Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Tandvleissiekte—Loop jy gevaar om dit te kry?

Tandvleissiekte—Loop jy gevaar om dit te kry?

DIT is een van die algemeenste mondsiektes in die wêreld. Maar hierdie siekte toon dalk in sy beginstadium geen onmiddellike simptome nie. Daarom hou tandvleissiekte ’n subtiele gevaar in. Die International Dental Journal lys periodontale siekte onder mondsiektes wat “’n ernstige gevaar vir die openbare gesondheid” inhou. Dit voeg by dat mondsiektes ’n nadelige uitwerking het “op individue en gemeenskappe wanneer dit kom by pyn en lyding, belemmerde werkverrigting en ’n laer lewensgehalte”. ’n Bespreking van hierdie algemene toestand kan jou help om die gevaar te verminder om tandvleissiekte te kry.

Feite oor tandvleissiekte

Daar is verskillende stadiums van tandvleissiekte. Die eerste stadium is tandvleisontsteking. Bloeiende tandvleis kan ’n teken van hierdie stadium wees. Dit kan voorkom wanneer jy tande borsel en vlos of om geen verklaarbare rede nie. Bloeding tydens ’n mondondersoek kan ook op tandvleisontsteking dui.

Tandvleissiekte wat verder as hierdie stadium vorder, word periodontitis genoem. Dit veroorsaak dat die been en tandvleisweefsel wat jou tande ondersteun, stadigaan vernietig word. Hierdie vorm van tandvleissiekte toon dalk geen simptome nie totdat dit ’n gevorderde stadium bereik. Party tekens van periodontitis is onder andere tandvleissakkies; los tande; gapings wat tussen die tande ontstaan; slegte asem; terugtrekking van die tandvleis, wat die tande langer laat lyk; en bloeiende tandvleis.

Oorsake en gevolge van tandvleissiekte

Verskeie faktore kan die gevaar vergroot om tandvleissiekte te kry. Tandplaak, ’n dun lagie bakterieë wat gereeld op die tande vorm, is die algemeenste oorsaak. As plaak nie verwyder word nie, kan die bakterieë die tandvleis laat swel. Later begin die tandvleis van die tande wegtrek en kan die plaak, wat vol bakterieë is, onder die tandvleislyn groei. Wanneer die bakterieë tot  hier deurgedring het, vererger die ontsteking en begin dit die been en tandvleisweefsel vernietig. Tandplaak, hetsy bo of onder die tandvleislyn, kan verhard en tandsteen vorm. Tandsteen is ook vol bakterieë, en omdat dit baie hard is en aan die tande vassit, word dit nie so maklik soos plaak verwyder nie. Gevolglik kan bakterieë die tandvleis bly aantas.

Daar is ander faktore wat die gevaar kan vergroot dat jy tandvleissiekte kry. Dit sluit swak mondhigiëne in, sowel as medikasie wat die immuunstelsel onderdruk, virusinfeksies, stres, onbeheerde suikersiekte, oormatige alkoholinname, tabakgebruik en hormonale veranderinge weens swangerskap.

Die gevolge van tandvleissiekte kan ook vir jou ander probleme veroorsaak. ’n Seer mond of die verlies van tande weens tandvleissiekte kan dit vir jou moeilik maak om jou kos te kou en te geniet. Jou spraak en voorkoms kan daaronder ly. Navorsing het ook getoon dat mondgesondheid ten nouste verband hou met ’n mens se algemene gesondheid.

Diagnose en behandeling van tandvleissiekte

Hoe weet jy of jy tandvleissiekte het? Jy merk dalk party van die tekens op wat reeds in hierdie artikel genoem is. Indien wel, sal dit goed wees as jy ’n gekwalifiseerde tandheelkundige raadpleeg wat kan vasstel hoe gesond jou tandvleis is.

Kan tandvleissiekte behandel word? As tandvleissiekte in sy vroeë stadium is, kan dit soms omgekeer word. As periodontitis reeds ontwikkel het, is die doel om te keer dat die siekte die been en weefsel om die tande verder vernietig. Tandheelkundiges gebruik gespesialiseerde gereedskap wat plaak en tandsteen van jou tande kan verwyder, bo sowel as onder die tandvleislyn.

Selfs as jy beperkte of geen toegang tot tandheelkundige sorg het nie, kan jy deur middel van voorkoming die gevaar verminder dat jy hierdie subtiele siekte, wat vernietigend kan wees, sal opdoen. Die beste voorsorgmaatreël teen tandvleissiekte is om self behoorlike en gereelde mondsorg toe te pas.