Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 AARDWYE PREDIKINGS- EN ONDERRIGTINGSWERK

Asië en die Midde-Ooste

Asië en die Midde-Ooste
  • LANDE 48

  • BEVOLKING 4 315 759 010

  • VERKONDIGERS 703 271

  • BYBELSTUDIES 732 106

Hy het gevra of ander kan saamkom

’n Broer in Indonesië het twee dae voor die Gedenkmaal vir ’n parkeerbeampte ’n Gedenkmaaluitnodiging gegee. Die parkeerbeampte, ’n Moslem, het gevra of ander kan saamkom, aangesien hy net een uitnodiging ontvang het. Die broer het gesê dat ander ook kan kom. Die man het gesê dat hy ’n groot familie het  en het vir nog uitnodigings gevra. Die broer het vir hom 20 gegee en verduidelik dat dit uitnodigings is na die Herdenking van Jesus se dood en dat almal, Christene sowel as Moslems, welkom is. Die man het gesê dat hy sowat 60 tot 70 mense sou saambring.

Toe die Gedenkmaaltoespraak begin, was daar reeds 248 mense teenwoordig. Daarna het die parkeerbeampte met sowat 100 mense opgedaag—mans, vroue en kinders, insluitende bejaardes en ’n vrou wat ver gevorderd was in haar swangerskap. Hulle het ’n hele paar motors gehuur om hulle na die hotel te neem waar die Gedenkmaal gehou is. Toe die hotel se sekuriteitswagte die groot groep sien, het hulle hulle voorgekeer. Hulle het gewonder waarom soveel Moslems ’n Christelike geleentheid wil bywoon. Nadat die groep hulle Gedenkmaaluitnodigings vir die wagte gewys het, het die wagte hulle na die ouditorium vergesel. Sowat 60 mense van die groep is toegelaat om in die oorvol ouditorium in te gaan.

’n Paar dae later het die broer die parkeerbeampte besoek en gevra of die groep die program geniet het. Hy het erken dat hulle almal ’n bietjie skrikkerig was om dit by te woon, maar hy het bygevoeg dat hulle beïndruk was omdat almal so vriendelik was en hulle agterna kom groet het. Die broer het hom toe na die spesiale toespraak genooi wat die volgende Sondag gehou sou word. Hierdie keer het hy sowat 40 gesinslede en vriende saamgebring. Omdat hulle opgedaag het toe die vergadering byna verby was, het die ouer manne besluit  om die toespraak weer te hou. Die voorsitter het die toespraak weer ingelui en kortliks verduidelik wat die program, insluitende die lied en gebed, behels. Weens hierdie mense se Moslemagtergrond het die spreker terme gebruik waarmee hulle bekend is, soos “die Heilige Boek” in plaas van “die Bybel” en “die profeet Isa” in plaas van “Jesus”.

Later het ’n ouer man die parkeerbeampte by sy huis besoek en ’n Bybelbespreking met hom begin uit die Luister na God en lewe vir ewig-brosjure. Nog 12 mense het by die bespreking aangesluit, insluitende ’n paar Moslemvroue en kinders.

Leesstof vir die busse

Mongolië: Verkondigers het toestemming gekry om lektuur te voorsien wat passasiers kan lees

Busse wat uit Ulaanbaatar, Mongolië, vertrek, reis na alle dele van die land. Hierdie busritte kan soms tot 48 uur duur. Passasiers staar by die venster uit of slaap. Geen leesstof word voorsien nie, al geniet Mongole dit om te lees. Daarom het party van die broers van die Songinochairchan-gemeente die busbestuurders genader en gesê: “Ons wil vir elkeen van julle ’n uitstekende boek gee. En as julle dink dat julle passasiers graag iets sal wil lees, kan ons vir hulle lektuur in die sitpleksakkies sit sodat daar, soos op vliegtuie, altyd vir hulle iets is om te lees.” Agt busbestuurders het hierdie aanbod aanvaar. Gevolglik het die broers 299 tydskrifte en 144 brosjures versprei. Hulle het ook reëlings getref om die tydskrifte met die jongste nommers te vervang sodra dit beskikbaar is.

