Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 DIE DOMINIKAANSE REPUBLIEK

“Ek het soos ’n leeu geveg”

Luis Eduardo Montás

“Ek het soos ’n leeu geveg”
  • GEBORE 1906

  • GEDOOP 1947

  • PROFIEL ’n Voormalige amptenaar in Rafael Trujillo se politieke party. Hy het Bybelwaarheid geleer en Jehovah tot sy dood in 2000 getrou gedien.

LUIS, ’n familielid van Trujillo, het gedien as tesourier vir die regerende politieke party, Partido Dominicano (die Dominikaanse Party). Maar Trujillo se politieke stelsel was vir Luis afstootlik, en al het hy dikwels probeer bedank, het die diktator geweier om hom te laat gaan.

Toe Trujillo twee van Luis se broers laat doodmaak het, het Luis die diktator twee keer probeer vermoor. Maar hy is nooit met die sluipmoordpogings verbind nie. Luis het selfs geestemediums besoek om hulp te kry om die man dood te maak van wie hy gesê het: “Hy het soos ’n dier opgetree en gedink dat hy beter is as ander.” Op die tafel in die huis van een van die geestemediums het hy die boek “Die waarheid sal julle vrymaak” gesien en dit begin lees. Luis het so belanggestel in die boek dat hy dit saam met hom huis toe geneem het. Later het hy tot die slotsom gekom dat dit die godsdienswaarheid is waarna hy soek.

 Toe Luis na Ciudad Trujillo gereis het, het hy ’n vergadering van Jehovah se Getuies bygewoon en baie boeke en tydskrifte gekry. Hy het die hele nag lank die lektuur gelees en later ’n Bybelstudie aangevra. Luis het vooruitgang begin maak en besluit om Trujillo se regime te verlaat. Toe die diktator dit uitvind, het hy Luis die invloedryke pos van Dominikaanse konsul in Puerto Rico aangebied. Maar Luis het die aanbod van die hand gewys, al het hy geweet dat sy besluit heel moontlik tot vervolging sou lei.

“Ek is aan elke vorm van mishandeling onderwerp”, het Luis vertel, “en die regering het my op elke denkbare manier probeer verstrik. Maar ek het my reeds voorgeneem om die genietinge van hierdie wêreld te laat vaar.” Luis het so ’n uitgesproke verkondiger van die goeie nuus geword dat die plaaslike Katolieke priesters hom “die prediker” genoem het. Op 5 Oktober 1947, ses maande nadat hy sy eerste vergadering bygewoon het, is Luis gedoop.

Ná Luis se doop is hy gesoek, gevange geneem en in alleenopsluiting geplaas. Daar is verskeie pogings aangewend om hom te vermoor. Maar elke keer dat hy in hegtenis geneem en voor die hof gebring is, het hy die situasie gebruik om ’n getuienis te gee. “Ek het soos ’n leeu geveg om my geloof te verdedig”, het Luis gesê, “en ek dink met vreugde daaraan.”

Luis se diens as ’n getroue kneg van God het in die gemeenskap nie ongesiens verbygegaan nie. In 1994 het die Dominikaanse koerant El Siglo aangaande Luis berig: “Mnr. Luis Eduardo Montás is in San Cristobal bekend as ’n ernstige man. Hy is ’n ware gawe, ’n man met meegevoel en ’n sagmoedige gees. Alles wat omtrent hierdie man in die geskiedenis van San Cristobal bekend is, hou verband met sy roeping as ’n Christen.”