Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Waarom moet ek ’n liggaamsgebrek hê?

Waarom moet ek ’n liggaamsgebrek hê?

Jongmense vra . . .

Waarom moet ek ’n liggaamsgebrek hê?

“EK WAS vyf jaar oud”, sê Becky. “Ek het saam met ’n vriend op sy fiets gery toe ’n motor om die hoek gekom en ons getref het.” Die gevolg? “Ek het ’n gebreekte been en talle kopbeserings gehad. Die dokters het nie gedink dat ek sal leef nie.” Becky het egter geleef, en vandag is sy ’n opgeruimde 16-jarige. Die ongeluk het nietemin ’n nadraai gehad. “Dit laat my fisies baie swak voel”, sê sy.

Craig, ’n jong man, het ook ’n gebrek, die gevolg van ’n siekte wat as serebrale verlamming bekend staan. “Serebrale verlamming tas my spiere en senustelsel aan”, verduidelik Craig. “My spiere reageer nie behoorlik op die boodskappe wat my brein aan hulle stuur nie. Ek sukkel dus om te loop, te praat en my balans te behou. Ek kan al daardie dinge doen, maar net nie baie vinnig nie.”

Het jy ook die een of ander soort liggaamsgebrek? Statistiek toon dat daar teen die jaar 2000 wêreldwyd ongeveer 59 miljoen jongmense met liggaamsgebreke sal wees (World Health, Januarie/Februarie 1985). Die feit dat so baie dieselfde probleem as jy het, bied egter min vertroosting wanneer jy soos ander jongmense wil hardloop, spring en speel, maar nie kan nie.

Probleme waarmee mense met gebreke te kampe het

Liggaamsgebreke is niks nuuts nie. In Bybelse tye was party verlam (2 Samuel 4:4; 9:13), blind (Markus 8:22) en misvormd (Mattheüs 12:10). Dit was dikwels vir mense met sulke gebreke moeilik om die eenvoudigste take in die lewe uit te voer.—Vergelyk Deuteronomium 28:29; Spreuke 26:7, NW.

Jy sukkel dalk net soveel as gevolg van jou fisiese beperkinge. Om aan te trek, te eet of skool toe te gaan, verg moontlik geweldige inspanning—en aansienlike hulp van ander. “Ek kan geen presiese motoriese bewegings aan my regterkant uitvoer nie”, sê Becky. “Ek moes dus met my linkerhand leer skryf. Dit was ook moeilik om te loop. Ek loop nou redelik normaal, maar party dae hink ek erg.” Of dink net aan die probleme waarmee een jong seun wat aan dwergisme ly te kampe het. Hy sê, en nie sonder ’n tikkie humor nie: “Om ligskakelaars teen die muur by te kom, is nog iets wat werklik ’n frustrasie is . . . Huise is beslis vir lang mense ontwerp.”—How It Feels to Live With a Physical Disability deur Jill Krementz.

Maar jy vind dalk dat jou liggaamsprobleme nie jou grootste probleem is nie. Die tydskrif Parents verduidelik: “Tieners is baie gevoelig vir ander se reaksies, wat die lewe veral vir jongmense met spesiale behoeftes moeilik maak. . . . Hulle wonder wat ander mense van hulle voorkoms dink en wantrou dikwels ’n blyk van vriendskap en dink dat hierdie goed bedoelde gebaar ’n onwelkome betoning van jammerte is.” Dit is net natuurlik dat jy wil hê ander moet van jou hou en jou aanvaar. Maar jy voel dalk verstote. Soos jong Michelle gesê het: “My hele lewe lank was ek anders as al die ander. Die rede hiervoor is dat ek nie ’n linkerhand het nie.”

Omdat jy anders is, word jy moontlik ook aanhoudend geterg. “Ek het tot standerd twee na ’n spesiale skool gegaan”, sê Craig. “Maar toe ek in standerd drie was, het ek na ’n gewone skool begin gaan. Ek het nie eintlik te veel probleme gehad nie tot ’n paar seuns eendag vir my begin lag het. Dit was oor die manier waarop ek geloop het.” Becky het ook pynlike herinneringe aan die wrede manier waarop haar skoolmaats haar behandel het. Aangesien vroeëre chirurgie haar stembande beskadig het, is haar stem effens rasperig. “Op skool het die kinders my monsterstem genoem”, sê sy.

Volwassenes kan dalk ook onredelike vooroordeel aan die dag lê. Party maak dalk nie met jou oogkontak nie. Ander praat dalk glad nie met jou nie en rig hulle opmerkings aan jou ouers of maats—asof jy onsigbaar of verstandelik vertraag is. Die heel irriterendste van almal is moontlik dié wat goed bedoel en jou voortdurend met bejammering oorlaai, wat jou net nog meer soos beskadigde handelsware laat voel.

God se beskouing van die saak

Wat dink God egter van jou? Is jou gebrek die een of ander teken van sy afkeuring? Let op wat Jesus gesê het toe hy “’n man wat blind was van sy geboorte af” teëgekom het. Sy dissipels het gevra: “Wie het gesondig, hierdie man of sy ouers, dat hy blind gebore is?” Jesus het geantwoord: “Hy het nie gesondig nie, en sy ouers ook nie” (Johannes 9:1-3). Nee, die blindheid was nie die gevolg van die een of ander spesifieke sonde wat die blinde man of sy ouers gedoen het nie. Dit was eerder die gevolg van die onvolmaaktheid wat ons almal van Adam geërf het. Die apostel Paulus verduidelik: ‘Deur een mens het die sonde in die wêreld ingekom en deur die sonde die dood, en so het die dood tot alle mense deurgedring, omdat almal gesondig het.’—Romeine 5:12.

