Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

GLANSPUNTE VAN DIE AFGELOPE JAAR

Verslag oor regsaangeleenthede

Verslag oor regsaangeleenthede

ARMENIË Voorsien ’n program van alternatiewe burgerlike diens wat Christelike neutraliteit in ag neem

Armenië: Party broers word deur die regering na afgesonderde gebiede van die land gestuur om hulle alternatiewe burgerlike diens te verrig. Terwyl hulle daar is, gaan hulle voort om ywerig aan die predikingswerk deel te neem

In 2013 het die Armeense regering ’n program van alternatiewe burgerlike diens ingestel, wat dit vir Jehovah se Getuies in Armenië moontlik maak om alternatiewe diens te kies pleks van ’n tronkvonnis uit te dien weens gewetensbeswaar teen diensplig. In Januarie 2014 het die takkantoor berig dat 71 broers onder hierdie nuwe reëling met hulle werkstoewysings begin het. Party broers moet byvoorbeeld as kombuiswerkers of as hulpverpleërs in hospitale werk. Die toesighouers van die program het positiewe opmerkings gemaak oor die broers se werketiek en die gesindheid wat hulle geopenbaar het terwyl hulle die dikwels moeilike werk verrig het wat aan hulle toegewys is. Die broers is dankbaar vir die voorsiening om burgerlike diens te doen sodat hulle as Christene ’n skoon gewete kan behou. * ’n Broer het gesê: “Ons is dankbaar teenoor Jehovah omdat ons alternatiewe burgerlike diens kan doen, wat ons help om ons neutraliteit te handhaaf en ons terselfdertyd die vryheid gee om hom te aanbid.”

DOMINIKAANSE REPUBLIEK Erken eerste nie-Katolieke godsdienstige huwelik wat deur Getuies voltrek is

In 1954 het die Dominikaanse Republiek ’n konkordaat met die Vatikaan onderteken, wat die Katolieke Kerk die enigste godsdiens gemaak het met die reg om huwelike te voltrek. As ’n paartjie nie deur die Katolieke Kerk getrou is nie, kon ’n beampte van die Burgerlike Registrasie die huwelik voltrek. Maar in 2010 het die regering nuwe wetgewing aanvaar wat gekwalifiseerde verteenwoordigers van ander godsdienste hierdie reg gegee het. Die regering het opleiding voorsien vir diegene wat ’n lisensie wou verkry. Die takkantoor in die Dominikaanse Republiek het 30 ouer manne gekies om dit by te woon. Van die meer as 2 000 wat vir die lisensie aansoek gedoen het, het slegs 32 daarvoor gekwalifiseer. Maar al 30 van ons broers het hulle lisensie ontvang om huwelike vir Getuie-egpare te voltrek.

INDIË Vasbeslote om moedig te preek

Sundeep en Deepalakshmi Muniswamy

Op 27 Januarie 2014 het die Menseregtekommissie van die staat Karnataka beslis dat die onderinspekteur van die polisie (PSI) van die Old Hubli-polisiestasie in Karnataka die regte van broer Sundeep Muniswamy geskend het. Die PSI het versuim om hom op 28 Junie 2011 teen ’n aanval deur ’n oproerige skare te beskerm. Die Kommissie het die PSI aan menseregteskendings skuldig bevind en het nie net beveel dat die regering van Karnataka dissiplinêre stappe teen die PSI neem nie, maar ook dat 20 000 roepee (R3 600) as vergoeding aan broer Muniswamy betaal word. Die Kommissie het die regering beveel om die bedrag van die PSI se salaris af te trek.

Broer Muniswamy het gesê dat hy en sy gesin dankbaar is teenoor Jehovah vir hierdie merkwaardige beslissing en vasbeslote is om aan te hou om die goeie nuus moedig te verkondig. Die beslissing het die broers se geloof versterk en hulle groter vertroue gegee in Jehovah se vermoë om sy volk te beskerm. Dit stuur ook ’n kragtige boodskap aan die owerhede om die menseregte van Jehovah se Getuies in Karnataka te beskerm. ’n Strafsaak teen broer Muniswamy en ’n ander broer, wat met dieselfde voorval verband hou, moet nog deur die howe verhoor word.

