Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Perde was my lewe

Perde was my lewe

 Perde was my lewe

Eers het die piepklein hoefies verskyn, toe ’n koppie wat op ’n paar voorpootjies gerus het. Ek het ’n bietjie gesukkel met die skouertjies, maar die res het baie vinnig uitgekom. Toe die naelstring eers afgesny is, het die merrie opgespring, van vreugde gerunnik en was sy ongeduldig om haar vulletjie te sien.

DIT was maar een van die talle kere wat ek gedurende die nag moes opstaan om ’n “ma” te help wat in nood verkeer het. Ek het dit gelate aanvaar. Jy sien, om rasegte perde te teel, was my groot liefde in die lewe.

My liefde vir perde het baie vroeg in my lewe begin. Ek het begin perdry toe ek ses was. Ek is in Roncq, in die noorde van Frankryk, gebore en deur Katolieke ouers grootgemaak wat my vir my hoërskoolopleiding na ’n Katolieke kosskool gestuur het. Daar was nie skole waar ek kon leer hoe om perde te teel nie, en ek het dus besluit om die skool te verlaat en met my loopbaan as ’n perdeteler te begin. Ek het by ’n afrigter begin werk in Chantilly, ’n dorp noord van Parys wat bekend is vir sy rasegte perde. Daar het ek eerstehandse kennis opgedoen van die veeleisende, strawwe wêreld van renperde. Waarom veeleisend? Renperde kan met topatlete vergelyk word—hulle het voortdurend aandag nodig.

Die afrigting van renperde

Die delikate tydperk van afrigting en voorbereiding begin gewoonlik in die herfs wanneer die perde 18 maande oud is. Hulle moet gewoond raak aan hulle nuwe omgewing en leer om hulle vorige sorgelose gespeel op te gee en aan die werk te spring. Die afrigter moet die perd eers aan ’n toom laat gewoond raak, wat geensins maklik is nie.

Net om ’n perd te omgord, kan soms ’n rodeo aan die gang sit! Die jong perd moet geleer word om aan ’n saal gewoond te raak, en eindelik breek die dag aan wanneer die perd vir die eerste keer gery moet word. Die eerste ruiter word gewoonlik gekies uit dié wat as jokkies opgelei word. Baie van hulle kry dus hulle eerste voorsmakie van wat dit is om in die stof te byt! Die afrigting van perde verg baie vaardigheid en geduld asook ’n sensitiewe benadering. As dit vir die dier traumaties is, kan dit sy hele loopbaan as renperd in gevaar stel.

Vroeg soggens het ons die perde uitgeneem om hulle die verskillende gange te leer—naamlik die stap, die draf en die galop—wat alles onafskeidelik deel uitmaak van die afrigting. Wanneer ’n perd afgerig word, moet hy volgens die instruksies wat aan hom gegee word agtereenvolgens van gang verander. ’n Kort galoppie word egter nou en dan toegelaat om die perde oor ’n kort afstand vrye teuels te gee.

Teen die einde van die oggend het ons na die stalle teruggegaan waar die perde goed versorg moes word. Alle sweet is afgevee, en hulle hoewe is ook sorgvuldig skoongemaak.

As ’n perd goed vorder, kan dit teen die einde  van die winter aan wedrenne vir tweejariges begin deelneem. ’n Rasegte perd se loopbaan eindig gewoonlik teen die einde van sy derde of, op die laatste, sy vierde jaar. Drawwers hou egter aan om aan wedrenne deel te neem totdat hulle agt jaar oud is.

My drome word bewaarheid

Aangesien ek veral daarin belanggestel het om perde te teel, het ek opleiding begin ontvang by ’n stoetery in Normandië, in noordwestelike Frankryk—’n uitstekende streek vir die teel van renperde vanweë sy klimaat en welige weivelde. Agtien maande later het ek die onderbestuurder van die Bois-Roussel-stoetery geword, wat destyds die grootste in Europa was, met 300 perde om te versorg en honderde hektare ruimte.

By die Bois-Roussel-stoetery het ek die vrou ontmoet met wie ek later sou trou; sy het daar as ’n sekretaresse gewerk. Min het ek geweet wat ’n groot invloed dit op my lewe sou hê. Jy sien, sy was bekend met Jehovah se Getuies en het met my oor hulle begin praat. Ek het nie op daardie tydstip belanggestel nie.

