HOE was die lewe duisende jare gelede? Watter gebruike het mense gehad? Die argeologie kan van die antwoorde voorsien—maar nie almal nie. As ons die denkwyse van eertydse volke wil verstaan, sal dit nuttig wees om die geskrifte te hê van ’n man wat die geskiedenis van die wêreld van sy tyd opgeteken het. So ’n man het ongeveer 2 400 jaar gelede gelewe. Sy naam was Herodotus, en hy was ’n Griekse geskiedkundige van die vyfde eeu VHJ. Die titel van sy geskiedkundige werk is Die geskiedenisse.

Herodotus wou die redes vir die Grieke se oorloë opteken, en veral die redes vir die Persiese invalle van 490 en 480 VHJ, wat gebeur het toe Herodotus nog ’n seun was. Hy het nie net hieroor geskryf nie, maar het alles neergeskryf wat hy kon uitvind oor elke nasie wat deur die Persiese invalle geraak is.

MEER AS GESKIEDENIS

Herodotus was ’n begaafde verteller. Hy was baie deeglik en het elke besonderheid noukeurig opgeteken wat hy gedink het nodig was om die verhaal te voltooi. Herodotus se prestasie is merkwaardig, aangesien hy nie sy werk kon baseer op amptelike staatsdokumente wat geskryf is om ’n ononderbroke verslag van gebeure te bewaar nie, want sulke dokumente het byna nooit bestaan nie.

Destyds het min mense die moeite gedoen om geskiedenis op te teken, tensy hulle oor glorieryke dade wou spog deur dit op monumente te laat graveer. Herodotus moes staat maak op waarneming, oorlewerings en die getuienis van ander in verband met die gebeure waaroor hy wou skryf. Hy het wyd en syd gereis om sy inligting in te samel. Hy het in die Griekse kolonie van Halikarnassos (nou Bodrum, in die suide van Turkye) grootgeword en het na verskeie plekke in Griekeland gereis.

Herodotus het wyd en syd gereis om sy inligting in te samel

 Hy het noordwaarts gereis na die Swartsee en Skitië, wat geleë was in die gebied wat vandag die Oekraïne is, en ook suidwaarts na Palestina en Bo-Egipte. Hy het ook ooswaarts gereis en blykbaar Babilon bereik, maar hy het waarskynlik sy laaste dae deurgebring in die weste, in ’n Griekse kolonie wat vandag die suide van Italië is. Waar hy ook al gegaan het, het hy waargeneem en navraag gedoen en sodoende inligting ingesamel van diegene wat vir hom na die betroubaarste bronne gelyk het.

HERODOTUS SE AKKURAATHEID

Papirusfragment van Die geskiedenisse

Hoe akkuraat is die inligting wat Herodotus neergeskryf het? Wanneer dit kom by die lande wat hy besoek het en die dinge wat hy self gesien het, word sy kennis as akkuraat beskou. Sy beskrywings van gebruike wat nie in Griekeland bekend was nie—soos dié wat gevolg is tydens die koninklike begrafnisse van die Skitiërs of Egiptiese mummifisering—stem min of meer ooreen met wat argeoloë ontdek het. Daar is al gesê dat die skatkis van kennis wat hy omtrent Egipte bewaar het, “belangriker is as alles wat in die ou tyd oor daardie land geskryf is”.

Maar dikwels het Herodotus geen keuse gehad nie as om op twyfelagtige getuienis staat te maak. Wat meer is, die mense van sy dag was vas oortuig dat heidense gode in menseaangeleenthede ingryp. Nie alles wat hy geskryf het, voldoen dus aan die standaarde van hedendaagse geskiedkundiges nie. Herodotus het nogtans probeer om feite van legendes te skei. Hy het wyslik gesê dat hy nie alles glo wat hy vertel is nie. Hy het sy gevolgtrekkings gemaak nadat hy die beste bronne uitgekies het en dan met mekaar vergelyk het.

Die geskiedenisse was waarskynlik Herodotus se lewenswerk. As ’n mens die hulpbronne in ag neem wat hy tot sy beskikking gehad het, was dit ’n besondere prestasie.