Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 DIE DOMINIKAANSE REPUBLIEK

Die Koninkrykshoop is nie net ’n droom nie

Efraín de la Cruz

Die Koninkrykshoop is nie net ’n droom nie
  • GEBORE 1918

  • GEDOOP 1949

  • PROFIEL Al is hy gevange geneem en in sewe strafgevangenisse wreed geslaan, het hy nooit gewankel in sy vasbeslotenheid om die goeie nuus van God se Koninkryk te verkondig nie.

IN 1948 het ek, my vrou, Paula, en my dogter die vergaderinge van Jehovah se Getuies in Blanco Arriba begin bywoon. Ons moes altesaam 40 kilometer heen en weer stap, maar ons het nooit van ’n vergadering weggebly nie. Op 3 Januarie 1949 is ek en Paula gedoop.

Ses maande later is party in ons gemeente in hegtenis geneem en tot drie maande tronkstraf gevonnis. Ons moes op die vloer slaap en is net een keer per dag kos gegee—groen piesangs en tee. Toe ons uit die tronk vrygelaat is, het staatsamptenare ons gedreig. Hulle het aangeneem dat ons sou ophou preek. Maar toe ons teruggekeer het huis toe, het ons in die geheim voortgegaan om vergaderinge by te woon en te preek. Omdat regeringsagente ons altyd dopgehou het, het ons in huise, in koffielande of op plase bymekaargekom. In plaas daarvan om elke keer op dieselfde plek bymekaar  te kom, het ons aan die einde van elke vergadering aangekondig waar die volgende vergadering gehou sou word. Wanneer ons gepreek het, het ons dit alleen gedoen, werksklere gedra en nie lektuur of ’n Bybel gebruik nie. Nogtans was ek tussen 1949 en 1959 in sewe verskillende tronke, waar ek elke keer ’n vonnis van drie tot ses maande uitgedien het.

Ek moes baie versigtig wees, want party van my vervolgers was my familielede. Al het ek in die berge of op ’n plaas geslaap om nie gevang te word nie, is ek wel soms gevang. Nadat ek eenkeer in hegtenis geneem is, is ek na die La Victoria-tronk in Ciudad Trujillo gestuur, waar daar 50 tot 60 gevangenes in ’n sel was. Daar het ons twee keer per dag kos gekry—mieliemeel in die oggend en ’n klein porsie rys met boontjies in die middag. Al die Getuies het natuurlik vir medegevangenes gepreek, en ons het gereeld ons vergaderinge gehou, waartydens ons gememoriseerde Bybeltekste gebruik het en ondervindinge uit ons bediening vertel het.

Die laaste keer toe ek opgesluit is, het ’n soldaat my met ’n geweerkolf teen die kop en in die ribbes geslaan. Al ly ek nog steeds weens die fisiese gevolge van die mishandeling, het daardie beproewinge my geloof, my volharding en my vasbeslotenheid om Jehovah te dien, versterk.

Nou, op die ouderdom van 96, dien ek as ’n bedieningskneg in die gemeente. Hoewel ek nie meer ver kan stap nie, sit ek voor my huis en preek ek vir almal wat verbyloop. Die Koninkrykshoop is vir my nie net ’n droom nie. Dit is ’n werklikheid, en ek preek nou al meer as 60 jaar lank daaroor. Die nuwe wêreld is vandag vir my net so werklik soos die eerste dag toe ek die Koninkryksboodskap gehoor het. *

^ par. 11 Efraín de la Cruz het gesterf terwyl hierdie verslag voorberei is.