Toe die direkteur van ons planne verneem om binne ’n paar maande te trou, het hy gevra of ons ’n ander stoetery sal bestuur waarvan hy ’n mede-eienaar was. My grootste droom is dus bewaarheid. Hier was ek, die bestuurder van ’n belangrike stoetery, op die ouderdom van 24! Daar is baie min stoeterybestuurders in Frankryk; hierdie posisies word gewoonlik gehou vir lede wat tot die eksklusiewe perdewedrenkring behoort. Die La Louvière-stoetery, wat kleiner as Bois-Roussel was en ook in Normandië geleë was, was vir my ’n paradysie van 100 hektaar, met ongeveer honderd perde, wat hingste, merries en vullens ingesluit het.

Aangesien die vorige bestuurder eers oor ses weke sou weggaan, het die eienaar ons intussen ’n reis na die Verenigde State aangebied. Ons het groot Amerikaanse stoeterye besoek om hulle teelmetodes te bestudeer en het verskeie stoeterye genader waarheen ons later ons merries sou stuur om deur hulle hingste gedek te word.

Die lewe by ’n stoetery

Die lewe by ’n stoetery is baie interessant, maar beslis nie vermoeiend nie. Dit het ons werklik grootliks bevredig, want ons was gedurig in aanraking met die natuur en het pragtige, gesonde diere gehad waarna ons moes omsien. Soggens het ons wakker geword en gehoor hoe perde saggies die vars gras vreet. Dit was soos musiek in my ore!

Die werk by die stoetery word verdeel in die tyd wanneer perde paar, geboorte gee, die vullens gespeen en die jong rasegte perde verkoop word. Die hingste word noukeurig uitgesoek op grond van ’n uitstekende wedrenrekord asook hulle afkoms en stamboom. Tydens elke lente word ongeveer 40 merries gedek, en tot R295 000 kan vir ’n rasegte hings met ’n uitstekende rekord betaal word om die pa van ’n vul te word. Met die oog op sulke beleggings is dit maklik om te begryp waarom daar tydens die drag- sowel as die geboortetyd soveel sorg aan die dag gelê word.

Ongelukkig vind ongelukke wel plaas, en soms is die vulletjie van geboorte af wees. In so ’n geval het ons die moeilike taak om ’n stoetmerrie so ver te kry om hom aan te neem. Wanneer die vulletjie nader gebring word sodat dit kan drink, word die merrie ingeteuel deur die staljongens wat mekaar ongeveer 48 uur lank dag en nag aflos. Die merrie moet vasgehou word sodat sy nie kan skop nie, aangesien sy die wesie maklik kan doodskop. Een van die merrie se voorpote moet teen haar buik vasgehou word en ’n lus moet om haar bolip getrek word om haar in te hou.

Die merrie begin uiteindelik moeg raak, en sukses word verseker wanneer sy die vulletjie eindelik aanvaar. Dikwels raak die nuwe ma so beskermend dat dit moeilik is om net naby die vulletjie te kom. Die geboorte moet onmiddellik by die Franse Nasionale Registrasiekantoor aangegee word, waar dit in die register vir die bepaalde ras aangeteken word.

Perde en vullens

’n Paar dae nadat die merries geboorte gegee het, word hulle saam met hulle vullens na die  kampe toe uitgelei. Die vullens gaan, soos talle jong diere, onmiddellik wild te kere en spring uitgelate om hulle ma’s rond terwyl hulle in alle rigtings skop. Hoeveel genot verskaf dit tog nie om te sien hoe hulle spring, steier en in die gras rol nie! Hulle hou baie van water en spat hulleself uitbundig nat terwyl hulle die hele tyd rondtrippel.

Perde hou nie daarvan om alleen te wees nie en raak maklik verveeld. Hingste, asook jong perde wat afgerig word, moet egter afgesonder word. As ’n perd dit nie kan verdra om in afsondering te wees nie, moet ’n dier gevind word wat as geselskap kan dien. Ons was verplig om vir een van ons hingste ’n skaap te gee. Hulle het baie goed oor die weg gekom. Trouens, die skaap het geweier om dag en nag van die perd af weg te gaan. Een kampioenrenperd wat Allez France genoem is, het ’n skaap as metgesel gehad wat selfs saam met haar renbane toe gegaan het—hoewel sy nie saam met haar aan die wedren deelgeneem het nie!

In Augustus is dit speentyd, ’n hartseer tyd vir ma’s en vullens. Hulle moet geskei word en mag nie mekaar sien of selfs hoor nie. Die vullens toon hulle hartseer deur verskeie dae lank aanhoudend saggies te runnik, waarna hulle oor hulle hartseer kom. Op 1 Januarie van die jaar ná hulle geboorte word hulle jaarlinge genoem. By die jaarlikse Deauville-veilings kan die prys vir ’n jaarling maklik meer as R2950 000 wees.