KIRGISTAN Konstitusionele Kamer van die Hooggeregshof handhaaf reg op gewetensbeswaar

Die 19de November 2013 was ’n betekenisvolle dag vir almal wat diensplig weier weens gewetensbeswaar. Die Konstitusionele Kamer van die Hooggeregshof het ’n beslissing gelewer in die sake van 11 Getuies van Jehovah en gesê dat Kirgistan se program van alternatiewe burgerlike diens ongrondwetlik is. Die wet het vereis dat diegene wat alternatiewe diens verrig, geld direk aan die weermag moet betaal om militêre bedrywighede te ondersteun. Die wet het ook vereis dat gewetensbeswaardes by die reserwetroepe van die weermag moet aansluit nadat hulle hulle alternatiewe diens voltooi het. Die Konstitusionele Kamer het beslis dat dit ’n skending van die reg op godsdiensvryheid is om gewetensbeswaardes te verplig om alternatiewe diens onder sulke omstandighede te doen. Gevolglik het die Hooggeregshof van Kirgistan gedurende die eerste paar maande van 2014 die beslissing van die Konstitusionele Kamer toegepas en 14 Getuies van Jehovah kwytgeskeld wat onder die vorige wet strafregtelik vervolg is. Hierdie gunstige beslissings beëindig ’n sewe jaar lange stryd vir die reg op godsdiensvryheid as gewetensbeswaardes. Die vasbeslotenheid van hierdie vreedsame jong mans verheerlik Jehovah se naam en bevorder ons godsdiensvryheid in die Republiek van Kirgistan.

Kirgistan: Getuies wie se sake voor Kirgistan se hoogste hof verhoor is

NIGERIË “Jehovah het my beloon”

In die staat Abia, Nigerië, word Jehovah se Getuies dikwels gedreig en verstoot omdat hulle weier om aan te sluit by assosiasies vir spesifieke ouderdomsgroepe. * Hulle gemeenskapsbedrywighede sluit dikwels geweld en spiritistiese ritusse in. Vroeg een oggend in November 2005 het lede van die assosiasie van Asaga Ohafia in die huis van broer Emmanuel Ogwo en sy vrou ingekom en al hulle besittings ten onregte as betaling vir lidmaatskap geneem. Al wat die egpaar oorgehad het, was die klere aan hulle lyf. In 2006 het die gemeenskap broer Ogwo uit sy huis en dorp verdryf. Broer en suster Ogwo is ingeneem deur ’n broer in ’n ander dorpie, waar daar in hulle behoeftes voorsien is. Hoewel broer Ogwo die volgende jaar na sy huis teruggekeer het, was daar voortdurend druk op hom geplaas om by die assosiasie aan te sluit en is sy versoeke om sy eiendom terug te kry, geïgnoreer.

Op 15 April 2014 het die Hooggeregshof van die staat Abia uiteindelik ten gunste van broer Ogwo beslis en sodoende sy grondwetlike reg op vryheid van assosiasie en godsdiensvryheid gehandhaaf. Broer Ogwo se geplunderde eiendom is aan hom teruggegee, die Getuies word nie meer so sleg deur die gemeenskap behandel nie en die broers in Asaga Ohafia preek nou vryelik in die gemeenskap.

Toe die hof sy beslissing gelewer het, het broer Ogwo gesê: “Ek het gespring van vreugde. Ek was baie bly. Ek het gevoel dat Jehovah die saak gewen het en dat die engele met my was. Jehovah het my beloon.”

RUSLAND ’n Beslissing ten gunste van jw.org

Die talle uitdagings in verband met regsake waarvoor ons broers in Rusland te staan gekom het, het “eerder op die vooruitgang van die goeie nuus as op iets anders uitgeloop” (Fil. 1:12). Hoewel party regeringsamptenare en godsdiensleiers ons aanbidding hewig teëstaan, handhaaf ons broers in Rusland hulle onkreukbaarheid, en Jehovah seën hulle pogings.

’n Voorbeeld hiervan is ’n regsoorwinning in die stad Twer’. In 2013 het die aanklaer se kantoor in Twer’ ’n klag by ’n plaaslike hof ingedien om jw.org regoor Rusland te verbied. Die hof het geen verteenwoordigers van Jehovah se Getuies van die verhoor in kennis gestel nie en ten gunste van die aanklaer beslis. Ons broers het te hore gekom van die hof se beslissing en appèl aangeteken. Op 22 Januarie 2014 het die streekhof van Twer’ die laer hof se beslissing ongeldig verklaar en in ons guns beslis. Danksy Jehovah se hulp en die gebede van die internasionale broederskap kan die meerderheid van ons Russiese broers nou die talle geestelike voordele daarvan geniet om jw.org te gebruik.

