Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 DIE DOMINIKAANSE REPUBLIEK

Wrede aanval

Wrede aanval

“Oor net ’n paar dae sal hulle uitgewis wees”

Borbonio Aybar is op 19 Januarie 1955 gedoop, terwyl daar nog ’n verbod op die werk was. Ná sy doop het hy baie Bybelstudies in Monte Adentro en in Santiago gehou. Toe die verbod in 1956 opgehef is, is party van sy studente gedoop, insluitende sy vrou.

In die middel van Julie 1957 het staatsamptenare in Salcedo vergader om die Getuies te veroordeel. “Francisco Prats-Ramírez was die hoofspreker”, verduidelik broer Aybar. “Prats-Ramírez het gesê: ‘Oor net ’n paar dae sal hulle uitgewis wees.’” ’n Paar dae later, op 19 Julie 1957, het die polisie alle Getuies van Jehovah in Blanco Arriba, El Jobo, Los Cacaos en Monte Adentro aangekeer.

“Ek was onder dié wat in hegtenis geneem is”, vertel broer Aybar. “Ons is na die militêre hoofkwartier in Salcedo geneem. Toe ons daar aangekom het, het ’n kolonel met die naam Saladín my geslaan. Sy oë het uitgepeul van woede terwyl hy ons gedreig het. Toe is ons in twee rye verdeel, een vir die mans en een vir die vroue. Die wagte het die mans begin slaan en skop en het die vroue met hulle knuppels geslaan, terwyl hulle heeltyd gesê het: ‘Ek is ’n Katoliek en ek maak dood.’”

“Ek het die Bybel gelees, en ek weet dat Jehovah God is”

Broer Aybar is ’n boete opgelê en tot drie maande tronkstraf gevonnis. Hy het verder gesê: “Terwyl ons in die tronk was, het ’n leëroffisier met die naam Santos Mélido Marte ons besoek. Hy het vir ons gesê: ‘Ek het die Bybel gelees, en ek weet dat Jehovah God is. Julle het niks gedoen wat tronkstraf verdien nie, maar ek kan niks doen om julle te help nie, want die Katolieke biskoppe is verantwoordelik vir julle inhegtenisneming. Die enigstes  wat julle vonnis kan verkort, is daardie selfde biskoppe of die jefe (“die baas”, Trujillo).’”

“Is jy die baas?”

Onder dié wat in hegtenis geneem is, was Fidelia Jiménez se dogter en haar suster se dogters, wat almal saam met haar gestudeer het. Hoewel Fidelia aanvanklik nie in hegtenis geneem is nie, het sy haar aan die owerheid oorgelewer om opgesluit te word sodat sy diegene wat reeds in die tronk was, kon aanmoedig. Gedurende hierdie tyd het ’n hooggeplaaste militêre bevelvoerder, Ludovino Fernández, wat berug was vir sy verwaandheid en wreedheid, ’n amptelike besoek by die tronk afgelê. Hy het Fidelia na hom toe laat bring en haar gevra: “Is jy die baas?”

“Nee”, het Fidelia geantwoord. “Júlle is die base.”

“Wel, jy is die geestelike leier”, het Fernández gesê.

“Nee”, het Fidelia gesê. “Jesus is die geestelike leier.”

“Is al hierdie mense nie in die tronk weens jou nie?” het Fernández gevra. “Jy is mos die een wat hulle onderrig het, nie waar nie?”

“Nee”, het Fidelia gesê. “Hierdie mense is in die tronk weens die Bybel. Hulle pas toe wat hulle uit die Bybel geleer het.”

Op daardie oomblik het twee broers wat ook in hegtenis geneem is, Pedro Germán en Negro Jiménez, Fidelia se neef, in die gang verbygeloop. Hulle is van alleenopsluiting na ’n gewone tronksel geneem. Negro se hemp was vol droë bloed, en Pedro se oog was erg geswel. Toe Fidelia sien dat hulle wreed geslaan is, het sy die bevelvoerder gevra: “Is dit hoe julle goeie, eerlike, godvresende mense behandel?” Fernández het besef dat hy Fidelia nie kan intimideer nie en het beveel dat sy na haar sel teruggeneem word.

 Jehovah se lojale knegte moes ondanks sulke gewelddadige teenstand moedig wees—en dit is presies wat hulle was! Selfs staatsamptenare het dit erken. Op 31 Julie 1957 het Luis Arzeno Colón, ’n inspekteur vir die president, byvoorbeeld aan die Minister van Buitelandse Sake geskryf en gekla: “Hoewel die wet wat onlangs deur die Nasionale Kongres uitgevaardig is, die godsdiensbedrywighede van die sekte wat as Jehovah se Getuies bekend staan, onwettig verklaar, bly die meerderheid van die lede standvastig.”