Liggaamsgebreke is dus nie die gevolg van Goddelike ingryping of straf nie. Soms is hulle die resultaat van agterlosigheid. Maar ander kan eenvoudig aan “tyd en lotgeval” toegeskryf word (Prediker 9:11). En daar is jongmense wat liggaamsgebreke het omdat hulle ouers hulle mishandel of verwaarloos het.

Wat ook al die rede vir jou gebrek is, jy hoef nie te dink dat God jou as iets beskou wat beskadig is nie. Inteendeel, hy beskou jou as iets kosbaars en waardevols, veral as jy godvresend is (Lukas 12:7). Hy “gee vir jou om” op ’n baie persoonlike manier en is bly om jou in sy diens te gebruik (1 Petrus 5:7, NW). Een van God se uitnemendste knegte van alle tye, die apostel Paulus, het blykbaar ook ’n liggaamsgebrek—“’n doring in die vlees”—gehad (2 Korinthiërs 12:7). Hoe vertroostend is dit tog om te weet dat ‘die mens aansien wat voor oë is, maar die HERE sien die hart aan’ (1 Samuel 16:7). Hy verstaan volkome waartoe jy in staat is en weet wat jy sal kan doen wanneer jy in sy nuwe wêreld tot volmaaktheid herstel is.—Openbaring 21:3, 4.

Hoe om met ander oor die weg te kom

Ongelukkig deel jou skoolmaats en ander dalk nie God se verhewe beskouing nie. Trouens, mense is soms net wreed. Moet dus nie verbaas wees as party van jou portuurs net so wreed oor jou gebrek is nie. Gewoonlik bedoel mense egter nie werklik om jou seer te maak of in verleentheid te bring nie; soms is hulle net nuuskierig. Aangesien hulle ongemaklik voel oor jou gebrek of miskien net ongevoelig is, sê hulle dalk iets wat dwaas of kwetsend is.

Wat kan jy doen? Soms kan jy moeilike situasies voorkom. Jy kan ander byvoorbeeld op hulle gemak probeer stel as jy aanvoel dat hulle gespanne is of nie weet wat om te sê nie. Hou in gedagte dat ons almal geneig is om bang te wees vir iets wat ons nie verstaan nie. Help ander om verby jou gebrek te kyk sodat hulle die ware jy kan leer ken. Wanneer dit lyk asof die situasie dit regverdig, kan jy iets probeer sê soos: “Wonder jy waarom ek ’n rolstoel moet gebruik?” Volgens die tydskrif Parents bevredig een onderwyseres, wat een van haar ledemate verloor het, haar leerlinge se nuuskierigheid deur die gesprek soos volg te begin: “Ek is seker julle wonder wat gebeur het. Wil julle graag weet?”

Ten spyte van jou beste pogings kan jy steeds van tyd tot tyd seergemaak word. Jong Becky sê: “Toe ek jonger was, het dit my regtig ontstel wanneer ander my geterg het; ek was my lewe lank fyngevoelig. Maar nou laat ek nie toe dat dit my ontstel nie. Soms kan ek selfs oor die situasie lag.” Ja, ’n sin vir humor kan baie help om kwetsende opmerkings af te weer. Daar is “’n tyd om te lag” (Prediker 3:4). Daarbenewens het koning Salomo hierdie raad gegee: “Jy moet ook nie let op al die woorde wat die mense spreek nie” (Prediker 7:21). Soms is dit die beste om dwase opmerkings te ignoreer. “Moenie bekommerd wees oor wat mense sê nie”, sê Becky.

Hoop help jou om dit te verwerk

Die hele mensdom is in werklikheid gebrekkig. ‘Die hele skepping sug tesame en is tesame in barensnood tot nou toe’, sê die Bybel (Romeine 8:22). Maar jy kan ’n hoop vir die toekoms hê. Neem byvoorbeeld die geval van ’n jong meisie wat ons Carol sal noem. Sy is feitlik doof gebore. Toe het ’n fietsongeluk tot gevolg gehad dat een van haar bene afgesit moes word. Carol wou nie meer lewe nie. Maar sy het die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer en van ’n komende, regverdige nuwe wêreld geleer waarin “geen inwoner sal sê: Ek is siek nie” (Jesaja 33:24). Ja, sy het die hoop gekry dat haar gebreke eendag—wonderbaarlik!—genees sal word.—Jesaja 35:5, 6.

Watter uitwerking het dit op Carol se gemoedstoestand gehad toe sy van God geleer het? ’n Paar intieme Christenvriende sê van haar: “Sy is altyd opgeruimd en tob nooit oor haar gebrek nie.” Dit is interessant dat hulle egter ook sê: “Baie van haar vriende besef nie dat sy ’n kunsbeen en so ’n ernstige gehoorverlies het nie.” Waarom nie? “Sy lees lippe en gebruik ’n gehoorapparaat.” Dit is duidelik dat Carol meer gedoen het as om op die toekoms te hoop. Sy het daarna gestreef om nou haar volle potensiaal te bereik. Ons volgende artikel in hierdie reeks sal bespreek hoe jy dieselfde kan doen.

[Prent op bladsy 19]

Party vind dit help om hulle situasie aan diegene te verduidelik wat nuuskierig lyk