Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 HULP VIR DIE GESIN | DIE HUWELIK

Hoe om besteding te beheer

Hoe om besteding te beheer

DIE UITDAGING

Wanneer jy na julle bankstate en rekeninge kyk, sien jy dat julle geld soos sand deur julle vingers glip. Julle is nie lank getroud nie, en julle bestee gans te veel geld. Is dit jou maat se skuld? Wag ’n bietjie! Dink as ’n span, en kyk na party van die redes waarom julle albei in hierdie verknorsing beland het. *

WAAROM DIT GEBEUR

Aanpassing. As jy by jou ouers gewoon het voordat jy getrou het, is dit dalk vir jou iets nuuts om rekeninge te betaal en uitgawes te deel. Jy en jou huweliksmaat het dalk ook nie dieselfde beskouing van geld nie. Byvoorbeeld, die een is miskien meer geneig om geld te bestee terwyl die ander meer geneig is om te spaar. Dit duur ’n ruk voordat ’n egpaar aanpas en saamstem oor hoe om hulle geld te gebruik.

Soos onkruid in ’n tuin, sal skuld wat geïgnoreer word, eenvoudig aanhou groei—en groei

Uitstellery. Jim, wat nou ’n suksesvolle sakeman is, erken dat sy swak organisasievermoë hom duur te staan gekom het toe hy pas getroud was. “Omdat ek die rekeninge nie betyds betaal het nie”, sê hy, “het ek en my vrou duisende rande bestee aan fooie op laat betalings. Ons geld het opgeraak!”

Die strik van “onsigbare geld”. Dit is maklik om te veel geld uit te gee as jy nie die geld uit jou beursie kan sien verdwyn nie. Dit kan die geval wees as jy die meeste van jou transaksies met ’n krediet- of debietkaart doen, op die Internet koop en elektroniese bankoorplasings doen. Pasgetroudes kan ook deur maklike krediet verlok word om te veel geld uit te gee.

Wat die rede ook al is, geldkwessies kan druk op julle huwelik plaas. “Die meeste egpare sê dat geld ’n groot probleem is, ongeag hoeveel hulle het”, sê die boek Fighting for Your Marriage. “Geld veroorsaak dikwels meningsverskille.”

 WAT JY KAN DOEN

Werk saam. Moenie mekaar die skuld gee nie, maar werk eerder as ’n span om julle besteding onder beheer te bring. Besluit uit die staanspoor dat julle nie sal toelaat dat hierdie geskil ’n wig tussen julle indryf nie.—Bybelbeginsel: Efesiërs 4:32.

Stel ’n begroting op. Skryf al julle uitgawes vir die maand neer, selfs klein uitgawes. Dit sal julle help om te sien wat met julle geld gebeur en waaraan julle onnodig geld bestee. “Julle moet die bloeding stop”, sê Jim, wat vroeër aangehaal is. “Dit is ’n gesegde in die geneeskunde en in die sakewêreld.”

Maak ’n lys van julle noodsaaklike uitgawes, soos kos, klere, huur of ’n huisverband, motorpaaiemente, ensovoorts. Skryf langs elke item op die lys neer hoeveel julle waarskynlik binne ’n sekere tydperk, miskien ’n maand, daaraan sal bestee.—Bybelbeginsel: Lukas 14:28.

“Die lener is ’n kneg van die man wat uitleen.”—Spreuke 22:7

Sit elke maand geld opsy vir verskillende uitgawes (kos, huur, brandstof, ensovoorts). Party sit kontant in afsonderlike koeverte vir elke uitgawe. * As die geld in een van die koeverte opraak, hou hulle op om geld aan daardie item te bestee of neem hulle geld uit ’n ander koevert daarvoor.

Ondersoek jou beskouing van besittings. ’n Mens hoef nie die nuutste te hê om gelukkig te wees nie. Jesus het immers gesê: “Selfs wanneer iemand oorvloed het, spruit sy lewe nie voort uit die dinge wat hy besit nie” (Lukas 12:15). Jou bestedingsgewoontes toon dikwels of jy hierdie woorde glo of nie.—Bybelbeginsel: 1 Timoteus 6:8.

Maak aanpassings. “In die begin dink julle dalk dat julle dit kan bekostig om kabeltelevisie te hê en uit te eet, maar op die lange duur kan dit julle baie geld uit die sak jaag”, sê Aaron, wat twee jaar getroud is. “Ons moes leer om vir party dinge nee te sê sodat ons binne ons inkomste kan lewe.”

^ par. 4 Hoewel hierdie artikel vir pasgetroudes bedoel is, geld die beginsels wat bespreek word vir alle egpare.

^ par. 14 As jy elektroniese oorplasings doen of met ’n kredietkaart betaal, kan jy ’n geskrewe verslag in elke koevert hou in plaas van kontant.