TURKYE Gaan voort om reg op gewetensbeswaar teen diensplig te ignoreer

Bariş Görmez, een van Jehovah se Getuies in Turkye, was vier jaar lank in die tronk omdat hy geweier het om in die weermag te dien. Terwyl hy in aanhouding was, het hy wrede behandeling verduur deur militêre polisiemanne wat hom geskop en met knuppels geslaan het. Hy het ook gely terwyl hy in die tronksel was. Omdat broer Görmez meer as twee meter lank is, kon hy nie slaap op die bed wat hy gegee is nie. Hy moes in ’n ongemaklike posisie dwars oor twee beddens slaap. Uiteindelik het die tronkowerheid hom toestemming gegee om ’n groter matras te kry, wat deur die plaaslike gemeente voorsien is.

In 2008 het broer Görmez en nog drie Getuies ’n aansoek by die Europese Hof van Menseregte ingedien, waarin hulle aangevoer het dat Turkye hulle godsdiensvryheid geskend het deur hulle reg op gewetensbeswaar te ignoreer. Op 3 Junie 2014 het die Hof ten gunste van die vier Getuies * beslis en die Turkse regering beveel om skadevergoeding te betaal en die broers se onkoste te dek. Dit is die derde keer dat die Europese Hof ten gunste van Jehovah se Getuies en teen Turkye ’n beslissing lewer oor hierdie kwessie. Hoewel geen Getuies van Jehovah tans in Turkye in die tronk is nie, sal die geskil nie heeltemal opgelos wees totdat Turkye die reg op gewetensbeswaar teen diensplig erken nie.

Die jongste nuus in verband met vorige verslae

Azerbeidjan: Die broers verduur nog steeds die ontwrigting van hulle vergaderinge deur die polisie, sensuur op hulle godsdienslektuur, inhegtenisnemings terwyl hulle preek en ander menseregteskendings. Intussen weier die regering nog steeds om toestemming te gee dat die Godsdiensorganisasie van Jehovah se Getuies weer geregistreer word. Negentien versoeke teen Azerbeidjan in verband met hierdie kwessies is by die Europese Hof van Menseregte ingedien. Ten spyte van hierdie beproewinge is die voortdurende toename in die aantal verkondigers ’n duidelike bewys van Jehovah se seën. Die vrystelling van die volledige Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif in Azerbeidjans was ’n verdere rede tot blydskap.

Eritrea: Ons broers in hierdie land hou aan om Jehovah getrou te dien ondanks hewige vervolging. Drie broers, Paulos Eyassu, Isaac Mogos en Negede Teklemariam, is nou al 20 jaar lank in die tronk—sedert 24 September 1994. Die owerheid van Eritrea het omtrent 150 Getuies en belangstellendes by die Herdenking van Christus se dood op 14 April 2014 in hegtenis geneem. Hulle ouderdomme het gewissel van 16 maande tot meer as 85 jaar. Die owerheid het nog omtrent 30 Getuies en belangstellendes gedurende die spesiale toespraak op 27 April 2014 in hegtenis geneem. Die meeste is sedertdien vrygelaat.

Kazakstan: Die Agentskap vir Godsdienssake het die invoer en verspreiding van 14 van ons publikasies in die Republiek van Kazakstan verbied. Wat meer is, ons broers is beperkings opgelê wat dit vir hulle moeilik maak om buite hulle geregistreerde plekke van aanbidding met ander oor hulle oortuigings te praat. En ongeveer 50 broers is aangekla van onwettige sendingbedrywigheid en skuldig bevind. Om individue se vryheid van spraak te verdedig, is 26 klagtes by die Verenigde Nasies se Menseregtekomitee ingedien.

^ par. 4 Dit is ’n gewetensaak om alternatiewe burgerlike diens te doen of nie.

^ par. 13 Hierdie assosiasies bestaan uit individue, gewoonlik mans, van dieselfde ouderdom wat in dieselfde dorpie woon.

^ par. 21 Buldu and Others v. Turkey, Nr. 14017/08, 3 Junie 2014.