Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VOORBLADONDERWERP

Wat beteken dit om ’n goeie vriend te wees?

Wat beteken dit om ’n goeie vriend te wees?

OP 25 Desember 2010 het ’n 42-jarige vrou in Brittanje ’n selfmoordbrief op ’n bekende sosiale netwerk geplaas. Haar boodskap was ’n wanhopige hulpkreet. Hoewel die vrou meer as duisend aanlyn “vriende” op die sosiale netwerk gehad het, het nie een van hulle haar gehelp nie. Die polisie het haar liggaam ’n dag later gevind. Sy het ’n dodelike oordosis geneem.

Vandag maak die hedendaagse tegnologie dit vir ons moontlik om honderde, of selfs duisende, “vriende” op sosiale netwerke te maak deur bloot hulle name by ons lys kontakte te voeg. En wanneer ons een van hierdie “vriendskappe” wil beëindig, skrap ons net hierdie persoon se naam van ons lys. Maar die tragiese voorval in verband met die vrou in Brittanje, beklemtoon ’n skokkende werklikheid—baie mense het nie ware vriende nie. Trouens, ’n onlangse opname het getoon dat ons nou minder werklik hegte vriende het as vroeër, hoewel ons met meer mense omgaan.

Soos die meeste mense stem jy waarskynlik saam dat dit belangrik is om goeie vriende te hê. Jy besef dalk ook dat vriendskap meer behels as om bloot op skakels op ’n rekenaarskerm of ’n slimfoon te klik. Waarna soek jy in ’n vriend? Hoe kan jy ’n goeie vriend wees? Wat verg dit om blywende vriendskapsbande te smee?

Kyk na die volgende vier riglyne, en let op hoe die Bybel se praktiese raad jou kan help om die soort mens te wees wat ander as ’n vriend sal wil hê.

1. Toon dat jy werklik omgee

Ware vriendskap behels toegewydheid. Met ander woorde, ’n goeie vriend voel dat hy ’n verantwoordelikheid teenoor jou het, en hy gee werklik vir jou om. Hierdie toegewydheid moet natuurlik van twee kante kom, en dit vereis inspanning en opoffering van albei partye. Maar die belonings is die moeite werd. Vra jou af: ‘Is ek bereid om van myself, my tyd en my middele aan my vriend te gee?’ Onthou, om ’n goeie vriend te hê, moet jy eers ’n goeie vriend wees.

WAARNA MENSE IN ’N VRIEND SOEK

Irene: “Dit verg baie tyd en sorg om ’n vriendskap op te bou, soos die geval is wanneer jy ’n pragtige tuin in stand hou. Begin deur self ’n goeie vriend te wil wees. Toon baie geneentheid en persoonlike belangstelling. En wees bereid om jou tyd op te offer wanneer jou vriend jou nodig het.”

Luis Alfonso: “Die hedendaagse samelewing spoor mense aan om eerder aan hulleself as aan ander te dink. Daarom beteken dit baie wanneer iemand opreg in jou belangstel sonder om noodwendig iets in ruil te verwag.”

WAT SÊ DIE BYBEL?

“Net soos julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, so moet julle ook aan hulle doen. Gee altyddeur, en mense sal vir julle gee” (Lukas 6:31, 38). Hier beveel Jesus ware onselfsugtigheid en vrygewigheid aan. Sulke vrygewigheid voed goeie vriendskappe. As jy moeite doen vir jou vriende sonder om iets in ruil te verwag, sal hulle van nature tot jou aangetrokke voel.

2. Wees ’n goeie kommunikeerder

’n Ware vriendskap kan nie floreer sonder gereelde kommunikasie nie. Gesels dus oor dinge waarin julle albei belangstel. Luister na wat jou vriend sê, en respekteer sy mening. Wanneer dit moontlik is, moet jy hom prys en aanmoedig. Soms het ’n vriend dalk raad of selfs teregwysing nodig, en dit is miskien nie altyd maklik om dit te gee nie. Maar ’n lojale vriend sal die moed hê om oor ’n ernstige tekortkoming te praat en taktvol hulp aan te bied.

WAARNA MENSE IN ’N VRIEND SOEK

Juan: “’n Ware vriend behoort sy mening vryelik te kan lug, maar hy moenie kwaad word as jy nie met hom saamstem nie.”