 Die verkeerde persoon

In ’n land in Asië is twee ouer manne gevra om ’n suster te besoek wat agt jaar lank onbedrywig was. Omdat die broers die suster nog nooit tevore ontmoet het nie, het hulle haar gebel en reëlings getref om haar by haar winkel in ’n groot inkopiesentrum te ontmoet. Nadat hulle deur ’n doolhof van gangetjies geloop het, het hulle uiteindelik ’n winkel gevind wat hulle gedink het die suster s’n is. Toe hulle instap, het ’n vrou hulle gegroet, en hulle het ’n Bybeltjie op haar lessenaar sien lê. Die broers het tot die slotsom gekom dat dit die onbedrywige suster is omdat haar van, tuisdorp en die ouderdom van haar twee kinders ooreengestem het met dié van die onbedrywige suster. “Ons is jou broers, Jehovah se Getuies”, het hulle gesê.

“Ek is ’n Christen”, het sy met ’n verwarde uitdrukking op haar gesig gesê. Die broers het gewonder waarom sy so vreemd reageer. Hulle het nietemin vir haar Bybellektuur gegee, en sy was baie dankbaar daarvoor. Toe die broers uitstap, het hulle egter besef dat hulle by die verkeerde winkel was! Hulle moes na winkel nommer 2202 gaan, maar hulle was by winkel nommer 2200. Een van die broers het gesê: “Ek het hoendervleis gekry. Dit was asof die engele ons by daardie winkel laat ingaan het. Die vrou en die suster het dieselfde van gehad, van dieselfde dorp gekom en hulle kinders was amper ewe oud! As die vrou  ’n ander van gehad het of van ’n ander dorp gekom het, sou ons geweet het dat sy die verkeerde persoon is.” Twee winkels verderaan het die broers uiteindelik die onbedrywige suster gevind wat vir hulle gewag het.

“Die feit dat Jehovah my nooit vergeet het nie, al was ek so lank onbedrywig, het werklik my hart geraak”

Omdat die broers die verkeerde winkel besoek het, het die eerste vrou begin om die Bybel te studeer en vergaderinge by te woon. Die onbedrywige suster het begin om al die vergaderinge by te woon en gereeld in die bediening uit te gaan. Sy het gesê: “Die feit dat Jehovah my nooit vergeet het nie, al was ek so lank onbedrywig, het werklik my hart geraak.”

Teksboodskappe in slegte weer

Die Filippyne: Greg stuur teksboodskappe

Greg en Alma het na die eiland Catanduanes in die Filippyne getrek om te dien waar meer Koninkryksverkondigers nodig is. Omdat sekere dele van die gebied bergagtig is, moet Greg en Alma 19 kilometer ver stap om van die mense in hulle gebied te bereik. Soms moet hulle ’n boot neem en tot twee uur lank roei om op ander eilande te gaan preek. Gedurende die reënseisoen is dit baie moeilik om hierdie gebiede te bereik. Pleks van net tuis te bly en glad nie te preek nie, het hulle besluit om gebruik te maak van hulle selfoonmaatskappy se spesiale aanbod om ’n onbeperkte aantal teksboodskappe teen ’n lae tarief te stuur.

Greg sê dat hy die boodskap begin deur te sê wat sy naam is. Dan voeg hy by: “Ek het vir jou ’n boodskap uit die Bybel.” Een van die tekste wat hy doeltreffend vind, is Johannes 17:3. Hy haal dit aan en vra dan twee vrae: Wie is die ware God? en Wie is Jesus Christus? Hy nooi die persoon dan om te antwoord. As die persoon terugskryf, haal Greg nog ’n teks aan, soos Psalm 83:18. As die persoon weer terugskryf, vra hy of hulle die  gesprek oor die telefoon kan voortsit. Greg en Alma sê dat baie mense terugskryf.

Een vrou het baie vrae oor die Bybel gehad, en daarom is baie teksboodskappe oor en weer gestuur. Hierdie teksboodskappe het uiteindelik tot ’n Bybelstudie gelei. Die vrou het vir haar broerskind en ’n werksmaat vertel wat sy geleer het. Gevolglik is al drie uiteindelik gedoop.