Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 DIE DOMINIKAANSE REPUBLIEK

Wie is die hoof?

Wie is die hoof?

‘Laat hulle broederskap sonder ’n hoof’

Op 13 Julie 1957 het die inspekteur Colón aan die Minister van Buitelandse Sake geskryf: “Daar is ’n gewilde ou gesegde wat lui: ‘Jy moet ’n slang se kop afkap.’ ’n Belangrike stap om die sekte Jehovah se Getuies uit die land uit te roei, is om op die een of ander manier van hulle sendelinge ontslae te raak. Dit sal hulle broederskap sonder ’n hoof laat, en dan sal hulle idees geen sukses behaal nie.”

Kort daarna het die minister van veiligheid, Arturo Espaillat, die tien oorblywende sendelinge beveel om die land te verlaat. Op 21 Julie 1957 het Roy Brandt in ’n brief aan Trujillo om ’n afspraak gevra sodat hy ons situasie kon verduidelik. Die brief het deels gesê: “Die haatveldtog wat sekere mense in die land teen die naam van Jehovah God voer, is dieselfde as die veldtog wat oningeligte mense teen Jesus se apostels gevoer het.” Broer Brandt het Trujillo toe aangespoor om Handelinge hoofstuk 2 tot 6 te lees en het verduidelik: “Die logiese en reguit raad wat die regter Gamaliël gegee het, is vandag net so goed as wat dit destyds was.” Broer Brandt het toe in hoofletters Handelinge 5:38, 39 aangehaal:  ‘MOET JULLE NIE MET HIERDIE MANNE BEMOEI NIE, MAAR LAAT STAAN HULLE, WANT AS HIERDIE WERK UIT GOD IS, KAN DAAR MISKIEN BEVIND WORD DAT JULLE EINTLIK TEEN GOD STRY.’ Maar sy versoek het op dowe ore geval. Op 3 Augustus 1957 is die sendelinge na die lughawe geneem en gedeporteer.

‘Jesus is die hoof’

Donald Nowills het na die werk by die takkantoor omgesien toe hy net 20 jaar oud was

Wat sou met die plaaslike broers en susters gebeur noudat die sendelinge weg was? Sou hulle “sonder ’n hoof” wees, soos inspekteur Colón voorspel het? Nee, want Jesus “is die hoof van die liggaam, die gemeente” (Kol. 1:18). Daarom is Jehovah se volk in die Dominikaanse Republiek nie “sonder ’n hoof” gelaat nie. Jehovah en sy organisasie het eerder voortgegaan om na hulle om te sien.

 Donald Nowills, wat aangestel is om oor die werk by die takkantoor toesig te hou nadat die sendelinge gedeporteer is, was net 20 jaar oud en slegs vier jaar gedoop. Hoewel hy ’n paar maande lank as ’n kringopsiener gedien het, was die werk by die takkantoor vir hom heeltemal nuut. Broer Nowills het ’n beskeie kantoortjie gehad in sy hout-en-sinkplaat-huis, wat ’n grondvloer gehad het. Dit was geleë in Gualey, ’n baie gevaarlike deel van Ciudad Trujillo. Met die hulp van Félix Marte het hy vir die hele land kopieë van Die Wagtoring gemaak.

’n Gemimeografeerde Wagtoring van 1958

Mary Glass, wie se man, Enrique, destyds in die tronk was, het broer Nowills gehelp. Sy verduidelik: “Ek het my sekulêre werk gewoonlik vyfuur die middag verlaat en na broer Nowills se kantoor gegaan om Die Wagtoring te tik. Dan het broer Nowills op ’n mimeograaf kopieë daarvan gemaak. Daarna het ’n suster van Santiago, met die kodenaam ‘die engel’, die gemimeografeerde tydskrifte onder in ’n leë [20 liter-] plantolieblik gesit. Dan  het sy ’n doek oor die lektuur gesit en dit met broodwortels, aartappels of taro’s bedek. En daarna het sy ’n goiingsak daarop gesit. Dan het sy met openbare vervoer na die noorde van die land gereis en een kopie by elke gemeente gelaat. Gesinne het beurte gemaak om daardie kopie te leen sodat hulle dit saam kon bestudeer.”

“Ons moes baie versigtig wees”, voeg Mary by, “aangesien die strate gewemel het van regeringsagente wat probeer uitvind het waar Die Wagtoring gedruk word. Maar hulle het nooit nie. Jehovah het ons altyd beskerm.”