Eunice: “Ek het groot waardering vir vriende wat bereid is om tyd saam met my deur te bring en na my te luister, veral wanneer ek probleme het.”

Silvina: “Ware vriende sal eerlik met jou wees—selfs as hulle weet dat dit sal seermaak—want hulle dra jou belange op die hart.”

WAT SÊ DIE BYBEL?

“Elke mens moet gou wees om te hoor, stadig om te praat, stadig om toornig te word” (Jakobus 1:19). Goeie vriende waardeer altyd ’n horende oor. Maar as ons die gesprek oorheers, dra dit die boodskap oor dat ons dink dat ons mening belangriker is as hulle s’n. Wees dus bereid om te luister as ’n vriend met jou oor sy diepste gedagtes en bekommernisse wil praat. En moenie aanstoot neem as hy eerlik met jou is nie. “Die wonde wat toegedien word deur een wat liefhet, is getrou”, sê Spreuke 27:6.

3. Koester realistiese verwagtinge

Hoe nader ons aan ’n vriend kom, hoe waarskynliker is dit dat ons sy foute sal raaksien. Ons vriende is nie volmaak nie, maar ons is ook nie. Daarom moet ons nooit volmaaktheid verwag of eis van die mense met wie ons bevriend raak nie. Ons moet eerder hulle goeie eienskappe waardeer en hulle foute oor die hoof sien.

WAARNA MENSE IN ’N VRIEND SOEK

Samuel: “Ons verwag dikwels meer van ander as van onsself. As ons erken dat ons ook foute maak en vergifnis nodig het, sal ons gewilliger wees om ander te vergewe.”

Daniel: “Aanvaar die feit dat jou vriende foute sal maak. Wanneer probleme ontstaan, sal dit goed wees as ons dit gou oplos en hard probeer om te vergeet.”

WAT SÊ DIE BYBEL?

Is jy bereid om te vergewe?Kolossense 3:13, 14

“Ons almal struikel dikwels. As iemand in woord nie struikel nie, is hy ’n volmaakte man, in staat om ook sy hele liggaam in toom te hou” (Jakobus 3:2). As ons hierdie eenvoudige waarheid erken, kan dit ons help om begrip vir ons vriende te hê. Dan sal ons hulle geringe foute en tekortkominge wat ons dalk irriteer, kan oorsien. Die Bybel sê: “Hou aan om mekaar te verdra en mekaar vryelik te vergewe as iemand rede tot klagte teen ’n ander het. . . . Maar beklee julle, benewens al hierdie dinge, met liefde, want dit is ’n volmaakte band van eenheid.”Kolossense 3:13, 14.

4. Maak jou vriendekring groter

Ons moet weliswaar versigtig wees wanneer ons vriende kies. Maar dit beteken nie dat ons ons keuse van vriende moet beperk tot mense van ’n sekere ouderdom of agtergrond nie. As ons belangstelling toon in mense van alle ouderdomme, kulture en nasionaliteite, kan dit ons lewe waarlik verryk.

WAARNA MENSE IN ’N VRIEND SOEK

Unai: “As jy net vriende maak met mense wat so oud is soos jy en dieselfde smaak het as jy, is dit soos om altyd klere in jou gunstelingkleur te dra. Al hou jy vreeslik baie van daardie kleur, sal jy waarskynlik die een of ander tyd moeg word daarvoor.”

Funke: “Die feit dat ek my vriendekring groter gemaak het, het my die geleentheid gebied om volwasse te word. Ek het geleer om met mense van alle ouderdomme en agtergronde oor die weg te kom, en dit het my meer uitgaande en aanpasbaar gemaak. My vriende waardeer dit baie.”

Reik jy uit na alle soorte mense?2 Korintiërs 6:13

WAT SÊ DIE BYBEL?

“By wyse van vergoeding dan—ek praat soos met kinders—moet julle ook verruim word” (2 Korintiërs 6:13). Die Bybel spoor ons aan om na alle soorte mense uit te reik. Hierdie onpartydige beskouing wat vriendskap betref, kan jou lewe interessant maak en jou ook geliefd maak by ander.