Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

As daardie beeldjie kon praat!

As daardie beeldjie kon praat!

 As daardie beeldjie kon praat!

“WEES tog versigtig! Ek sal baie jammer wees as sy breek!” Jane sê dit gewoonlik wanneer sy voor haar vriende met my spog, veral as een van hulle dit waag om aan my te raak. Wel, ek ís ’n kosbare besitting. En ek weet dat John en Jane my baie waardeer—hulle hanteer my so versigtig. Maar om die waarheid te sê, ek breek nie só maklik nie.

As ek deur my fyn beskilderde oë kyk na mense wat my bewonder, lag ek dikwels stilletjies oor die prosesse wat nodig is om my te maak. Geen mens kan so ’n veeleisende ervaring oorleef nie! Dit is ’n interessante verhaal.

 ’n Klewerige begin

Porseleinklei, my hoofbestanddeel, word saam met witgraniet en gekalsineerde dierebeen gemaal en met water gemeng. Die verhouding moet net reg wees. Elektromagnete trek enige ysterdeeltjies wat dalk in die roomagtige vloeistof, of slib, soos die handel dit noem, is uit, en daarna word die water uitgepers tot dit soos ’n stuk Plasticine lyk.

Die slib word daarna in ’n kleimeul gedruk, wat soos ’n reuse mengmasjien is, om geknie en gebrei te word. ’n Vakuumpomp verwyder al die  lugblasies wat sal veroorsaak dat my klei kraak wanneer dit uiteindelik in die oond verhit word.

My ontwerper het ’n model van my gemaak wat omtrent 13 persent groter is as wat ek uiteindelik sal wees. En geen wonder nie! Ek krimp wanneer ek drie of vier keer in ’n oond gebak word teen temperature wat van 800 tot 1200 grade Celsius wissel. O ja, daar lê nog maande se werk voor voordat ek vir jou kan glimlag soos niemand anders dit kan doen nie. Laat ek jou meer vertel.

Die dele word aanmekaargeheg

Dink jy dat ek in een stuk gegiet is? Die meeste mense dink so, maar dit is allesbehalwe die geval. Ek word in baie gipsvorms gegiet wat die vog uittrek sodat my klei stewig bind. My gieter maak uiteindelik sy vorms oop, en daar is ek, maar ’n bietjie uit lit uit—my kop hier, ’n been daar en my romp versigtig êrens anders neergelê. O, hoe graag wil ek tog aanmekaargesit word!

My monteur hou my nou versigtig vas. Ek is bly dat hy die ruwe kante gesien het wat die vorms agtergelaat het. Versigtig werk hy dit af, onder andere daardie lelike naat rondom my kop. Ek voel al klaar beter! Met groot vaardigheid maak hy my arms aan my lyf vas en maak hy seker dat my mof net reg sit. Met die vaardigheid van ’n chirurg heg en las hy totdat niemand ooit sal raai dat my lewe in soveel stukke was nie.

Nou staan ek om droog te word. Aangesien daar geen krakies is wat swak plekke verraai nie, is ek gereed vir my vuurproewe. Die oond word warm gemaak, en ek word saam met baie ander beeldjies versigtig daarin geplaas.

Versiering

’n Gesaghebbende sê van my: “Die beste!” Ek is goedgekeur, en nou staan ek in ’n ry om na die versieringsafdeling geneem te word. Ek gaan met ’n glasagtige lagie bedek word wat as glasuur bekend staan, en dit beteken dat ek in ’n kuip met die vloeistof gedompel moet word. Daarna gaan ek weer terug in die oond en kom ek glansend en blink daaruit, gereed vir my lae kleur bo-op die glasuur.

Ek word met die hand geverf, en daarom sal nie twee beeldjies presies dieselfde lyk nie. Dit verg jare se opleiding, en die jong vrou wat my sal verf, sê dat sy egalig maar vinnig moet verf. Anders kan daar lyntjies wees waar die verf droog word.

Hou jy van my oë? Hulle is die moeilikste om te verf. Eendag het ek gehoor hoe ’n verwer vertroulik aan ’n vriend vertel dat hy my stewig teen die bank moet stut en sy asem diep moet intrek en dit moet inhou totdat die uiters fyn lyntjies van die oë, pupille en wenkbroue almal getrek is. As hy asemhaal of hoegenaamd beweeg, kan hy ’n kwashaal in ’n breukdeel van ’n sekonde verbrou, het ek hom hoor sê.

Nou is ek aangetrek, en ek word Autumn Breeze genoem. Op my voetstuk word my naam en my maker se naam versigtig gestempel—as ’t ware ’n seël van goedkeuring. ’n Laaste keer in die oond om my voorkoms duursaam te maak, en ek is gereed om na enige plek in die wêreld te gaan.

Trouens, ek was vir die plaaslike mark bestem en het in Engeland gebly, en dit is waar John my gesien het. Ek is bly hy het. Jane, sy vrou, was so bly toe hy my op hulle 25ste huweliksherdenking vir haar gegee het. Dit was toe dat ek Jane vir die eerste keer hoor sê het: “O, ons moet tog versigtig wees! Ek sal baie jammer wees as sy breek!” Dit is goed om te weet dat ek veilig in hulle hande is. En dit is so lekker om vreugde aan ander te verskaf—en om waardeer te word.

[Prente op bladsy 26]

Die monteur heg die verskillende dele van die beeldjie vas ter voorbereiding vir die oond

Die slib word uit die kleimeul in ’n gipsvorm gegiet

Die gipsvorms word oopgemaak

Ná die glasuring word ’n beeldjie met die hand verskeie lae kleur geverf

Gelaatstrekke word met vaardigheid aangebring

[Erkenning]

All photos: Courtesy Royal Doulton

[Foto-erkenning op bladsy 25]

“Autumn Breeze”, courtesy Royal Doulton