Party van die perde wat by ons stoetery gebore  en geteel is, het ’n suksesvolle loopbaan gehad. Een van hulle was High Echelon, wat in 1979 die Prix d’Amérique as wêreldkampioen in die drawwerskategorie gewen het. Ons het ook ander rasegte perde geteel wat ’n aantal belangrike klassieke wedrenne gewen het.

Ons leer die waarheid ken

Verskeie maande het op die nuwe plaas verbygegaan sonder dat ons deur Jehovah se Getuies besoek is. My vrou het dus voorgestel dat ek aan ’n nabygeleë gemeente skryf en vra dat iemand na ons toe moet kom. ’n Paar dae later was daar ’n egpaar voor ons deur. Ek kon nie glo dat die Bybel die gebeure vir ons dag akkuraat beskryf nie. Toe my vrou vir my sê dat God se Koninkryk in 1914 opgerig is, het ek gedink dat dit net die Getuies se interpretasie was. Ek het nog nooit daardie datum in die Bybel gesien nie.

Ons het ’n lang bespreking gehad met die egpaar, wat voltydse evangeliebedienaars was, en hulle verduidelikings—veral oor die boek Daniël—het my belangstelling geprikkel, en ek het tot ’n Bybelstudie ingestem. Dit was egter nie maklik om dit in my rooster in te pas nie, want my werk het al my tyd in beslag geneem.

Die egpaar het 25 kilometer ver gery om ons te besoek en het dikwels teruggegaan sonder dat hulle ons Bybelstudie gehou het omdat ek by ’n siek perd moes bly of na ’n merrie moes omsien wat besig was om te vul. Maar namate my waardering toegeneem het vir die feit dat ek Koninkryksbelange en God se regverdigheid eerste moet stel, het ek stappe gedoen om ‘die tyd uit te koop’ sodat ek kon studeer.—Efesiërs 5:16; Mattheüs 6:33.

Ek kom voor ’n keuse te staan

Ons het kort daarna vergaderinge begin bywoon en ses maande later het ek die “Goddelike Soewereiniteit”-Streekbyeenkoms in 1975 in Annecy, in suidoostelike Frankryk, bygewoon. Gedurende daardie byeenkoms het ek begin besef dat my werk nie in ooreenstemming met die Bybel was nie. Ek het die beginsel in Jesaja 65:11 begin begryp, wat duidelik toon dat dié “wat ’n tafel dek vir die geluksgod” nie God se goedkeuring kan wegdra nie. Aangesien ons slegs renperde geteel het, het ons indirek tot die dobbelbedryf bygedra. Ons gewete het ons nie toegelaat om gedoop te word nie.

Die tyd het aangebreek dat ek ’n baie belangrike besluit moes neem. Sou ek met my geliefde loopbaan voortgaan of sou ek my lewe aan Jehovah God toewy? Aangesien God se wil die belangrikste ding in my lewe geword het, het ek die saak met die twee eienaars bespreek en my bedanking ingedien. Ek moes nog een jaar aanbly terwyl ek op ’n plaasvervanger gewag het, maar tydens die volgende kringbyeenkoms, wat in September 1976 in Gargenville (naby Parys) gehou is, is ek en my vrou gedoop.

In die wêreld van perdetelers het baie van my besluit te hore gekom. Ek onthou veral toe ’n chirurg die stoetery kom besoek het. Hy het gesê dat hy uit ’n morele oogpunt volkome verstaan het waarom ek so ’n keuse gemaak het. Toe hy om hom rondkyk, het die weelderigheid van die stoetery hom opgeval—die kleurryke blombeddings, die perde se afskortings met hulle houtpanele en die kilometers lange skoon, wit heinings. Hy het erken dat hy daarenteen nie die nodige geld kon insamel vir die instandhouding en versiering van sy hospitaal nie.

Ek was nog nooit spyt oor my besluit nie. Ek en my vrou het Frankryk vroeg in 1992 verlaat om in ’n Franssprekende gebied te gaan dien waar daar ’n groter behoefte aan Koninkryksverkondigers was. Daar geniet ek die voorreg om as ’n ouere man in die gemeente van Jehovah se Getuies te dien. Ons huldig die apostel Paulus se siening in Filippense 3:8: “Ek ag ook alles skade om die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus, my Here, ter wille van wie ek alles prysgegee het en as drek beskou, om Christus as wins te verkry.”

Ek en my vrou is steeds lief vir die natuur en vir diere, veral vir perde. Ons sien uit na die dag wanneer die mens se verhouding met diere nie meer op selfsugtige gewin gegrond sal wees nie.—Soos vertel deur Stephane Jesuspret.