Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Honderd jaar gelede—1915

Honderd jaar gelede—1915

“ONS ondervind nou ’n tyd van toetse”, het The Watch Tower van 1 Maart 1915 gesê. “Was ons in die verlede bedrywig bloot omdat ons gehoop het op ons glorieryke verandering in 1914 HJ of was ons bedrywig weens ons liefde vir en lojaliteit aan die HERE en Sy boodskap en die broers!” Gedurende 1915 moes party Bybelstudente teen teleurstelling stry. Maar ’n groot deel van die wêreld het ’n ander soort stryd gevoer.

Die Groot Oorlog, wat later as die Eerste Wêreldoorlog bekend gestaan het, het deur Europa versprei. Gemeganiseerde oorlogvoering het die aard van oorloë verander, en dit het burgers op ’n ongekende skaal geraak. Byvoorbeeld, in 1915 het Duitse duikbote, of U-bote, in die see om Groot-Brittanje begin vaar. Op 7 Mei 1915 het een van hierdie U-bote die Britse passasierskip Lusitania gesink. Meer as 1 100 mense het gesterf.

Die neutraliteitsgeskil

Die Bybelstudente wou geen aandeel aan hierdie oorlog hê nie. Maar hulle het destyds nog nie die Christelike standpunt van streng neutraliteit ten volle verstaan nie. Hoewel hulle nie vrywillig by die leër aangesluit het nie, het party diensplig aanvaar en werk probeer doen wat nie van hulle vereis het om te veg nie. As hulle wel moes gaan veg, het ander geredeneer dat hulle net “bo-oor die vyand se kop” kan skiet.

The Watch Tower van 15 Julie 1915 het die verhaal bevat van ’n Hongaarse soldaat wat gedoop is terwyl hy van sy beserings herstel het en wat later na die frontlinie teruggekeer het. In die verhaal lees ons wat toe gebeur het: “Hulle [die Hongaarse soldate] het tot binne 800 voet (240 meter) van die Russiese linie gekom, en hulle het die opdrag ontvang: ‘’n Bajonetaanval!’ Die Hongaarse broer was aan die punt van die linkervleuel. Hy wou hom net teen die vyand beskerm, en daarom het hy eenvoudig die bajonet uit die hand van die Russiese soldaat voor hom probeer slaan. Toe het hy gesien dat die Russiese soldaat dieselfde probeer doen . . . Die Russiese soldaat het sy bajonet laat val; hy het gehuil. Ons broer het sy ‘vyand’ toe van naderby bekyk—en hy het ’n ‘kruis-en-kroon-speld’ op sy baadjie gesien! Die Russiese soldaat was ook ’n broer in die Here!” *

“’n Christen se plig en die oorlog”, ’n artikel wat in The Watch Tower van 1 September 1915 gepubliseer is, het die kwessie van Christelike neutraliteit bespreek. Dit het gesê: “As iemand by die leër aansluit en die militêre uniform aantrek, gee hy te kenne dat hy die verpligtinge van ’n soldaat erken en aanvaar. . . . Sou ’n Christen onder sulke omstandighede dan nie op die verkeerde plek wees nie?” Mettertyd het dit duidelik geword dat Christene hoegenaamd geen aandeel aan oorloë moet hê nie.

Aanpassings by die hoofkwartier

In 1915 is sewentig lede van die Bethelgesin in New York in kennis gestel dat hulle weens ’n gebrek aan fondse Bethel moet verlaat om hulle diens in die veld voort te sit. Daar is vir hulle gesê: “Ons moenie skuld aangaan of die werk oor die algemeen in gevaar stel nie; daarom is die besluit geneem om onkoste sover moontlik te besnoei.”

Clayton J. Woodworth en nog twee broers het ’n gesamentlike brief van “die Vertrekkende Sewentig” onderteken. Hierdie brief is in The Watch Tower van 1 Mei 1915 gepubliseer. Die groep het geskryf dat hulle Bethel verlaat “met vreugde en dankbaarheid vir die talle seëninge en voorregte” wat hulle “as lede van die ‘Bethelgesin’” geniet het.

Hoewel hierdie verandering van toewysing moeilik was, het dit hierdie broers die geleentheid gegee om te bewys waar hulle lojaliteit werklik lê. Sou hulle aan God getrou bly of sou hulle verbitterd raak? Broer Woodworth het aangehou preek, later na Bethel teruggekeer en in 1919 die eerste redakteur van The Golden Age (vandag die Ontwaak!) geword. Hy het tot 1946 as die redakteur gedien.

Diensgeleenthede

Regdeur hierdie moeilike jaar het The Watch Tower ons broers aangespoor om aan te hou preek. Persone wat in die verlede belangstelling getoon het, is spesiale aandag gegee. “Ons het lyste van regoor die land van mense wat hulle kaarte ingestuur het om lektuur aan te vra”, het die nommer van 15 Desember 1915 gesê. “Ons stel voor dat hulle besoek word . . . om uit te vind of hulle nog belangstel.” Die doel was om hulle belangstelling verder te ontwikkel “sodat hulle ’n vurige ywer vir God en die Waarheid” sou hê.

Dit was destyds, net soos vandag, vir Christene belangrik om hulle aandag op Koninkryksbelange gevestig te hou. “Ons wat nou geestelik wakker is, moet baie bedrywig en geesdriftig in die diens van God wees”, het The Watch Tower van 15 Februarie 1915 gesê. God se knegte moet waaksaam bly. The Watch Tower het verder gesê: “Ons moet aandag skenk. Waaraan moet ons aandag skenk? Ons moet hoofsaaklik aan onsself aandag skenk, sodat ons die strikke van die teenswoordige tyd kan vermy.”

Die jaarteks vir 1916 het die broers aangespoor om ‘kragtig in die geloof’ te bly, na aanleiding van Romeine 4:20. Hierdie vers sou die getroues gedurende die daaropvolgende jaar aanmoedig, ’n jaar wat sy eie beproewinge meegebring het.

^ par. 6 Die Bybelstudente het jare lank ’n kruis-en-kroon-speld as ’n kenteken gedra. Hierdie simbool was ook jare lank op die voorblad van The Watch Tower. Teen die vroeë 1930’s het Jehovah se Getuies opgehou om die kruis-en-kroon-simbool te gebruik.